GROOTOOG

Deur jou gelaatstrekke groter te laat lyk, kan jy jou gesig smaller laat lyk. Vir groot oë, het jy groot wimpers nodig. Wend minstens twee lae maskara aan en kies ’n verlengende en ’n verdikkende maskara. Wend die verlengende maskara diep aan die wortels van jou wimpers en borsel opwaarts. Volg op met die verdikkende maskara, maar fokus nou daarop om die maskara in die buitehoeke van die wimpers op te bou. Vir jou oogpotlood, kies ’n oogomlyner wat maklik aan die oogarea aanwend. Omlyning aan die binnekant van die oog laat hul vorm meer uitstaan. Jy kan ook jou oë laat groter lyk deur die onderste binnerand met ’n wit oogomlyner te omlyn. Vir ’n belangrike aandjie kan jy vals wimpers oorweeg.

BLOSENDE WANGE

Reinig, verfris en bevogtig jou gesig voor jy onderlaag aanwend. Dit sal ’n gladde afronding bevorder. Gebruik ’n langdurige onderlaag wat vir jou vel geskik is. Daggrimering is gewoonlik ligter, daarom moet skadu’s subtieler wees as vir die aand. Gebruik ’n blosserstel met drie skakerings wat vir skadu en aksent ontwerp is of kies drie skakerings – lig, medium en donker – van dieselfde kleur. Wend ’n laag van die donkerste skakering onder die wangbeen aan van die buitehoek van die oog na die oor toe. Kies die mediumskakering blosser en vee die kleur oor die wangbeen – laat dit met die donker skakering oorvleuel vir ’n subtieler voorkoms. Wend dan die aksentkleur aan die bokant van die wangbeen aan – nie nader nie as twee vingers van die oë af. Wannneer jy dit aanwend, gebruik net ’n vingerbreedte aksentkleur. Wend nog ’n veeg skadukleur onder die wangbene aan, indien nodig.

PRUILMOND

Hoe voller jou lippe is, hoe smaller sal jou gesig lyk. Vryf jou lippe af met ’n warm nat lap. Lipglans wat jou lippe uitplomp, sal die bloedvloei verhoog en die lippe voller laat lyk en meer kleur gee. Die glans sal blinkheid en vog verskaf. Omlyn en kleur dan jou lippe in met ’n ligbruin of vleeskleurige lipomlyner.

Deur: Anja Joubert