DIE PERFEKTE WENKBROUVORM

  • Stap 1: Hou ’n kwas teen jou mondhoek en die binnestehoek van jou oog. Net hierbo is waar jou wenkbrou moet begin.
  • Stap 2: Doen dieselfde van jou mondhoek na die buitenste hoek van jou oog. Dit is waar jou wenkbrou moet eindig.

BOOG:

  • Kyk reguit vorentoe in ’n spieël en hou ’n kwas of potlood vertikaal oor jou iris (die gekleurde deel van jou oog). Dit is waar jou wenkbrou moet begin afswaai.

VERBETER:

  • Gebruik ’n sagte wenkbroupotlood om die yl dele met ligte, veeragtige hale in te kleur. Versag dan die lyne met ’n wenkbroukwassie en poeierskadu. As jy vol wenkbroue het, kleur dit net met poeierskadu in. Rond dit af met ’n laag wenkbrou-of haarjel om die hare in posisie te hou.

KLEUR:

  • Donkerkoppe se wenkbroukleur moet ’n skakering ligter as hul haarkleur wees. Blondines moet oppas vir wenkbroue wat te donker is. Laat ’n kenner dit kleur, of doen dit self met ’n potlood of poeier. Moenie grys hare pluk nie – dit sal jou wenkbroue uitdun. Kleur dit liewer.

MANIERE VAN VORM

  • PLUK

HOE: Kam die hare boontoe met ’n wenkbrouborsel. Knip uitstaanhare met ’n klein skêrtjie. Kam die hare ondertoe en herhaal. Begin aan die binnekant en pluk een haar op ’n slag. Wees versigtig om nie te veel te pluk nie.

VOORDELE: Dis presies, goedkoop en maklik om self te doen.

NADELE: Dit kan pynlik wees en die vel rooi en geïrriteerd laat.

WENKE: Pluk ná ’n warm stort. Hou jou haartangetjie in die vrieskas; dit verdoof die vel terwyl jy pluk.

  • WAS

HOE: Warm was word tussen jou oë en onder jou wenkbroue aangewend en afgetrek om die hare uit te ruk.

VOORDELE: Die hare groei fyner terug.

NADELE: Dit kan pynlik wees.

WENKE: Moenie was oor enige velaandoening gebruik nie. Trek in die teenoorgestelde rigting as waarin die hare groei.

  • DIE RYG-TEGNIEK

HOE: Twee stukke gare word oor jou vel gerol. Die gare vang die hare en lig dit uit die follikels.

VOORDELE: Dis vinnig, bekostigbaar en presies.

NADELE: Dis moeilik om iemand op te spoor wat die ryg-tegniek toepas.

WENK: Vra alternatiewe of Indiese skoonheidsalonne of hulle dit doen.

  • LASER

HOE: ’n Laserstraal word op die vel geskyn. Dit word omskep in hitte wat die follikel vernietig.

VOORDELE: Dis wonderlik as jy baie harig is.

NADELE: Dis tydrowend, duur en nie altyd permanent nie. Jou hare kan weer uitgroei.

WENKE: Wees baie seker van wat jy wil hê, want jy kan vir altyd met die vorm bly sit. Hoe growwer en donkerder jou hare, des te beter sal die resultate wees.