Ons mansmodeblogger Stadsjaap en sy vriend Metroman het inkopiesentrums binnegevaar en raad begin uitdeel.

Maters, hierdie week stel Stadsjaap sy goeie vriend Metroman bietjie aan die woord. Dit gesê moet Stadsjaap julle daarop wys dat Metroman by tye bietjie genadeloos kan wees en lief daarvoor is om prontuit  te gesels.

Metroman herinner Stadsjaap baie aan sy geliefde tant Miems van die Weskus. Tant Miems was 'n formidabele vrou wie se hande enige iets van 'n meringue tot 'n troukoek kon bak. Hierdie vrou was ewe vaardig met 'n naaimasjien sowel as 'n ploegskaar waar sy buite Redelinghuys aan die Weskus aartappellande bewerk het.

Bietjie meer oor Metroman

Hy is gebore kort voor die draai van die 70ste dekade van die vorige eeu, behaal hy sy matriek aan die Prieska distriksplaasskool. Reeds voor hy kon spel, het hy geweet lap, kant en vere  is sy toekoms. Hy suiker af stad toe waar hy 'n hele graad in straatmode behaal. Tussendeur speel hy orrel op begrafnisse en troues en sings soms agtergrond vir bekende sangers. Destyds voor hy die mode wereld oorrompel het, het hy die pot aan die kook gehou deur gekwilte dekens en ontwerpers teemusse by die groenmarkpleinte verkoop. Hy maak naam deur 'n deurskynende rok uit plastiek vir 'n oud Mej SuidAfrika eersteprinses te maak.

Metroman is van mening dat dit geen doel dien om net die perfek en keurig aangetrekte mans te kiek nie. Nee, Metroman voel mens moet soms ook wys hoe dit níé gedoen word nie.

Nou ja, Stadsjaap gesels hierdie week oor 'n paar minder suksesvolle uitrustings wat die oog trek. Lees wat skryf Metroman en neem notisie van sy raad. Hy is in die kol ... soms.

Elkeen van hierdie jongmans was gewillig om in Stadsjaap se blog te verskyn, maar ons het besluit om hul gesigte te verbloem omdat Metro Man geniepsig kan wees.

photo 1

Die laaste keer toe die uwe so baie denim gesien het was toe hy  by sy aweregse vriendinne in die Strand gaan kuier het. Behalwe dat hul groot lywe daarin gegiet was, was hul sitkamertsel ook daarmee oorgetrek. Die strooikussinkies en die gordyne was ook van denim. Gelukkig, of  was die gordyne se "tie backs" van 'n ou landsvlag...

Metroman meen die aantreklike jonge heer wat enige tyd sy afgeloopte skoene onder menigte jonge dames se bed sou kon inskop, kry dit net nie heeltemal reg nie. Metroman sal self sorg dat hy daardie skoene nooit weer nie sien.

Met jou voorkoms kan jy in enige uitrusting goedlyk. Laat vaar die denim baadjie, trek 'n eenvoudige t-hemp aan, of kombineer 'n vars knopieshemp met 'n netjiese denim broek.

photo 2

'N Sonbril in 'n winkelsentrum word afgerond met 'n witstok en Labrador hond....

Metroman het 'n kleintjie dood aan netjies gepoetste jonge Here wat in die skemer van 'n winkelsentrum 'n sonbril dra. Beklemtoon jou beste bate! Oë vertel enige jong dame presies wat sy wil weet van 'n jong man.

photo 3

Hierdie Superman moet 'n slag ophou vlieg en eerder sy drafskoene aantrek...

Dis te sê as hy nog kan vlieg met so muffinfiguur.  Daar is niks verkeerd om 'n ronding of drie te hê, maar om dit so te giet in 'n uitrusting wat die bloedsomloop en die kanse op 'n toekoms verlaag, is amper banaal. Trek iets aan wat by jou figuur pas. Iets wat te styf om 'n ding span, mag dalk net gevaarlik wees.

'n Goeie, beproefde wenk: As jy môre oggend aantrek praat met jouself. Sodra jou broek aan is en jy klink soos Alvin van die Chipmunks, trek iets anders aan. As jou hempie aan't lyf is, en jy voel jy kry 'n hartaanval, dink aan die mense wat een gaan kry as hul jou in die hemp sien. G'n man wil  lyk soos 'n polonie met 'n fancy label nie.

photo 4

Nie eens bruide trou deesdae in soveel wit Nie.

Dié kiekie is geneem in die pragtige Suid-kaapse dorp, George, en die eerste ding wat in die uwe se kop opkom is "The Madness of King George". .  Die  uwe se gryse ou moeder het altyd gesê: "as jy niks goeds kan  sê nie, bly eerder stil" , maar as 'n modefilantroop voel die uwe dit is sy plig om dié jonge heer te help uit die modedebakel waarin hy hom tans begewe. Let asseblief daarop: Witbaadjies was in "Saturday night fever" groot en as die uwe die kalender so bekyk is dit meer as 30 jaar gelede.

As jy 'n baadjie wil dra, gaan loer na Stadsjaap se inskrywing oor baadjies. Onthou:  donker baadjies is altyd 'n stylwenner- dag of nag. Maak seker jou T-hemp pas gemaklik.

En staan regop, jonge Heer! N goeie postuur en selfvertroue is altyd die deurslag om 'n uitrusting af te rond. Op die oomblik lyk jy soos 'n poedel met 'n truitjie wat aangeskaf  is by die ouetehuis se basaar nadat  hy op die mat blaas leeggemaak het. Trek jou skouers regop, en kyk die dames in die oë.

Lees gerus meer op SJ se webtuiste!

Tot volgende keer!

Groetnis,

Stadsjaap

Stadsjaap

Stadsjaap en sy mater Metroman blog vir Huisgenoot oor mode-idees vir mans wat skaflik en modern wil lyk sonder om ’n plaas se geld te betaal of soos ’n pronkende pou te lyk. Soek jy moderaad? Vra dit gerus op hul webtuiste, hul Twitter-rekening (@stadsjaapinfo) of op Facebook.