Maak seker jou vel is goed bevog met hierdie nuttige wenke vir elke velsoort.

VELSOORT: DROË VEL

Dié velsoort is uiters sensitief en geneig tot puisies, ekseem, plooie en rooiheid.

PROBLEEM

Die vel reageer sleg op uiterste weerstoestande. Grimering kan ook ’n laag vorm omdat dit nie goed met die vel saamsmelt nie. Kies produkte wat hialuronsuur en vitamien A en E bevat.

BOERERAAT

Jogurtmasker: Meng twee eetlepels jogurt, een eetlepel heuning en een eetlepel amandelolie.
Wend aan jou gesig. Spoel ná 15 minute met warm water af, druk droog en bevog.

WENK

Halveer jou tyd in die stort; die stoom en warm water stroop die vel van sy vog.

 
VELSOORT: OLIERIGE VEL

Hierdie soort vel is geneig om te blink weens die olievervaardiging en kan ook geneig wees tot aknee.

PROBLEEM

In warm temperature, soos in 'n oorverhitte vertrek of as jy te lank voor die kaggel sit, raak dit veral baie olierig. Selfs oogskadu gaan lê in die voutjies en onderlaag bly nie aan nie. Kies produkte wat salisielsuur en glikolsuur bevat.

BOERERAAT

Eierwitmasker: Skei die eier en plaas die eierwit in ’n koppie of klein bakkie. Wend die eier oor die hele gesig aan. Hou 15 minute aan. Spoel met warm water af, druk die vel droog en bevog.

WENK

Gebruik produkte in jel- en serumvorm; dis nie so swaar nie en hierdie soort vel absorbeer dit beter.


VELSOORT: KOMBINASIEVEL

Jou T-sone is olierig en die ander dele is droog. Dié velsoort is geneig tot swartkoppies en puisies.

PROBLEEM

Dis moeilik om vogprodukte te kry wat voorsiening maak vir dié kombinasievel. Kies produkte met hialuron-, glikol- en salisielsuur.

BOERERAAT

Piesangmasker: Druk ’n ryp piesang fyn tot dit ’n pasta vorm en wend aan die gesig. Los 10 minute aan. Spoel met warm water af, druk die vel droog en bevog.

WENK

Kies serums; dit word goed geabsorbeer en sorg vir egalige aanwending.

 
VELSOORT: ONEGALIGE GELAAT

Die T-sone is ligter en die buitelyn van die gesig donkerder.

PROBLEEM

Mense met dié velsoort sukkel om die regte onderlaag te vind omdat hulle gewoonlik twee kleure in ag moet neem. Kies produkte wat vitamien A en alfahidroksisuur bevat.

BOERERAAT

Suurlemoen-en-heuning-masker Meng twee teelepels vars suurlemoensap met een teelepel heuning. Wend aan en los 10 minute. Spoel met warm water af, druk droog en bevog.

WENK

Gebruik gesigwasmiddels wat geleidelik ontslae raak van merke sonder om jou natuurlike velkleur ligter te maak.
 

VELSOORT: VLEKKE

Dié velsoort het deurgeloop onder die son en het ouderdomsvlekke en akneelittekens.

PROBLEEM

Mense met vlekke op hul vel gebruik gewoonlik meer onderlaag om die foutjies te verbloem. Kies produkte wat vitamien A en C en alfahidroksisuur bevat.

BOERERAAT

Groenteemasker: Vee ’n afgekoelde, gebruikte groenteesakkie sagkens oor jou gesig. Los ongeveer 30 minute aan en spoel met warm water af.

WENK

Druk die vel droog en bevog. Los jou puisies – hoe meer jy daaraan druk, hoe erger gaan die littekens wees.

Ekstra bronne: Cosmopolitan.com, Paulaschoice.com, Refinery29.com