Ons modeblogger vir mans het die winkelsentrum binnegevaar en gekyk watter baadjies gedra word deur die mense wat daar inkopies doen  – en wat hulle reg en verkeerd doen.

MANS word groot met baadjies: skoolbaadjies, kerkbaadjies, selfs daardie miniatuurbaadjies wat kinders ’n knypie op die wang besorg van ’n ouerige tannie wat na pepermente ruik. Natuurlik word die “kerkbaadjie” soos dit in die volksmond bekend staan, na troues, begrafnisse, dope, matriekafskeide en die dans in die stadsaal gedra.

Stadsjaap moet dit dadelik duidelik maak dat hierdie blog nie gaan oor die formele baadjie (wat dikwels ook na troues, dope, begrafnisse, konserte, prysuitdelings en informele danse gedra word) nie, maar oor die informele baadjie.

Stadsjaap het ’n eenvoudige reël: Die formele baadjie is swart met een of twee en selfs drie knope. Enige ander kleur is informeel. Grys en wit baadjies kan ook formeel wees, maar dink tog maar twee keer voor jy ’n ligte pak na ’n formele geleentheid dra, tensy jy soos ’n mafiabaas wil lyk. (Stadsjaap skryf binnekort oor die formele pak. Wees op die uitkyk daarvoor.)

Hier is wat elke man oor baadjies moet weet:

  • As dit ’n bietjie te groot is, lyk jy soos ’n uitgewaste gordyn met moue.
  • As die moue te lank is, pas die baadjie nie. Klaar.
  • Knoop gerus een knoop vas, maar nooit ál die knope nie. Net afgestorwenes in kiste se baadjieknope is almal vasgeknoop.

Stadsjaap het soos gewoonlik die winkelsentrums binnegevaar en mans gevra om hul baadjies op ’n hanger te hang sodat ons daarop kommentaar kon lewer. Hierdie baadjies is nie uit ’n winkel gekies en afgeneem nie – dis baadjies wat gewone mans in hul kaste het en daarom lyk dit ook nie of dit uit ’n winkel kom nie!

Baadjie 1

Dié informele baadjie het ’n blokkiespatroon wat perfek werk saam met ’n eenvoudige T- of kraaghemp. ’n Ligblou of wit hemp sal die ding doen. Selfs ’n hemp met patroon kan werk, maar wees versigtig: Die baadjie is klaar opvallend en jy wil nie lyk soos ’n optiese illusie nie. Kombineer hierdie baadjie met jeans en gemaklike skoene vir ’n vars voorkoms.

Baadjie 2

Koordferweel stel nooit teleur nie aangesien die tekstuur daarvan al klaar ’n interessante voorkoms help skep. Die kleur van hierdie baadjie is dienlik en kan met byna enige ander kleur gekombineer word. Stadsjaap het egter nou die dag ’n jonge heer gesien wat ’n koordferweelbaadjie saam met ’n koordferweelbroek gedra het. Behalwe dat hy op die oog af soos ’n omgeploegde land gelyk het danksy al die vore in sy uitrusting, het hy dit verder gekombineer met ’n dik trui wat Stadsjaap laat wonder het of die man dalk daarvan hou om geskuur en geskaaf te word te midde van al die growwe materiale. Hou liefs verby te veel tekstuur. Jou vel gaan jou dankbaar wees.

Baadjie 3

’n Ligkleurige baadjie (in beige, liggrys of selfs wit) behoort net die sonlig te sien. Moet hierdie baadjies nooit saans dra nie. Ligte baadjies in die donker sal jou soos ’n weerkaatser agterop ’n ou bantambakkie laat uitstaan. Wat hierdie baadjies wonderlik maak, is dat dit ook gekombineer kan word met ander ligkleurige items soos hemde en T-hemde en vir ’n yskaskoel voorkoms kan dit selfs by ’n kortbroek gedra word. Moet in geen omstandighede ’n kyk-na-my-rooi of ek-is-gefrustreerd-pers of enige soortgelyke kleur kraaghemp hierby dra nie. Die aarde het genoeg verrassings en geen ouerige dame se hart sal soveel kontras kan hanteers as jy skielik om ’n hoek kom nie.

Baadjie 4

Baadjie VIER

Stadsjaap wys hierdie baadjie om jou van twee dinge bewus te maak.

  • Dis hoe ’n baadjie lyk wat so onnetjies afgewerk en vormloos is dat dit dadelik lyk of dit massageproduseer is. Die kraag is onnet en die ondersome krul op soos ’n pastei wat te lank gebak het. Hoewel die potloodstreeppatroon nie te versmaai is nie, gaan hierdie baadjie net goed aan ’n winkelpop lyk.
  • Moet in geen omstandighede ’n baadjie koop waarvan die prys met 200 persent verlaag is nie. Uit ervaring weet Stadsjaap dat ’n ordentlike baadjie jou dalk ’n paar rand uit die sak sal jaag, maar dat dit jou ’n hele paar seisoene lank goed sal laat lyk. Net skottelgoedseep, pakkies sop en babadoeke is goeie kopies as die afslag só groot is.

Baadjie 5

Stadsjaap het amper ’n hartstilstand gekry toe hy hierdie baadjie sien. Nie net is die kleur daarvan so onvanpas soos ’n Kokkedoor by ’n Engelse kookkuns-kompetisie nie, al die blink is net te veel vir ’n man wat nie soos ’n halfgesuigde stuk lekkergoed wil lyk nie. Die lapelle is wel baie netjies en die baadjie sal in ’n meer stemmige kleur enige uitrusting goed aanvul. Bly weg van helder baadjies as jy nie lus het om op die kerkbasaar te praat (of oor gepraat te word) nie. Vir die avontuurlustige here onder ons:  ’n baadjie in helder kleure kan wel goed werk as dit van ’n stof gemaak is wat nie blink nie. Satynafwerking het ’n genadedood gesterf in die vroeë negentigs. Dit het wel onlangs weer kortstondig kop uitgesteek maar net so vinnig en stilletjies verdwyn – met goeie rede.

Baadjie 6

’n Interresante baadjie inderdaad! Die tekstuur is effens grof en die potloodstreep meer prominent. Stadsjaap is gaande oor die dowwe blou kleur en sal enige jonge heer wat wil aandag trek aanraai om hierdie nommer te kombineer met donker jeans, gemaklike skoene, ’n T-hemp met ’n interresante motief (in rooi, blou, wit en selfs swart) om ’n vars, moderne voorkoms te skep. Let op die interresante voering – dis verskriklik besig en as lank daarna gekyk word, raak dit ook nie sagter op die oog nie. Hierdie baadjie gaan beslis aandag trek.

Baadjie 7

So uit oom Koos se versameling antieke kisklere. Stadsjaap hou van die afwerking van dié baadjie, veral die ekstra kleiner sakkie links op die foto. Die dubbele omsoming van die lapelle verskaf diepte en die bonkige donker knope gee karakter. Dit sal perfek werk by ’n wit T-hemp, donker jeans, ’n bruin belt en skoene. Maak net seker dit pas netjies!

Stadsjaap deel ook die volgende klompie nuttige baadjiewenke:

  • Baadjiesakke is daar vir versiering. Moet nooit jou beursie of sleutels daarin plaas nie. Mense sal wonder of iets uit jou borsbeen groei.
  • Eenvoudige reël: As jy rondbeweeg, knoop een knoop toe. As jy sit, maak die knoop los.
  • Moet in geen omstandighede jou hande in jou baadjiesak sit nie – opstandige matriekseuns doen dit om kwaai te lyk.
  • Net Riaan Cruywagen sit ’n pen in die baadjiesakkie op die bors.
  • As jy jou baadjie uittrek, hang dit netjies oor ’n stoelleuning of aan ’n hanger – nie in ’n hopie opgefrommel nie. Stadsjaap het al voorheen oor gekreukelde klere gesels. Dra volgende keer ’n kreukelbaadjie as jy wil hê mense moet jou jammer kry.

Onthou, mense gaan jou op jou baadjie takseer, al sê die moeders van ouds hulle moet nie.

Groetnis

Stadsjaap

StadsjaapStadsjaap en sy mater Metroman blog vir Huisgenoot oor mode-idees vir mans wat skaflik en modern wil lyk sonder om ’n plaas se geld te betaal of soos ’n pronkende pou te lyk. Soek jy moderaad? Vra dit gerus op hul webtuiste , hul Twitter-rekening (@stadsjaapinfo) of op Facebook .

Lees hul vorige blog vir Huisgenoot:

Benoude boude

Meneer, so dra jy ’n wit hemp