[caption id="attachment_50451" align="aligncenter" width="600"]Fptp: Francesca Palazzi op Flickr Foto: Francesca Palazzi op Flickr[/caption]

Ons sê welkom aan Stadsjaap, ons nuwe blogger oor mode vir ouens wat skaflik en sexy wil lyk sonder om ’n fortuin op te dok of soos ’n winkelpop aan te trek.

TOENTERJARE het tant Miems, ’n oujongnooi van die Weskus, ’n waarheid kwytgeraak: “Die land is in ’n toestand omdat g’n man meer na homself omsien nie.” Of sy net bitter was omdat sy ná tientalle skrywes aan Toek se Soekhoek steeds onsuksesvol was, weet Stadsjaap nie – maar reg was sy reg. Die nasie se mans sien nie meer na hulleself om nie.

En dis ook geen wonder nie – as jy die internasionale modefoendi’s moet glo kan geen man netjies lyk as hy nie getooi is in ’n jas gemaak van Andesgebergte-bokhaar nie – ’n materiaal wat onbekostigbaar is omdat dié woldraers net een keer elke 10 jaar paar. Of dalk is daar iewers in Amerika ’n groep opgetofte ontwerpers wat meen ’n boerseun uit Noordwes sal bereid wees om ’n pienk paisley-hempie met ploegmotiewe te dra?

Nou kyk, Stadsjaap is ’n groot voorstander van goed lyk en is van mening dat elke man aan homself ’n smaakvolle voorkoms verskuldig is. En dit is waaroor hierdie blog gaan. Stadsjaap en sy goeie vriend Metroman gaan tant Miems se waarheid in sy kanon in stuur. Hierdie nasie se mans kan beïndruk. Dit kos nie ’n plaas se prys om ’n indruk te maak nie. Stadsjaap gee hom nie uit as ’n modeontwerper en kenner van lap nie, maar hy weet hoe om ’n broek en ’n hemp by mekaar te laat pas. Ons gaan kyk na wat om wanneer te dra, en waar om dit te kry sonder om invoerbelasting te betaal. Hoe om die oliebol-voorkoms te vermy. Ons gaan vra of oom Koos van ouds se kabeltrui nog gedra kan word en of dit goeie maniere is om sonder ’n das by ’n doop op te daag. Kom ons begin sommer by daardie staatmaker wat elke man in sy kas moet hê . . . DIE WIT HEMP

Metroman seg die ander dag ’n waar ding: “Trek vir ’n lelike man ’n kraakvars wit hemp aan, en jy kan hom op ’n loopplank sit.” Van enige item in ’n man se klerekas is ’n wit hemp die betroubaarste.

Hoe tower ’n mens dus ’n eenvoudige wit hemp om in ’n stylitem sonder weerga?

1 Stryk tot jou strykyster breek

Die grootste sonde is ’n wit hemp wat meer kreukels as ’n Shar Pei-brakkie se gesig het.

[caption id="attachment_50453" align="alignnone" width="400"]Foto: Ichigonotukikage op Flickr Foto: Ichigonotukikage op Flickr[/caption]

Die moeders van ouds het hemde gestysel tot dit so styf was soos ou botterversiersel op ’n basaarkoek. Dit is nie nodig nie. Stryk net die dêm ding. Sal jy ooit vir James Bond sien in ’n wit hemp met kraters kruis en dwars oor die materiaal? Stadsjaap het ’n broertjie dood aan slordigheid, en min dinge laat ’n man so slordig lyk soos ongestrykte klere.

2 Grootte maak tog saak

’n Te klein hempie is net so erg soos ’n te klein onderbroekie: Die gesukkel om asem te kry is sigbaar op ’n benoude gesig.

Onthou: ’n Hemp se kraag gaan nie noodwendig perfek pas as die moue lank genoeg is nie. Stadsjaap maan: Moet nooit ’n hemp aanskaf waarvan die moue so lank soos die N1 is net omdat die kraagknopie toeknoop nie. Die goue reël is: As die kraagknopie geknoop is, moet jy gemaklik nog ’n vinger tussen nek en kraag kan insteek. Dan is hy reg. Eers die kraag, dan die moue. In 99 persent van gevalle sal die moue die regte lengte wees as dit reg om die nek pas.

Wees ook op die uitkyk vir verskillende snitte: ’n slim fit is nouer om die liggaam gesny en sal dus nouer pas en netjieser lyk. Kies hierdie snit as jy die hemp sonder ’n baadjie gaan dra. Kies ’n gemakliker snit as dit hemp onder ’n trui of baadjie gedra gaan word.

3 Valletjies hoort op dooprokke

En steeds is daar mans wat meen ’n valletjieshemp is tog te sexy as dit opgetert word met ’n strikdas. Die waarheid is: dis passiemoordenaars. Los die valle vir ouetehuis-gordynrelings en toiletrolbedeksels – dit hoort op geen wit hemp nie.

Dra jou wit hemp by . . .

’n Wit hemp vul enige uitrusting aan, maar daar is sekere items wat jou in ’n Adonis gaan verander as jy dit saam met ’n wit hemp dra . . .

  • ’n Donkerblou denimbroek. Nie die uitgebleikte soort wat lyk asof dit saam ou Jan in die Kaap aangekom het nie. Donker.

[caption id="attachment_50448" align="alignnone" width="300"]F Foto: Men's Fashion for Less[/caption]

  •  Swart skoene en ’n swart belt. Nie die tipe skoene wat so blink dat dit die son skaam maak nie. Onthou, jou beste bates word beklemtoon teen die wit palet en jy wil definitief nie hê die spieëls aan jou voete moet meer aandag trek nie.

  • Die wit hemp werk ook uitstekend by ’n netjiese kortbroek en bootskoene. Laat jou belt by jou skoene pas.

[caption id="attachment_50454" align="alignnone" width="175"]Foto: Op Pinterest oorgespeld van i.imgur.com Foto: Op Pinterest oorgespeld van i.imgur.com[/caption]

  • Dra dit by ’n swart pak soos James Bond.

James Bonds

Jy kan gerus maar ’n bietjie geld bestee aan jou wit hemp. Dis universeel en kan oor en oor gedra word sonder dat enigiemand sal sê “Hier kom die man met die wit hemp weer aan.”

Dra jou wit hemp met vrymoedigheid. Saam met ’n goeie skeut selfvertroue sal elke nooi dink sy het ’n afspraak met Jannie Bond van Verlorenvleipan in Noordwes. Pas dit. Stryk dit. Dra dit.

Groetnis

Stadsjaap

StadsjaapStadsjaap en sy mater Metroman blog vir Huisgenoot oor mode-idees vir mans wat skaflik en modern wil lyk sonder om ’n plaas se geld te betaal of soos ’n pronkende pou te lyk. Hul webtuiste is binnekort op dreef en jy kan hulle ook op Twitter volg by @stadsjaapinfo. Soek hulle op Facebook deur "stadsjaap" in die soekfunksie te tik.