Collage

STADSJAAP is van mening dat Suid-Afrika wemel van sterre en bekendes wat dit regkry om aandag te trek: jonge (en oue) here wat weet hoe en wat om aan te trek om goed te lyk en aandag te trek.

Vandeesweek het Stadsjaap gaan gesels met juis so ’n jonge heer – die aanbieder van die Kyknet-programme Ser en Kollig, Marco Spaumer. Nou kyk, Stadsjaap het nog nooit tyd gehad vir opgesmukte bekendes wat niks anders as die agterkant van hul eie ooglede raaksien nie. En soms is Stadsjaap nie verbaas as hy sien hoe party van ons land se bekendste sterre eenvoudig nie weet hoe om goed te lyk nie. Diksool-skoene hoort in die 90’s, gebleikte kuiwe is lankal uit en ’n uitspattige goue baadjie met ’n luiperdmotief is al klaar te veel vir die verhoog, wat nog te sê vir ’n inkopietog. Gelukkig is daar darem bekendes wat dit wel regkry, en in hierdie eerste aflewering van Stylikoon! is Stadsjaap bevoorreg om met Marco te gesels. Met sy warm en aangename geaardheid is hierdie man geensins ’n performer nie. Stadsjaap het hom so ’n bietjie uitgevra oor sy eie styl. Jonger lesers kan sy styl gerus maar dophou; daar is baie om te leer! Marco, Stadsjaap is van mening dat jy ’n ware stadsjaap is. Wat dink jy? O ja, beslis. Al kom ek van die plaas af, is die stad my huis en is ek verlief op die liggies en die vinnige pas. Jou styl is hier in die kol(lig). Hoe sal jy jou eie styl beskryf? Ek het baie geleer in my tyd by Kollig; een van die regisseurs het my onder sy vlerk geneem en raad gegee. Ek is dus nou beter hiermee as wat ek was. My eie styl is baie informeel: ek hou van kaalvoet wees en ook baie van aardse kleure, so neutraal moontlik. Jy is een van 'n tweeling. Verskil jul smaak baie as dit by voorkoms kom? En deel julle soms ’n broek en ’n hemp? Hy leer nou weer by my! Hy vra altyd raad en ek help waar ek kan, maar ons smaak is baie dieselfde. Wat aan my goed lyk, lyk goed aan hom. So ja, ons deel gereeld. Wat dink jy is die vyf noodsaaklikhede in enige man se klerekas? Chino’s, ’n netjiese paar skoene, ’n swart en bruin belt, ’n dun das en een of meer formele hemde Stadsjaap wonder soms of die ontwerpers van mansklere regtig hul mark ken. Wat dink jy? Ek dra bitter min ontwerpersklere, maar dit is dalk waarom. Dis nie toeganklik of eenvoudig genoeg vir alledaagse mans nie. Ek is maar versigtig! Bruin of swart skoene? En pas jy altyd jou belt daarby aan? Dit hang van die uitrusting af, maar ek hou van die klassieke swart paar skoene. En ja, danksy Stadsjaap se raad maak ek seker hulle pas! Dis belangrik, ouens! Stadsjaap se oom Faans van Delareyville het toentertyd ’n ou kabeltrui aan hom bemaak. Het jy self ook so erfstuk? Ja! My oupa se broer se troupak. Swart en antieksjiek. Ek het dit laat afwerk en aanpas om my te pas. Ek het hom vanjaar by Huisgenoot se Tempo- toekennings gedra. Beste aankoop ooit? Chino’s! Stadsjaap vra: wie dink jy is stylikone in Suid-Afrika? Lee Scott en Katlego Maboe en elke nou en dan Bobby van Jaarsveld Daar is ’n mening dat mansklere eerder gemaklik as netjies afgewerk moet wees. Stem jy saam?

Definitief! Ons soek soveel gemak as moontlik terwyl ons steeds mense se koppe laat draai.

Oor Marco se styl seg Stadsjaap:

Marco se styl wissel van klassieke, gemaklike stukke (chino’s en hemp) tot byderwetse items (soos motiefhemde). Hy kombineer verskillende kleedstowwe om indruk te skep en is beslis nie bang om te eksperimenteer nie. Sy persoonlike styl is in pas met sy gemaklike persoonlikheid, en hierdie jong Stylikoon! is beslis ewe gemaklik in ’n formele aandpak (wat netjies afgewerk is!) as in ’n T-hemp en jeans.

Marco kry dit reg om gemaklik te lyk sonder om slordig voor te kom. Manne, neem kennis: ’n netjiese haarsny en skoon geskeerde voorkoms of versorgde baard sal jou verder bring as ’n ontwerpershemp. Soos Marco is Stadsjaap nie altyd ten gunste van ontwerperstukke nie – ’n netjies passende kledingstuk is ewe treffend as ’n hemp wat ’n lappie grond se prys kos.

Op die foto hieronder dra Marco sy formele uitrusting perfek: Die baadjie pas goed, die wit hemp is natuurlik ’n wenner by enige formele geleentheid, en die nou swart das rond die uitrusting volmaak af. Die metaalkleur van die pak is steeds groot modenuus.

Aandpak

Hier is Marco saam met sy medeaanbieders Kim Cloete en Johnny Davids. Gemaklik is die sleutelwoord! Marco kombineer ’n eenvoudige wit T-hemp met ’n V-nek (’n moethê-item vir elke klerekas) met ’n informele langbroek waarvan hy die pype oprol (nog ’n groot lente-modegier). Sy oopgeknoopte langmouhemp gee ’n eenvoudige uitrusting in ’n interessante voorkoms wat Stadsjaap aan sy jonger dae herinner . . .

Marco Spaumer, Kim Cloete and Johnny Davids

Dié hemp en jeans is perfek vir ’n aand saam met vriende by ’n restaurant, of ’n skemerkelk-geleentheid. Marco dra ’n gier wat nog oral begin kop uitsteek: ’n kortmouhemp wat tot heel bo toegeknoop word. Die toeknopery verander die informele hemp met sy militêre afwerkings (epilette) in ’n semi-formele maar gemaklike uitrusting. Marco kombineer dit volmaak met donker jeans wat met sy ligter hemp kontras skep. Die uitrusting word afgerond met ’n swart belt en swart skoene (wat beter by ’n aanduitrusting pas as ’n bruin belt en skoene).

Jeans1

Marco se uitrusting hieronder kombineer ’n gholfhemp met ’n oortrui. Sy broek se ligte kleur is in kontras met die donker trui. Sy netjiese langbroek is minder formeel met die gholfhemp, maar die oortrui skep goeie balans tussen te gemaklik en te formeel. Stadsjaap reken in hierdie uitrusting sou bruin skoene en ’n dun bruin belt baie goed werk.

kortmou1

Stadsjaap seg: ’n 10 op die Jaapskaal vir Marco! Dié opkomende ster verdien Stylikoon!-status. Welgedaan!

StadsjaapStadsjaap en sy mater Metroman blog vir Huisgenoot oor mode-idees vir mans wat skaflik en modern wil lyk sonder om ’n plaas se geld te betaal of soos ’n pronkende pou te lyk. Soek jy moderaad? Vra dit gerus op hul webtuiste, hul Twitter-rekening (@stadsjaapinfo) of op Facebook.