KIES DIE REGTE SKAKERING

Die regte skakering blosser sal jou dieselfde gloed gee as ’n vinnige stappie, al het jy net uit die bed gerol, maar watter skakering pas die beste by jou? Ligte velle wees op die uitkyk vir vaalpienk tot stowwerige roosskakerings. Olyfkleurige velle lyk goed met perskekleur en koper. Donker velle kies pruim- en bessieskakerings. Watter velkleur jy ook al het, vermy blink. Jy soek ’n natuurlike gloed pleks van ’n glimmende glans.

KIES DIE REGTE TEKSTUUR

Kies poeierblosser as jy ’n olierige vel het en ’n room- of jel-tekstuur as jou vel droog is. Hou ook in gedagte of jou onderlaag ’n vloeistof of ’n poeier is. Gebruik altyd soort by soort. Moet dus nie ’n roomblosser oor ’n poeier-onderlaag aanwend nie; gebruik dan liewer poeier. Die verlangde afronding is ook belangrik. Poeierblosser het gewoonlik meer pigment; dus sal die kleurafronding veel helderder wees as met ’n room- of jelformule. Aan die ander kant sal ’n jel- of roomformule jou wang-area subtiel lig en nie in fyn lyntjies of plooie aanpak nie.

WEND DIT REG AAN

Dis die beste om blosser (room of poeier) met ’n blosserkwas aan te wend. Begin deur dit met sirkelbewegings aan die appels van jou wange aan te wend. (Die appels is die ronde dele wat uitstaan wanneer jy glimlag.) Skep die illusie van skerper wangbene deur die blosser opwaarts langs jou wangbene na jou slape toe tot ’n paar sentimeter voor jou haarlyn in te skakeer. As jou gesig baie rond is, kan jy ’n verbronser langs jou wangbene aanwend, en dan blosser bo-oor. Ouer vroue moet die versoeking weerstaan om blosser onder hul wangbene aan te wend, want dit laat jou ouer lyk. As jy twyfel, wend dit altyd hoër aan as wat jy dink jy moet.

Bron: Huisgenoot-argiewe