[caption id="attachment_72883" align="aligncenter" width="600"]Mansmode 2014 Foto: Panmedia[/caption]

SONDER om nou stories te versuiker, moet Stadsjaap nou eers sê waarheen hy so lank verdwyn het. Die uwe moes deur berge en berge winterklere ’n paadjie oopkloof na bo nadat hy verlede jaar se winterklere-koffer onder die bed uitgetrek en dit skouspelagtig ontplof het in ’n see van gekleurde chino’s en paisley-motiewe.

So erg was dit dat sy stylmaat, Metroman, ná ’n hewige gesukkel ’n soekgeselskap afgevaardig het en einde ten laaste ’n klein snufhondjie moes instuur om na tekens van lewe onder die hoop klere te soek.

Verlede jaar se wintervoorkoms was allesbehalwe dof. Teen ’n gryserige agtergrond het die helfte van die nasie se mans soos narre gelyk en die ander helfte was so opgestop van al die wolbelynings dat ’n mens sou dink die merinoskaap is ook nou op die lysie van uitgestorwe spesies.

[caption id="attachment_72856" align="aligncenter" width="600"]Kleurcollage Skreeuende kleure is so verby soos 2013.[/caption] Nietemin, dié seisoen is daar weer hoop. Subtiliteit kraai koning en China kan nie voorbly met die vervaardiging van vals leerprodukte nie. Die tannies by die droogskoonmakery verstik aan al die motbolgasse om oom Koos van Verlorenpan se antieke jas weer spiekeries te laat lyk, en die oumas brei kabeltruie en laat die penne tale praat soos dit klingel in die ouetehuis se teekamer. Stadsjaap som hier die warm tendense vir winter 2014 kortliks op: 1. Swart en grys in baie klein snitte

[caption id="attachment_72859" align="aligncenter" width="600"]Mansmode: swart en grys winter 2014 Foto's: Huisgenoot/Spree[/caption] Enigiets wat lyk asof dit kleurloos en donker is, is nuus. Die winkels gaan nou tot oorlopens toe vol wees van klere wat styf pas en swart is. Moenie moed verloor nie. Stadsjaap het self ’n kleintjie dood aan ’n broekie wat L gemerk is, maar wat dieselfde grootte is as ’n Ken-pop se broek. Soek en jy sal vind. Nie alles is styf gesny nie. Kombineer swart en grys met enige kleur denkbaar. Dit werk altyd. 2. Bonkige baadjies [caption id="attachment_72861" align="aligncenter" width="206"]Mansmode winter 2014 bonkige baadjie Foto: Huisgenoot/Spree[/caption] Opgestopte baadjies is weer hoogmode. So ’n paar jaar gelede was dit op al wat ’n modevoorblad is. Toe besluit iemand dat funksioneel en mooi nie saamwerk nie, en laat hierdie baie nuttige baadjies verdwyn. Die Harrington-baadjie is veral ’n moethê-item. 3. Blokkieshemde in oranje, blou en dowwe groen [caption id="attachment_72863" align="aligncenter" width="600"]Blou blokkieshemde Foto: Huisgenoot/Spree[/caption] Die Amerikaanse lorriedrywer-voorkoms kruip stadig oral in. As dit by mansmode kom, gee die Amerikaanse modebedryf meer die toon aan as sy Europese eweknie. Dit is asof die Amerikaners hul spiere vir die fynbesnaarde Europeërs bult, en dis duidelik te sien uit hul ontwerpe. 4.Kombineer teksture [caption id="attachment_72873" align="aligncenter" width="333"]Kenneth Cole Foto: Inpra[/caption] Wol, katoen, tentmateriaal, streepsak. Enigiets werk deesdae. Eksperimenteer en vind iets waarvan jy hou. Moet net nie te drasties wees en byvoorbeeld ’n sweetpakbroek met ’n linnebaadjie kombineer nie. Die mense gaan vir jou lag. Met goeie rede. 5. Die serp [caption id="attachment_72867" align="aligncenter" width="600"]Serpe vir mans winter 2014 Foto's regsom van links bo: Salihan, Jamie Cronick, David Goehring en Jason Pier op Flickr[/caption] ’n Staatmaker-item wat ’n uitrusting van vervelig in superwarm kan verander. In alle patrone en vorms en tekstuur is ’n serp ’n wenidee. Stadsjaap se wenk: Laat die kleur van jou serp óf in jou baadjie óf in jou hemp herhaal word. Óf bekyk die kleurwiel en gebruik kontrasterende kleure vir effek. Stadsjaap maan Wees versigtig om daardie kaste en koffers oop te maak. Winterklere kry gewoonlik kleintjies en daar is nogal ’n aardige hoeveelheid items daarin wat jou kan begrawe tot dit weer somer word.

’n Ander opsie is om net ontslae te raak van die vorige winter se uitrustings. Die nasie kan doen met ’n paar minder oranje, pers en groen chino’s.

Groetnis

Stadsjaap

StadsjaapStjasjaap  en sy maat Metroman skryf vir Huisgenoot oor mode-idees vir mans wat skaflik en modern wil lyk sonder om ’n plaas se geld te betaal of soos ’n pronkende pou te lyk. Soek jy moderaad? Vra dit gerus op sy webtuiste, Twitter (@stadsjaapinfo) of  gaan kyk op Facebook na Stadsjaap se voorstelle vir kantoordrag.