• Bevogtigende hawermout-en-amandel-afskilferaar   

Dit verwyder dooie selle, en die hawermout en amandel bied volop vog. Hawermout streel ook ’n sensitiewe vel.

1 teelepel hawermout

6 amandels

½ teelepel appelasyn

’n knippie sout

Maak die hawermout en amandels met ’n stamper en vysel of ’n voedselverwerker fyn. Voeg die appelasyn en knippie sout by. Vryf die mengsel liggies oor jou vel met klam vingers. Spoel eers goed af met louwarm water en dan een keer met koel water.

  • Diep reinigende papaja-en-ensiemmasker

Reinig jou gesig voor jy enige masker aanwend en gebruik verfrisser en bevogtiger nadat jy die masker verwyder het. Papaja bevat vitamiene, minerale en ensieme. Dit help verwyder dooie velselle, versag die vel en behandel merke, en is veral nuttig vir die behandeling van oop porieë en swartkoppies. Moenie hierdie masker gebruik as jy ’n baie sensitiewe vel het nie.

1 teelepel papaja (gebruik meer as jy ’n dikker masker verkies)

Verwerk tot ’n puree en wend aan jou gesig aan. Dit is ’n morsige storie – wend dit met ’n sagte kwas  aan en hou aan om dit oor jou gesig te smeer. Los sewe minute aan om die ensieme tyd te gee om te werk. Spoel eers met louwarm water af en dan moet koel water.

  • Bevogtigende en teenverouderende gesigmasker van hawermout, melk en olyfolie

Melkprodukte bevat  melksuur wat blykbaar dooie velselle help verwyder en die tekens van veroudering teenwerk. Olyfolie help die vel bevogtig.

2 eetlepels hawermout

¼ koppie melk

1 eetlepel olyfolie

Kook die hawermout en melk saam tot sag. Voeg die olyfolie by en meng goed. Sodra die mengsel afgekoel het, wend dit aan die gesig en nek en los 20 minute. Spoel eers met louwarm water af en dan met koel water. Verfris en bevogtig.

Liezel Joubert