1.    Badsout van Engelse sout en rooibos

Rooibostee bevat volop minerale en antioksidante. Dis strelend en antimikrobies, en werk allergieë, veroudering en ontsteking teen. ’n Engelse soutbad help die liggaam ontgif, en magnesium verlig spierkrampe en ontsteking.

Resep:

  • 1-2 k Engelse sout
  • 5 rooibossakkies

Voeg by warm badwater en week 20 minute daarin. Wenk: Hierdie badwater sal jou ontgif; dus is dit belangrik dat jy daarna baie water drink.

2. Bevogtigende haarmasker met avokado, eier, heuning en olyfolie

Olyfolie en avokado bevat volop antioksidante, vitamiene en vetsure, en is bevogtigend. Eier is ’n uitstekende bron van aminosure, vitamiene en minerale. Dit bevat ook sulfaat, wat die vel en hare versterk. Heuning is ryk aan vitamiene.

Resep:

  • 1 avokado (gebruik die helfte vir kort hare)
  • 1 eiergeel
  • 2 t heuning
  • 2 t ekstrasuiwer olyfolie

Meng saam tot romerig en wend aan die hare. Bedek jou hare met ’n plastiese stortmus of kleefplastiek en draai ’n warm handdoek om jou kop. Laat sowat 30 tot 40 minute aan. Spoel af, sjampoe en knap op soos gewoonlik.

3. Koffie-en-eierwit-skrop vir gesig en lyf

Koffie bevat antioksidante en kan bloedsomloop verbeter.

Resep:

  • ¼ koppie gebruikte koffiemoer
  • 1 eierwit

Vermeerder die hoeveelhede vir lyfskrop. Meng die bestanddele en masseer saggies oor die vel. Skrop 2 to 3 minute saggies. Spoel af met louwarm en dan koel water. Verfris en bevogtig.

Resepte van dr. Gisela Kriek, ’n geregistreerde naturopaat

Bron: Huisgenoot en YOU se Argief