Ons modeblogger Stadsjaap verduidelik hoe jy die regte skakerings klere by mekaar kan dra sonder om soos ’n swak geklede nar te lyk.

Collagenuut

STADSJAAP stap nou die dag by ’n bekende winkelgroep in Kaapstad in. Nou, as jy in Kaapstad woon kan jy seker vergewe word as jy dink dis nog winter. Maar as jy in die winkels rondstap, weet jy dis lente. Die rakke basuin almal die nuwe seisoen uit met rye en rye items in elke vrolike kleur onder die son.

Vir Stadsjaap se vriend, Metroman, is die kleurpalet ’n betowerende ding. Blou is nie net blou nie: elke skakering van blou het ’n naam of, as iemand nog nie aan ’n naam kon dink nie, ’n kode. Selfs wit en swart kom in verskillende skakerings. Stadsjaap het nog altyd gedink dat wit wit en swart swart is, maar dit blyk dat selfs iets so eenvoudigs en minimalisties soos die kleur wit ’n ingewikkelde saak kan wees.

Stadsjaap het natuurlik ’n kleintjie dood aan moeilike dinge. Eenvoud en gemak is sleutelwoorde, en die oomblik as iets meer gekompliseerd word as wat dit moet wees, word dit die werk van iemand êrens om dit makliker te maak.

Almal het al vrae gehoor soos “Pas dié hemp by dié broek?” of “Werk hierdie kleur saam met daardie kleur?” Dit terwyl die oom ’n bottergeel hemp en ’n oranje kortbroek van krimpelien ophou voor die tannie, wat verwoed by die spieëltafel met haar ghd besig is. Een blik na die tannie se gesig is genoeg om die oom die items weer netjies terug in die kas te laat pak. Hy weet sommer: Die tannie dink nie sy keuse van klere gaan saam met haar pienk bloes en groen romp werk nie. Hoe dan gemaak? Hoe pas ’n mens kleure by mekaar? Wat werk en wat is so teenstrydig soos ’n Miley Cyrus-liedjie op ’n begrafnis? Stadsjaap het lank gelede kennis gemaak met die kleurwiel, ’n eenvoudige, maar baie nuttige voorstelling van watter kleurkeuses mekaar aanvul en watter die tannie voor haar spieëltafel gaan laat beswyk. Die uwe het so ’n  kleurwiel in sy klerekas opgeplak en gebruik dit elke dag om seker te maak alles pas en vul mekaar aan! Die kleurwiel

Die kleurwiel bestaan uit drie groepe: primêre, sekondêre en tersiêre kleure. Dink terug aan graad 1 toe jy van die primêre en sekondêre kleure geleer het. Die primêre kleure is rooi, geel en blou. Hierdie kleure kan nie geskep word deur ander kleure te meng nie, maar kan elke kleur denkbaar skep deur self vermeng te word. Sekondêre kleure word geskep wanneer die primêre kleure gemeng word: geel en rooi skep oranje, blou en geel skep groen en rooi en blou skep pers. Tersiêre kleure is waar Stadsjaap die kleurstreep trek: meer subtiele kleure word geskep deur sekondêre kleure te meng. Maar Stadsjaap meen dat dit dan te ingewikkeld word en snaakse, volksvreemde kleure soos eendgroen en koraalpienk hul verskyning laat maak . . .

Kleurwiell Hoe om die kleurwiel te gebruik Daar is al miljoene bladsye oor die gebruik van die kleurwiel geskryf en dit word later net so ingewikkeld soos ’n troue waar die twee skoonfamilies nie met mekaar oor die weg kom nie. Stadsjaap meen die volgende is die basiese beginsels wat jy kan inspan om kleure by mekaar te laat pas: Warm, koel en neutrale kleure Koel kleure is kleure wat van blou afgelei word: groene, perse en pienke. Dink aan die plaasdam op ’n somerdag of die strand in Desember. cool colours Warm kleure verwys na rooie, oranjes en gele. Braaivleisvure en Nataniël se uitrustings. warm colours Neutrale kleure is soos die vervelige meisie: Hulle trek nie baie aandag nie en is so onopvallend soos wit by ’n troue. Dink swart, wit, beige en olyf. Neutral colours Koel kleurskemas komplementeer ligte velle, terwyl warm kleure perfek werk saam met donker velle. Neutrale kleure pas by enigiets. Stadsjaap neem as voorbeeld die rekenaarbleeksiel wat ’n oranje hemp en pienk broek aantrek. ’n Spook opgetooi in robotkleure is problematies. Die kinders gaan bang word. Wat pas dus by wat?

Hoewel die kombinasies eindeloos is, werk die volgende perfek:

Monochroom  ’n Hele uitrusting in verskillende variasies van een kleur. Byvoorbeeld: ’n ligblou hemp by donkerblou jeans en ’n trui wat herinner aan die waters van ’n eiland in die ’n Indiese oseaan. Al is dit moeilik om korrek te dra, kan hierdie uitrusting baie treffend wees. Kombineer gerus ook verskillende teksture om diepte te skep.

[caption id="attachment_55901" align="alignnone" width="600"]Links: Ryan Abel op Flickr. Regs: Eva Rinaldi op Flickr Links: Ryan Abel op Flickr. Regs: Eva Rinaldi op Flickr[/caption]

Komplementêr Kleure wat regoor mekaar op die kleurwiel verskyn, soos pers en geel, blou en oranje, en groen en rooi. Al klink dit dalk volksvreemd, vul kontrasterende kleure mekaar baie goed aan. Byvoorbeeld: ’n Oranje T-hemp by met ’n helderblou kortbroek trek aandag, veral as jy nog ’n donker vel ook het.

Analoog Kleure wat reg langs mekaar op die kleurwiel staan kan saam gedra word, mits die kontras verskil. Byvoorbeeld: Donkerpers pas baie goed by ligblou of ligpienk. Die-koei-gaan-jou-opvreet-groen werk mooi saam met liggeel. Dis net belangrik om seker te maak daar is ’n verskil in kontras – moet dus nie ligpers en ligblou saam dra nie.

Elgee

Neutrale kleure pas goed bymekaar en by helder kleure.

[caption id="attachment_55902" align="aligncenter" width="233"]Foto: Neutral Malingering op Flickr Foto: Neutral Malingering op Flickr[/caption]

Vermy net sterk kleure saam, soos swart en donkerpers, of beige en liggeel.

[caption id="attachment_55896" align="alignnone" width="171"]Dra swart eerder by ligpers as by donkerpers. Foto: Eva Rinaldi op Flickr Dra swart eerder by ligpers as by donkerpers. Foto: Eva Rinaldi op Flickr[/caption]

Daar is natuurlik nog duisende opsies, maar Stadsjaap is van mening dat hierdie drie basiese groeperings die suksesvolste kombinasies vorm.

So meneer, plak ’n kleurwiel in jou kas en ekperimenteer. Beproef ’n helder rooi das saam met jou blou hemp. Of daardie geel broek wat oupa Koos vir die tombolatafel geskenk en jy toe met vissie vang gewend het, sal heeltemal goed werk saam met die pers T-hemp uit universiteitsdae.

Probeer dit!

Groetnis,

Stadsjaap en Metroman

StadsjaapStadsjaap en sy mater Metroman blog vir Huisgenoot oor mode-idees vir mans wat skaflik en modern wil lyk sonder om ’n plaas se geld te betaal of soos ’n pronkende pou te lyk. Soek jy moderaad? Vra dit gerus op hul webtuiste, hul Twitter-rekening (@stadsjaapinfo) of op Facebook.