Maar volgens nuwe navorsing deur die Bristol-universiteit is ons werklik op ons mooiste ná een glas wyn – en die mens van jou drome hoef nie eens self onder die invloed te wees om so te dink nie.

Wetenskaplikes sê dit is omdat alkohol die pupille laat vergroot en die wange ’n mooi gloed gee. Dit laat ook die gesigspiere ontspan, wat mense toegankliker kan laat lyk.

Om dié slotsom te bereik het navorsers 40 studente gevra om wisselende hoeveelhede alkohol te drink. Hul foto is drie keer geneem – toe hul nugter was, ná een glas wyn en nadat hulle ’n tweede glas gedrink het – en hul nugter metgeselle is gevra om hulle volgens aantreklikheid in elke foto te beoordeel.

Volgens die verslag in LiveScience het die beoordelende deelnemers twee kop-en-skouers-foto’s langs mekaar gesien – een geneem toe die mens nugter was en een ná een drankie of een nugter-kiekie langs die foto wat ná twee drankies geneem is.

Die foto’s wat ná een drankie geneem is, was gewilder as dié wat nugter geneem is. Deelnemers het egter die nugter-foto verkies bo die een wat ná twee drankies geneem is.

“As dit waar is, dui dit daarop dat mense aantrekliker is nadat hulle ’n klein hoeveelheid alkohol ingeneem het,” het Marcus Munafò, senior navorser, aan LiveScience gesê.

“Maar as hulle meer alkohol inneem, word hulle nie meer as aantreklik beskou nie.”

Dit kan wees omdat spiere te slap en gesigte te rooi raak ná ’n hele paar drankies. Maar effens vergrote pupille dui weer op aantrekkingskrag en ’n goeie verstandhouding. “Dit beteken natuurlik nie dat alkohol gesond is nie,” sê Marcus, “net dat alkohol die gelaatstrekke uitlig wat ons as aantreklik beskou.”

As jy dus weer op ’n eerste afspraak gaan, moenie sleg voel oor daardie glas wyn wat jy drink om die senuwees te laat bedaar nie; dit laat jou dalk net nog mooier lyk. Maar dis ook ’n goeie rede om nie heeltemal meegevoer te raak en die volgende dag met ’n hoofpyn en berouvol op te staan nie!

© Cover Media