.

“Soos my ouma altyd gesê het: Minder is meer,” sê Kerry Brown van Blushing Beauty Make Up Artistry. Dit is ’n wenk wat sy selfs in haar 20’s toegepas het, sê Kerry.

Sy benadruk altyd vir kliënte ’n natuurlike voorkoms bly die beste opsie, want dit sal jou natuurlike skoonheid, die definisies in jou gesig en jou unieke sprankel beklemtoon.

Kerry sê dit maak nie saak waar sy is nie, sy gebruik ’n paar basiese grimeer-items om moeiteloos ’n natuurlike voorkoms te kry - dag of nag.

Hier is haar wenke:

  • Die perfekte basis vir jou grimering is baie belangrik. Dit sal jou veltekstuur verglad en ’n volmaakte “doek” skep vir jou grimeerroetine. Gebruik ook ’n titsel sonblok.
  • Steek donker kringe, fyn lyne of letsels met onderlaag weg. Dit sal enige onvolmaakthede verbloem en jou vel foutloos laat lyk.
  • Die gebruik van poeier of ’n ligte, vloeibare onderlaag word aanbeveel. Met ’n natuurlike voorkoms sal dik onderlaag nie werk nie. Wend die ligte onderlaag met ’n borsel of spons aan sodat dit glad is en jou gesig natuurlik vertoon. ’n Onderlaag met ’n sonbeskermingsfaktor word aanbeveel. Kerry sê ’n hoeveelheid so groot soos ’n vyfsentstuk is genoeg om die hele gesig te bedek.
  • Room of mat blossers werk goed omdat dit ingevryf kan word vir ’n subtiele voorkoms. Die kleur van die blosser sal afhang van jou velkleur, so kyk watter natuurlike kleur die beste by jou pas. Laat dit op jou wangbeen insmelt.
  • Wend ’n neutrale kleur aan jou ooglede aan. Kies ’n kleur wat net ’n skakering of twee donkerder as jou velkleur is. Enigiets te donker sal ’n dramatieser, onnatuurlike oogvoorkoms skep.
  • Wanneer jy ’n lipstiffie kies, kies uit ligtepienk, perske- en roomkleure. Jy kan ook ’n bietjie lipglans oor die lipstiffie aanwend.
  • ’n Dun lagie maskara is al wat jy benodig vir ’n natuurlike voorkoms. Jy wil steeds jou oë laat uitstaan, so as jy ligte wimpers het, kan jy ’n ekstra laag maskara aanwend. As jy natuurlike donker, vol wimpers het, kan jy die maskara weglaat. (As jy ’n effe dramatiese voorkoms wil hê, krul lang wimpers.)
  • Hoewel oogomlyner wonderlik is vir dramatiese ooggrimering, pas dit nie by die natuurlike voorkoms nie. Moet dus nie enige oogomlyner aanwend nie. “Nie net sal jou gesig pragtig lyk nie; jy gaan mal wees oor hoe maklik dit is om die grimering te verwyder,” sê Kerry oor die natuurlike voorkoms.