1. Verwyder ou naellak met ’n bolletjie watte en asetoon-naellakverwyderaar.
  2. Vyl jou naels in die vorm wat jy verkies. Skep ’n moderne, korterige nael deur die punt reguit en die kante rond te vyl. Moenie jou naels met ’n saagbeweging vyl nie – dit sal net jou naels verswak. Begin aan die een kant en beweeg die vyl in een beweging oor die nael.
  3. Week jou hande in ’n bak louwarm water (as die water te warm is, sal dit jou hande uitdroog). Voeg vloeibare seep by die water. Dit sal jou naels en naelvliesies help sag maak.
  4. Behandel jou naelvliesies deur naelvlies-olie daaraan te smeer. Los dit ’n minuut aan sodat die oliekan intrek.
  5. Druk jou naelvliesies sagkens terug om die naelbed vir die naellak oop te maak. Moenie die naelvliesies by die huis knip nie, want dit kan ontsteking veroorsaak.
  6. Skrop jou hande deur ’n skropmiddel twee tot drie minute daaroor te vryf en spoel dit dan met warm water af. Gebruik ’n ryk skropmiddel wat die hande bevogtig. Vee enige oortollige water of skropmiddel van die naelbeddens af.
  7. Verf ’n deursigtige onderlaag aan, en daarna twee lae van die kleur wat jy verkies. Wag minstens ’n minuut tussen aanwendings sodat die naellak kan droogword. Rond af met ’n bolaag wat sal keer dat die naels gou afskilfer.