Spieëltjie, spieëltjie aan die muur, wie is die stylvolste matrikulant hier? Voorspel jy dié seisoen ’n moderamp op pad matriekafskeid toe? Of sukkel jy net om jou uitrusting vir die glansaand perfek af te rond? Hoe dit ook al sy, die wêreldbekende modeontwerper en -persoonlikheid Gert-Johan Coetzee kom tot jou redding met sy kundige advies en wenke.

Hoewel modeneigings tussen lande verskil, blyk dit ryk, diep kleure is hierdie matriekafskeidseisoen in. Die neigings wêreldwyd is vanjaar na skakerings van koper, goud en selfs rosegoud, wat ’n ligte pienk skynsel gee.

Plaaslik is juweelkleure die regte noot vir hierdie seisoen, veral jou smaraggroen en robynrooi.

“Die meisies het hierdie jaar wegbeweeg van oordrewe ontwerpe en meer geneig na die loopplankkonsepte,” verduidelik Gert-Johan. Vanjaar kan ’n mens baie laerug- en V-nek-snitte verwag, asook snitte wat been wys. “Dit is glad nie meer kitsch of kommin nie, maar eerder stylvol en sexy.”

Bykomstighede bly bobaas, meen Gert. Hierdie jaar is ’n donker lipstiffie jou belangrikste bykomstigheid.

“Bykomstighede is nie noodwendig ringe, oorbelle of hangertjies nie; dit sluit ook grimering en haarstyle in.”

Meisies wat avontuurlustig voel, kan selfs ’n matswart lipkleur kies, wat volgens Gert dié seisoen groot is. Vanjaar is krulle en vlegsels langs die kant van die gesig die gewildste style. Dit kan in verskillende variasies verwag word.  

Oormansjette, wat oor die oor haak, met ’n gepaardgaande wurghalssnoer (choker) is ook dié seisoen groot bykomstighede.

Hoewel die geliefde hakskoene steeds ’n gunsteling onder meisies is, voorspel Gert-Johan dat die groot hakke vanaf volgende jaar hul verskyning sal maak. Een van Gert se belangrikste wenke vir die matriekafskeid, is om altyd gemaklike skoene te dra.

Klein begroting? Geen probleem!

“Kyk wat jy by wie jy kan leen en werk van daar af.”

Die retro-vintage-styl is steeds volop en dus kan ’n mens wegkom met ’n geleende uitrusting. Tweehandswinkels is beroemd daarvoor om skatte op hul rakke te hê wat anders op ’n ashoop sou eindig.

“’n Mens kan ook nie verkeerd gaan met ’n gewone swart nommertjie nie. Kikker dit dan op met bykomstighede.”

As die begroting ’n bietjie knap is, doen baie moeite met jou hare en grimering.

Gert-Johan is verantwoordelik vir sowat 50 eksklusiewe rokke wat vanjaar op verskeie matriekafskeide te sien sal wees. Die verste bestelling is van Namibië. Sy rokke is selfs in Amerika in aanvraag, met bestellings uit New York vir afskeide en troues.

GJC se krontrolelysie:

  1. Wanneer die rok perfek pas, is 90 persent van die werk gedoen.
  2. Dra naakkleurige skoene vir ’n verslankende voorkoms.
  3. Voeg ’n gordel by enige rok om dit dadelik ’n unieke gevoel te gee.
  4. Bykomstighede en selfs skoene kan geleen word.
  5. Bestee ekstra tyd en geld aan jou hare en grimering.