Ons modeblogger Stadsjaap vra die Mnr. SA-finalis Calvin Petersen uit oor sy styl en word ’n paar nuwe modekunsies wys.

Colalge STADSJAAP gesels vandeesweek met Calvin Petersen (25), wat ’n finalis in die Mnr. SA-wedstryd was en nou die aand by die kroningsgeleentheid met die Mnr. Persoonlikheid-titel weggestap het. Stadsjaap was glad nie verbaas oor hierdie toekenning nie! Calvin het ’n unieke aanslag, en dit sluit sy styl in. In hierdie tweede aflewering van Stylikoon! het ons hom gepols oor hoe hy dit regkry om altyd so keurig te lyk. Heel onder deel hy ook sy gunsteling-voorkomste en Stadsjaap maak ywerig aantekeninge . . . Calvin, dink jy styl het iets daarmee te doen dat jy ’n finalis in die Mnr. Suid-Afrika-wedstryd was? Ja, definitief. Ek glo ’n mens se styl weerspieël wie jy is, jou emosies, gedagtes, belangstellings en waardes. Die buitekant is ’n weerspieëling van wat binne-in is. En as ’n mens goed voel, gaan jy goed lyk. Wat beskou jy as die definisie van styl? Jy moet met jou persoonlike styl kan uitbeeld wie jy is. As ’n mens gemaklik is met jouself, gaan jou styl dit vanself wys. Wat dink jy is die belangrikste dinge wat ’n mens goed oor jouself laat voel? Het dit net met voorkoms te doen? Wees trots op jouself, glo in jou waardes en wees tevrede met jouself. Sodra jy dit kan doen, gaan jy outomaties ’n goeie selfbeeld uitstraal. Ek glo wel dit is belangrik om goed te lyk, want dit wys selfrespek. Dink jy Suid-Afrikaanse mans het styl? Dit hang af van jou omgewing en wat jou omgewing van jou vereis. Dit is nie altyd prakties om jou styl uit te leef in jou daaglikse doen en late nie. As die geleentheid geskep word, kan enige man stylvol lyk. Speel geld ’n rol in ’n mens se styl? Nee, geld kan nie styl koop nie. Daar is deesdae so baie verskaffers in die mark dat daar vir elke inkomste voorsiening gemaak word. ’n Mens hoef nie altyd die duurste ding te hê om goed te lyk nie. Met die regte kombinasie vir die regte geleentheid kan enigiemand goed lyk. Wat sou jy as jou unieke styl beskryf? Dis vir my belangrik om altyd gemaklik te voel in wat ek aanhet. In die korporatiewe omgewing is ek meer formeel, en daarbuite hang dit van die geleentheid af. My wagwoorde is gemaklik en modern. Wat was jou beste klerekopie ooit? My leerbaadjie en ’n getailleerde pak. Wat is die topvyf wenke wat jy vir ander jong mans oor hul klerestyl sal gee?

  • Wees gemaklik met wat jy dra.
  • Straal selfvertroue uit.
  • Neem die geleentheid in ag.
  • Sien na jouself om en versorg jouself.
  • Hou modeneigings in gedagte.
Wat verkies jy? Baadjie of trui? Trui Knoophemp of T-hemp? Knoophemp Langbroek of kortbroek? Langbroek Formele of informele geleenthede? Formele geleenthede ’n Mens wonder soms of daar iemand is wat bekendes soos jy help om goed te lyk. Of staan jy soggens op en besluit vandag is dit my blou hemp en kakiebroek? Elke dag is maar vir my ook ’n verrassing. Dink dit hang af van jou gemoedstoestand, die weer, wat alles die dag op jou wag, en so aan. Stadsjaap is van mening dat gemak van kardinale belang is. Wat is jou gemaklike” klere? T-hemp, jeans en plakkies. Ek is mal oor die strandgevoel! Oor Calvin se styl seg Stadsjaap

Geen wonder Calvin straal ’n stille selfvertroue uit nie, want behalwe stylikoon is hy ook ’n diepseun. Hy het sy B.Com.-graad met ’n onderskeiding geslaag en is tans ’n finansiële raadgewer in Kaapstad. Hy is baie gelowig en gee een keer per week geestelike leiding by die Pollsmoor-gevangenis.

Wat sy klerestyl betref, is een van sy vele talente dat hy die gawe het om kleure en teksture te kombineer. Hier is ’n paar kunsies wat Stadsjaap beslis by hom gaan afkyk:

1 Die geheim van denimhemde dra

CALVIN 1

Stadsjaap het al dikwels genoem dat daar weinig items is wat so reg of verkeerd gedra kan word soos die denimhemp. Die probleem met die denimhemp is dat dit nie sommer by enigiets pas nie. Stadsjaap het ook al opgelet dat mense inherent daartoe geneig is om denim met denim te kombineer. Dit werk nooit, tensy daar ’n duidelik kontras in die kleure van die materiaal is. Calvin kry dit met hierdie voorkoms reg omdat hy baie kontrasterende denims kombineer. Die eenvoud van die hemp en die onafgewerkte voorkoms sorg vir gemak en skakel die risiko van oordaad uit, wat baie maklik gebeur as ’n mens ’n denimhemp aantrek.

’n Interessante beltgespe rond die voorkoms af. Let ook op dat Calvin se haarstyl netjies is en ’n goeie balans skep met die amper onafgewerkte voorkoms.

2 Kombineer teksture

CALVIN 2

A! Die selfie! Dis Stadsjaap se gunsteling-voorkoms dié. Kombineer ’n bonkige, neutrale trui met ’n eenvoudige T-hemp en selfs die koningin van Engeland sal jou in haar paleis toelaat. Neutrale klere laat ’n mens altyd selfversekerd lyk omdat dit nie “kyk my uitspattige rooi!” uitroep nie.

Calvin kry dit baie goed reg om hierdie uitrusting verder stylvol af te rond met die gebreide mussie en treffende belt.

Dié uitrusting is perfek vir ’n laatmiddagete saam met vriende, ’n oggend in die winkels of ’n aandjie uit saam met die manne om ’n bier te gaan drink.

Soos Stadsjaap al telkemale gesê het: Kombineer teksture en jy het ’n wenner beet.

3 Die somer is vir somerklere . . .

CALVIN 3

Dis somer, manne! Somer smeek vir kortbroeke, ligte hemde en lap wat asemhaal. Calvin kombineer ’n knielengte kortbroek met ’n langmouhemp van dun materiaal waarvan hy die moue oprol. Stadsjaap maan: Pak weg jou dik winterhemde! Selfs al rol jy jou moue tot by jou oksels op, gaan dit nie werk nie. Jy gaan warm kry en uit plek lyk.

Stadsjaap se wenk: Hou jou hemp voor ’n kamervenster waarvan die gordyne toegetrek is. As jy nie lig deur die hemp lig kan sien kom nie, is dit te swaar en winters. Dun stowwe wat kan asemhaal is perfek vir die strand en langs die swembad.

Maak soos Calvin en hang ’n dun trui of dun serp om jou skouers vir ekstra interessantheid. Dis ook groot modenuus om die trui om jou heupe te knoop – nes die kinders in die ’90’s gemaak het.

 4 . . . maar ook nie altyd nie!

CALVIN 4

Nie almal sal dié uitrusting ewe gemaklik kan dra nie omdat nie almal van ons arms soos kanonne het nie. Calvin kombineer ’n moulose baadjie in interessante blokkiesmateriaal met ’n ligte denim. Dis belangrik om maar jou moulose baadjie vas te knoop, tensy jy dit onder ’n eenvoudige baadjie as deel van ’n laag-op-laag-uitrusting dra.

Stadsjaap sou ook ’n kortbroek by dié uitrusting kon aanbeveel. Ja, dit klink dalk vreemd, maar die kombinasie van items uit verskillende seisoene is modenuus! Doen dit egter baie versigtig – oom Peet se jas van merinowol gaan nie op die strand deug nie.

5 Die krag van ’n kraag

Collar collage

Daar is weinig dinge wat Stadsjaap so opgewonde maak soos ’n interessante kraag. Die oorslaankraag wat Calvin regs  dra, is groot nuus. Motiewe op materiale bly in die kol en weer eens kry Calvin dit reg om ligte en donker kleure suksesvol te kombineer. Dié is beslis een van Stadsjaap se gunsteling- voorkomste!

6 Pakke en paisley

Suit colllage

Calvin wys ons op hierdie foto's presies hoe ’n formele pak gedra moet word. Links word dit netjies afgerond met ’n wit breëkraag-hemp wat die pak en die bonkige das perfek saamvoeg. Paisley (die motief op Calvin se das) is uit die 1980’s teruggebring en omtrent alles wat op die oomblik van lap gemaak kan word, dra hierdie motief. Stadsjaap maan: Bly weg van oordaad tensy jy wil hê mense moet in ongeloof na jou staar en wonder of jy blind is. Die subtiele paisleypatroon op Calvin se das is genoeg.

Sakdoekdriehoeke (regs) sal altyd ’n stylwenner wees – as jy wil weet hoe om dit te vou, gaan kyk hier.

Stadsjaap se grootste vrees (naas lelike sokkies) is dat iemand al die knope van ’n formele baadjie toeknoop. Maak soos Calvin en knoop net een toe. ALTYD!

Stadsjaap seg Stadsjaap is beïndruk met Calvin se veelsydige voorkomste. Hierdie jonge heer weet wat indruk skep! Gemaklike en treffende items is wagwoord in Calvin se kas. Voorwaar ’n stylikoon!

Groetnis,

Stadsjaap en Metroman

StadsjaapStadsjaap en sy mater Metroman blog vir Huisgenoot oor mode-idees vir mans wat skaflik en modern wil lyk sonder om ’n plaas se geld te betaal of soos ’n pronkende pou te lyk. Soek jy moderaad? Vra dit gerus op hul webtuiste, hul Twitter-rekening (@stadsjaapinfo) of op Facebook.