Dis die maklikste ding onder die son om die regte swembroek vir die somer te kies, sê Stadsjaap, ons modeblogger vir mans.

Speedo, branderbroek, meisie op strand

NOU kyk, as daar een plek is wat Stadsjaap nie kan weerstaan nie, is dit die strand. Om langs die koel blou waters in jou swemkabaai uit te span, is sekerlik een van die grootste bederwe op die planeet. As daar dan nog ’n mengeldrankie op ’n skinkbord binne roepafstand wag, des te beter.

Maar soos met alle goeie en lekker dinge in die lewe is daar ook die een of twee dinge  wat dit minder aangenaam maak. Een hiervan is natuurlik die onverwagte, blantante versteuring van die kim deur ’n knap Speedo’tjie wat op en af paradeer, die draer daarvan so selfvoldaan dat net ’n skaafwond sy aandag van homself sal aftrek.

[caption id="attachment_62075" align="alignnone" width="320"]Man kom uit water met speedo aan speedophotos via Compfight cc[/caption]

Stadsjaap het destyds op skool ’n vriendin gehad wie se broer ewe lief was om met sy klein stukkie aan op en af langs die swembad te stap. Die knaap was nooit in die swembad self nie. Met navraag aan die benoudeboud se suster het sy bevestig: “Die hele affêre is vir effek”. Dis al.

Stadsjaap beskou dit as sy plig om inligting te gee oor hierdie beroemde (en heel dikwels berugte) stukkie lap wat soms ook saam met ’n paar sokkies aangeskaf word. Natuurlik vir effek. Swemdrag vir mans is net so divers soos die mense wat dit dra. Piet van Kraaifontein is lief vir sy oefenbroekie – kafee toe, oueraand toe, braai toe, en  natuurlik strand toe. Willem van Bryanston se ingevoerde kniebroeke trek net aandag omdat dit so besonders lelik is. Maar dit maak nie saak nie – dis ingevoer. Duur en oorsese goed is mos altyd mooi, of hoe? Stadsjaap gesels vandeesweek oor swemdrag wat by jou lyf pas en hoe om te besluit watter broek of broekie om te koop.  Prys en kleur

“Waarom sal ’n mens duisende rande betaal vir iets wat in elk geval nat gaan word?” hoor Stadsjaap al vir tant Miems kla oor die idee van ’n ontwerperswembroek.

Stadsjaap het nog nooit gesê dat duur altyd lelik is nie, maar net so is goedkoop ook nie altyd lelik nie. Stadsjaap is van mening dat as dit by swembroeke kom, die belangrikste is dat jy koop waarvan jy hou en wat jy kan bekostig.

Besluit hoe dikwels jy jou swembroek gaan dra, en as dit elke dag vir die volgende jaar is omdat jy op ’n eiland in Barbados gaan bly, besluit om ’n duursame swembroek te koop. Anders is die R99-broek ewe doeltreffend.

Koop bonkige patrone in elke kleur! As jy ’n donker vel het, kan effekleure goed lyk: Dink oranje, helderblou, pienk en rooi.

[caption id="attachment_62065" align="alignnone" width="328"]Broek met pienk, blou en grys driehoeke mbsurf via Compfight cc[/caption] Ligte velle moet liefs ’n ligter kleur kies – in die helder sonlig en weerkaatsing kan dit lyk of die broek dalk op sy eie op die strand aangestap kom. [caption id="attachment_62066" align="alignnone" width="398"]Boardshorts met ligter patrone en letters McArthurGlen Designer Outlets via Compfight cc[/caption] Koop wat by jou lyf pas

Dis natuurlik vanselfsprekend, maar as die uwe so oor sy sonbril se rande loer, kan ’n mens dikwels die logiese afleiding maak dat dit die eerste keer is wat Sybrandt daardie broekie aanhet nadat Bets dit by die hoekwinkel uitgekies het. (Terloops: Wat het geword van die dae toe mens nog iets “op sig” kon neem, dit in die gemak van jou eie huis aanpas en terugvoer kry van ’n spieël wat jy al jare vertrou en nie daardie leuenaars van spieëls wat die winkels volhang nie?)

Hoe dus gemaak? Stadsjaap lees in die tydskrifte altyd lang en ingewikkelde beskrywings van wie wat moet dra. Dis hopeloos te veel dinkwerk oor iets wat vir ontspanning gebruik word. Stadsjaap seg die volgende:

  • As jy lank en lenig is, is jy gelukkig: Jy kan amper alles dra en goed daarin lyk.

  •  As jy kort is, kies ’n korter broek. ’n Branderbroek (boardshort) gaan jou nog korter laat lyk. En kort voor lank gaan mense dink jy is die roomyskarretjie se gelukbringer.

    [caption id="attachment_62068" align="aligncenter" width="498"]Korter swembroek vir mans met geruite patrone McArthurGlen Designer Outlets via Compfight cc[/caption]

* Vir die heer met die ingeboude binneband om die middel: Vermy enigiets wat kort is. Op ’n afstand gaan jou broek soos ’n Speedo lyk. So eenvoudig is dit. As jy lank is, dra ’n langer broek; as jy kort is, dra iets korter. Die Speedo

Mense vra die uwe gereeld of dit dan die moderne man se grootste sonde is om sy verskyning op die strand in ’n Speedo te maak. Stadsjaap het lank oor hierdie saak gaan dink en tot die gevolgtrekking gekom dat daar twee soorte mense is wat strand toe gaan: die eerste soort gaan om te swem en te baljaar en bruin te brand. Die tweede soort  gaan om gesien te word. Hierdie groepie sal jy nie naby die water gewaar nie, hulle het byna nooit sambrele nie aangesien hulle op en af stap en nooit sit nie en selde na die see kyk terwyl hulle op en af stap. Hierdie groepie wil mos sien wie na hulle kyk!

Stadsjaap is self nie ’n aanhanger van die Speedo nie, juis omdat dit dikwels so verkeerd gedra word.

[caption id="attachment_62084" align="alignnone" width="212"]Oorgewig man in Speedo Chrystian Guy via Compfight cc[/caption]

Bly liefs daarvan weg as jy onseker is. Maar as jy gesien wil word, skaf een aan! Maak seker dit pas, en moet  jouself nooit oorskat of laat oorskat deur ’n te klein nommertjie aan te skaf nie. Doodsake!

Lekker sonbaai!

Groetnis,

Stadsjaap

StadsjaapStadsjaap en sy mater Metroman blog vir Huisgenoot oor mode-idees vir mans wat skaflik en modern wil lyk sonder om ’n plaas se geld te betaal of soos ’n pronkende pou te lyk. Soek jy moderaad? Vra dit gerus op hul webtuiste, hul Twitter-rekening (@stadsjaapinfo) of op Facebook.