Ons modeblogger Stadsjaap gesels met die sanger Heinz Winckler oor sy styl en leer ’n ding of twee. Heinz met serp en oopnek-hemp en baadjie AS EEN van Suid-Afrika se bekendste vermaaklikheidsterre is Heinz Winckler nie net ’n sangsensasie nie, maar ook ’n stylikoon. Hy’t in 2001 SA se eerste Idols gewen en is vandag een van die bekendste stemme in Afrikaanse musiek. Heinz se treffende uitrustings op en af van die verhoog maak hom ons derde Stadsjaap-Stylikoon! Hoor ’n bietjie wat het die man alles oor sy styl te sê het . . . Heinz, Stadsjaap is van mening dat jy nie net ’n Idol is nie, maar ook ’n Stylikoon! uit eie reg. Wat dink jy? Dankie! Man, wat ek weet is dat ek baie lief is vir stylvolle klere en ’n oog het vir duursame goed. Ek het nie altyd die begroting vir wat ek graag sou wou dra nie, maar tussen my instink en my vrou se talent en beroep deur [Aletté-Johanni is ’n voorkomskonsultant en stilis], en natuurlik ook met die hulp van [die Gautengse ontwerper] Diaan Daniels, is ek die meeste van die tyd baie gelukkig met hoe ek lyk. As ander ook so dink, is dit ’n bonus! [caption id="attachment_2434" align="alignnone" width="300"]Heinz en sy vrou, Aletté JOhanni Heinz en Aletté-Johanni[/caption] Dink jy Suid-Afrikaanse mans het styl? Moeilik om ’n oordeel te vel oor om en by 25 miljoen mans . . . Maar as ons net na die SA vermaaklikheidsbedryf kyk, sou ek sê mans se versorging en styl het die afgelope vyf jaar baie verbeter. Daar is definitief ’n sterker bewustheid van wat stylvol is en meer moeite word gedoen om by te bly met trends. Kortbroeke en T-hemde is wat baie mans in SA as hoogmode beskou. Dink jy SA mans is in die kol? ’n Kortbroek en T-hemp is baie prakties in warm, sonnige SA. Ek self dra meestal dit in die somer. Maar soos met enige ding is daar kortbroeke, en daar is kortbroeke. ’n Mens kan baie stylvol lyk in ’n goed gesnyde broek gemaak van goeie materiaal, en ’n T-hemp wat by die broek pas en ’n stylvolle, kontemporêre ontwerp op het wat by jou persoonlikheid pas. Wat jy aan jou voete dra is duideliker wanneer jy ’n kortbroek dra en dis ook belangrik. Ek verkies ’n paar weggesteekte sokkies en kleurryke sneakers wat saam met die broek en hemp werk.

'Ek kan nie verstaan hoekom mense ontwerpe met kopbene in wil dra nie'
Jou persoonlike styl lyk of dit gemaklik is, maar terselfdertyd ook dié van ’n stadsjaap . . . Ja, ek is seker maar ’n stadsjaap, hoewel ek myself meer as ’n dorpsjaap beskou omdat ek die grootste deel van my lewe in Stellenbosch deurgebring het. Ek glo ek kan by verskillende omstandighede aanpas, maar ek is maar op my gemaklikste en gelukkigste in mooi, gemaklike klere. Wat of wie beïnvloed jou persoonlike styl? I love Italian styles for suits and shirts and then I think these guys have great taste: Ryan Reynolds, Brad Pitt (veral sy karakter in Ocean’s Eleven), Justin Timberlake, David Beckham, Ryan Gosling. Plaaslik dink ek Nico Panagio en Danny K het awesome styl. Wat verkies jy? Winter of somer? Somer Strand of skemerkelk? Strand Plakkies of toerygskoene? Plakkies Wat is volgens jou die vyf moet-hê items in elke man se klerekas?

  • ’n Klassieke swart aandpak wat nommerpas vir jou gemaak is
  • Een wit en een swart aandhemp wat ook vir jou gemaak is
  • ’n Paar leerskoene van gehalte (wat jy verkieslik gereeld skoonmaak; ek preek hier vir myself ook)
  • ’n Mooi serp, verkieslik kleurryk en wat by ’n paar goed in jou kas pas
Heinz met serp Wie koop jou klere? Ek is getroud met ’n voorkomskonsultant en stilis! Ek het dus ’n onregverdige voordeel . . . Ek hou daarvan om te dink ek het ’n goeie instink vir die goed, maar sy is ’n groot hulp en as sy nie saam met my klere koop nie, verras sy my soms met iets nuuts. Stadsjaap se geliefde tant Miems het ’n kleintjie dood aan ’n jong man wie se skoene die stof van die plaas stad toe bring. Het jy ook so ’n irritasie? Ek het ’n kleintjie dood aan die tendens om kopbene by ontwerpe in te werk. Jy sien dit oral en ek verstaan dit glad nie. ’n Skedel of kopbeen simboliseer tog dood – hoekom sal jy dit met jou wil ronddra? Jou musiekvideo’s is altyd ’n stylinspirasie! Stadsjaap wonder: Wie stileer jou of besluit wat jy gaan aantrek? Dis vir my belangrik wat die algemene gevoel van die musiekvideo is en wat elke karakter, orkeslid en natuurlik ek dra, speel ’n rol daarin. Verskillende mense het al daarmee gehelp. [Die bekende regisseur] Pierre Smith het tot dusver die meeste van my Afrikaanse musiekvideo’s gemaak en ek werk gewoonlik saam met sy span om die voorkoms te kry. Met die laaste paar video’s het my vrou en ek saam aan voorstelle gewerk. Met beperkte begrotings is dit ’n uitdaging, maar ons is gewoonlik tevrede met die eindresultaat. Oor Heinz se styl seg Stadsjaap

1 Hy weet hoe om sy hemp en kraag te kies

Heinz winckler Hemp en kraag

Heinz kombineer ’n eenvoudige wit hemp met ’n stylvolle, netjies passende swart baadjie met ’n streep in. Hierdie voorkoms is perfek vir ’n stylvolle aand uit. Stadsjaap het al baie geskryf oor die diversiteit van die wit hemp en Heinz beklemtoon met hierdie uitrusting die krag daarvan. Let veral op die breë kraag wat baie goed werk sonder ’n das. Die uitrusting kan natuurlik formeel wees sou ’n swart das daarmee gekombineer word.

2 Hy weet hoe om aandag te trek met sy klere

Blokkiesbaadjie

As jy wil aandag trek, is ’n formele baadjie met ’n interessante patroon net die item om te dra! Heinz se treffende baadjie met blokkiemotief is in die kol. Simmetriese patrone het die loopplank die afgelope paar seisoene oorheers. Heinz se baadjie het ’n wit omlyning en interessante mou-afwerking wat die uniekheid daarvan beklemtoon. Dié baadjie gaan jy nie in elke winkel raakloop nie. Kombineer ’n soortgelyke baadjie met ’n eenvoudige hemp aangesien te veel patrone jou meer na ’n optiese illusie as ’n stylikoon sal laat lyk. Heinz is in die kollig, en sy baadjie ook!

3 Hy weet hoe om patrone en teksture te kombineer

serp

Nou kyk, daar is min dinge wat Stadsjaap so beïndruk soos ’n man wat ’n serp reg kan dra. Heinz se voorkoms is gemaklik en stylvol. Hy kombineer verskillende teksture (leer en materiaal) om ’n byderwetse voorkoms te skep. Sy kombinasie van verskillende patrone (serp en T-hemp) werk goed saam omdat die twee patrone nie met mekaar stoei om aandag te trek nie. Heinz se serp is die fokuspunt van hierdie voorkoms. Hy rond die uitrusting perfek af met ’n swart leerbaadjie wat die onderskeie patrone breek. Stadsjaap is van mening dat ’n serp in ’n ander kleur net so goed by hierdie uitrusting kan werk.

 4 Hy weet hoe om tegelyk deftig, stylvol en gemaklik te wees Heinz in 'n pak ’n Persoonlikheid wat pal in die openbare oog is, moet klere dra waarin hy gemaklik is, maar steeds goed lyk. Nou kyk, Stadsjaap se vriende is dit eens: Gemak en styl sit nie altyd langs dieselfde vuur nie. Heinz se uitrusting demonstreer ’n belangrike punt: Die oomblik as jy nie gemaklik in jou eie klere is nie, gaan almal sien jy is ongemaklik. Sy treffende das met ’n amperse paisley-motief (groot modenuus op die oomblik!) is die fokuspunt van sy uitrusting. Sy kleurryke hemp maak die formele uitrusting ’n bietjie meer gemaklik. Hy kon ewe goed ’n wit of swart hemp gedra het saam met die uitrusting, maar dit sou alles baie formeler laat lyk het. Let veral op die afwerking van Heinz se pak! Stadsjaap het by ’n vorige geleentheid gesels oor hoe treffend ’n dubbelnaat op die rande van ’n baadjie is. In Heinz se pak is dit baie subtiel, maar dadelik opvallend. Deur ’n gekleurde hemp te dra, stel hy is baie duidelike punt: Formeel hoef nie boring te wees nie. Vir ’n baie formele geleentheid, moet Stadsjaap net noem, is ’n wit hemp die voorkeur-keuse. Stadsjaap seg Heinz is ’n ikoon aan die musiekfront, maar as dit kom by styl is hy definitief ’n ikoon uit eie reg. Met sy unieke formele uitrusting en interessante kombinasies van kleur en patrone kry hy dit reg om aandag te trek. Voorwaar ’n Stylikoon! Op die JaapSkaal kry Heinz . . . Tien uit tien

Groetnis,

Stadsjaap en Metroman

StadsjaapStadsjaap en sy mater Metroman blog vir Huisgenoot oor mode-idees vir mans wat skaflik en modern wil lyk sonder om ’n plaas se geld te betaal of soos ’n pronkende pou te lyk. Soek jy moderaad? Vra dit gerus op hul webtuiste, hul Twitter-rekening (@stadsjaapinfo) of op Facebook.