sick kitty

’N RUKKIE gelede was ek vrot van ’n vieslike, aaklige griep wat nie ’n probleem sou gewees het as ek my net soos ’n roti in my duvet kon oprol en dit afslaap nie. Maar ek was met vakansie en kon dit nie bekostig om op my vakansiefoto’s te lyk soos daardie meisietjie wat in The Ring uit die put kruip nie. Ek het dus seker gemaak dat ek blakend gesond lyk, en nou gaan ek jou wys hoe om dit reg te kry.

Kom ons begin met jou vel. As jy sukkel met ’n neus wat rooi en rou lyk, kry ’n verbloemroom met ’n geel of groen skakering wat enige rooiheid sal neutraliseer. Physician’s Formula (R120, uitgesoekte Dis-Chem-winkels) het ’n wonderlike verskeidenheid verbloemers, ’n groen en geel stiffie inkluis.

Physician's Formula concealer

Wat gelaatskleur betref: As jy bleek is soos ek en nou selfs meer soos ’n spook lyk, sal dit jou gesig ’n gesonde gloed gee en jou veltoon eweredig laat voorkom as jy ’n bietjie kitssonbruinroom aanplak. My absolute gunsteling-kitssonroom in die wêreld is Clarins Liquid Bronze (R310), aangesien dit binne twee tot drie uur ontwikkel, nie vetterig is nie en geen kitssonroomreuk het nie. Jy kan dit soos jou daaglikse vogroom aanwend met jou gewone grimering bo-oor.

Clarins Liquid BronzeTerwyl ons nou oor grimering praat, verbloemer is jou beste vriend wanneer jy siek is –  kies dus ’n goeie een soos Lancôme Long-lasting Softening Concealer (R325). Omdat dit waterdig is, sal dit nie oor jou gesig loop as die trane weens ’n hoesbui begin stroom nie. Lancome Effacernes concealer

Volgende: Moenie in die versoeking kom om jou oë helder te laat lyk met wit oogomlyner aan die binnekant van jou ooglid nie. Ek het al dikwels hierdie wenk in tydskrifte gesien, maar dit nog nooit goed sien lyk op enigiemand nie. In werklikheid trek dit net die aandag na jou rooi oë omdat dit ’n skerp kontras skep. Moet ook nie maskara aan die onderste wimpers smeer nie omdat dit ’n skadu onder jou oë sal gooi en daar is in elk geval ’n goeie kans dat jy reeds sinuskringe het.

Laastens maar nie die minste nie, kan jy jou ook probeer regruk met ’n kitsmooimaker soos SAMPAR se Glamour Shot Eyes (R295).

G. BOYNARD - PHOTOGRAPHESampar is ’n Franse kosmetiekreeks met die mooiste pienk verpakking wat eksklusief aan Edgars en Red Square is. Glamour Shot Eyes bevat ziljoene ligreflekterende deeltjies wat die voorkoms van donker skaduwees verminder terwyl dit fyn plooitjies wegsteek. Dit bevat ook anti-inflammatoriese bestanddele en hawermoutsemels wat by aanraking met jou vel saamtrek om die illusie van ’n effens geligte oog te skep.

Ek het ’n bietjie daarmee gespeel en gevind dat as ek dit voor my grimering gebruik, dit moeilik is om die verbloemer aan te wend.  As jy dit egter bo-oor jou grimering aanwend en dit saggies aantik, kry jy ’n baie mooi resultaat.

As jy hierdie koue seisoen met ’n aaklige verkoue te kampe het, maar nie so wil lyk nie, hoop ek regtig my raad help!

- Leigh van den Berg

Leigh-135x90 Leigh van den Berg is ’n vryskut- mode-en-skoonheidskrywer van Kaapstad. Sy is gek oor meisie- en glinstergoed en is veral trots daarop dat sy jou parfuum 10 tree ver kan uitken. Niks maak haar meer opgewonde as nuwe skoonheidsgoetertjies nie, behalwe miskien sjampanjedrankies, klapperlekkers en daai ou wat Dean in Supernatural speel. Lees haar blog by Lipgloss is my Life en volg haar op Twitter @lipglossgirl 

Lees Leigh se vorige blogs vir Huisgenoot by:

Tyd om te skitter

Die beste produkte wat ek onder oë gekry het