Dit het ook nie uiterste modegiere vrygespring nie. Van die ouer garde sal die reusagtige, wye klokbroeke onthou, ander weer die pypbroeke wat in vandag se lewe as “skinnies” bekendstaan. En o wee, jeans was te Engels in ’n stadium en in die plaaslike mond is dit klinknaelbroeke genoem. Die drag van hippies en rebelle . . .

Terug na die hede. Behalwe in die geval van groot nuuskierige agies, word jeans gewoonlik gekies vir styl, gemak en veelsydigheid. O ja, die handelsmerk is vir vele ook natuurlik van groot belang.

Lees ook: Mark Zuckerberg se klerekas: 50 skakerings van grys

Het jy al gewonder wat daardie klein sakkie wat by die meeste jeans te bespeur is, nou werklikwaar beteken en of dit enigsins ’n doel dien?

Die eerste jeans wat vervaardig is, het net vier sakke gehad: een agtersak, twee aan die voorkant en dan daardie klein meneertjie wat so binne-in een van die sakke wegkruip.

Daardie klein sakkie het sy werklike oorsprong in die Wilde Weste gehad, die dae toe cowboys en kroeks nog Amerika op horings geneem het.

Lees ook: Jeans en jou eerste afspraak

Geen man wat sy sout werd was, sou sonder ’n sakhorlosie betrap word nie. Dis einste hierdie item wat tot die klein sakkie gelei het sodat die horlosie so beskerm kon word.

Terwyl sakhorlosies gekom en gegaan het, het die horlosiesakkie gebly. Deesdae word dit enigiets genoem: van ’n voorpossakkie, kondoomsakkie of munstuk- tot vuurhoutjiesakkie.

Daar word geglo dat dié sakkie tot die dag dat jeans nie meer bestaan nie, deel van die ontwerp sal bly.

Pretfeite oor jeans

  1. Levi Jeans besit kopiereg op die spesifieke oranje kleur van die garing waarmee hul jeans afgewerk word.
  2. Klinknaels is eers op alle sakke gebruik, maar dit het skade aan perdesaals aangerig; daarom is klinknaels van die agtersak verwyder.
  3. Die klinknaels is aanvanklik op perdekomberse gebruik voor dit deel van jeans geraak het omdat dit ’n goeie versterking vir strespunte is.
  4. Die eerste etiket wat op ’n kledingstuk verskyn het, was ’n rooi vlaggie langs die agtersak van Levi Strauss-jeans.
  5. Limbo, ’n boetiek in New York, was die eerste wat ’n nuwe paar jeans vooraf gewas het om dit ’n verweerde voorkoms te gee. Natuurlik was hierdie styl ’n treffer.
  6. In die 1950’s is jeans by skole, teaters en restaurante in Amerika verbied omdat dit beskou is as rebellie teen konformisme.
  7. Fabriekswerkers se jeans het ’n ritssluiter aan die voorkant vir mans en ’n ritssluiter aan die kant vir vroue gehad .
  8. Amerikaanse soldate wat jeans gedra het wanneer hulle van diens was tydens die Tweede Wêreldoorlog het tot die gewildheid daarvan buite die landsgrense bygedra.
  9. Dit verg 37 verskillende naaldwerkprosesse om een paar Levi 501’s te maak.
  10. Die naam “denim” is te danke aan ’n stewige materiaal wat oorspronklik van Nîmes in Frankryk afkomstig was.

Bronne: levistraus.com, historyofjeans.com, newscom.au