Wil jy die jongste skoonheidsnuus in ’n neutedop hê? Eerstens, The Body Shop het pas sy langverwagte Honeymania-reeks uitgereik, en hoor hier, dis wonderlik. Pleks van ’n sieklike soet geur, het Honeymania ’n sagte, romerige blommegeur, met net die kleinste titseltjie heuning. Dit ruik so deksels lekker, ek moet myself keer om nie my vel te lek nie!

1510 Beauty Brokkie photo 1

Die bevogtigende reeks is gemaak van antioksidantryke Community Fair Trade-heuning van Etiopië. Dit bestaan uit ’n lyfskrop, lyfbotter, ’n oulike sepie in die vorm van ’n heuningkoek, lipbalsem, stortjel en borrelbadsmelt: ’n potjie met wat lyk soos heuning, maar wat eintlik ’n vloeibare borrelbadmiddel is.

As jy net een item kan koop, maak dit die lyfbotter (R140); so sal die geur die langste aan jou liggaam bly.

Nog iets wat ’n effense opskudding veroorsaak? Die plaaslike rondreisende sirkus en restaurant, Madame Zingara, het saam met Clicks ’n kosmetiekreeks geskep wat middel volgende maand in die winkel sal wees. Die reeks bevat pakke met baie kleurryke oogskadu en oulike klein veertjies wat jy in jou hare kan sit. In kort, dis prettige partytjiegrimering vir wanneer jy ’n spesiale voorkoms wil skep.

1510Beauty Brokkie photo 2

Ek het van die items gekry om te toets, en was veral beïndruk met hul oogomlyners. Hulle gly towerglad oor die vel, bly lank aan en jy kan dit ná net een aanwending maklik sagter vryf. Dis eienskappe wat baie duurder oogpotlode gewoonlik het.

Nog nuus is dat Toni&Guy my ’n versameling van hul haarprodukte gestuur het wat hulle ’n harekas noem. Daar is haarprodukte vir elke voorkoms, of dit nou informeel, klassiek of glansmooi is. Ek het uitgevind ek is nogal ’n klassieke meisie, aangesien ek die meeste hou van hul Shine Gloss Serum (R149, net by Clicks beskikbaar).

1510 Beauty Brokkie photo 3

Ek twee spuite van die ligte silikoonserum in my handpalms gevryf en dit teen my hare afgevee terwyl dit nog klam was. Toe dit droog was, het ek sysagte, blink, gladde hare gehad wat glad nie swaar of aangepak gevoel het nie. Later daardie dag het my vriend Matt gesê my hare lyk besonder blink. Ons almal weet ouens sien nie sulke goed raak nie, dus is dit ’n belangrike punt en nog ’n rede waarom Shine Gloss Serum twee groot regmerke kry.

Laaste maar nie die minste nie kan ons net stilstaan en ons verwonder aan die skoonheid van Elizabeth Arden se nuwe beperkte uitgawe New York in Bloom Pure Finish Radiant-verbronspoeier (R280).

1510 Beauty Brokkie photo 4

Dis bekend as die kroonjuweel van Arden se reeks lentegrimering New York in Bloom en is ’n verhelderende mineraal-verbronspoeier wat vol antioksidante en bevogtigende essensiële vetsure is. Ek was gelukkig genoeg om dit verlede week te ontvang, maar om heeltemal eerlik te wees, ek kon my nog nie oorhaal om daaroor te vee nie. Dit val beslis in die kategorie “te mooi om te gebruik”. Maar as jy nie sal huiwer om oor die pragtige poeier te vee nie, moet jy gou maak; dis vinnig besig om by skoonheidstoonbanke landwyd uit te verkoop.

Het jy iets gesien waarvan jy hou? Gesels met my in die kommentaarafdeling onder.

Liefde, liefde

Leigh

Leigh van den Berg is ’n Kaapstadse vryskut-mode-en-skoonheidskrywer. Sy skryf oor alles meisierig en mooi. (Sy is veral trots daarop dat sy waarskynlik op 10 treë sal kan sê watter parfuum jy dra. Niks maak haar meer opgewonde as vuurwarm nuwe skoonheidsgoedjies nie, behalwe miskien sjampanje-skemerkelkies, klapperys en daardie ou wat Dean in Supernatural speel.) Lees haar blog, Lipgloss in my Life, en volg haar op Twitter: @lipglossgirl.