AS JY dikwels ver moet vlieg, weet jy dat dit maar moeilik is om ná ’n lang vlug wakker te word (dis nou as jy enigsins kon slaap) en goed te lyk. Maar met die regte produkte kan jy die lughawegebou binnesweef sonder dat jy soos ’n algehele wrak lyk of voel.

Eerstens: As jy soos ek wasbleek is, gaan jy vooraf ’n goeie gesigverbruiner nodig hê. My gunsteling bly maar Clarins se Liquid Bronze Facial Self-tanner (R320). ’n Bietjie van ’n sonbruin op jou gesig sal voorkom dat jy bleek en uitgeput lyk en jou vel gladder en gesonder laat lyk sonder dat jy onderlaag hoef te dra.

Laat voor jou vlug ook jou wenkbroue professioneel pluk en as dit baie lig is, kan jy dit en jou wimpers gerus laat kleur. So hoef jy ook nie ’n oogpotlood of maskara saam op die vliegtuig te piekel nie.

As jy eers aan boord is, gaan jy op die volgende moet staatmaak om jou te help goed lyk:

  • 1 pakkie gesig-afveedoekies
  • 1 nagroom-monstertjie wat baie, baie goed bevogtig
  • 1 dagbevogtiger-monstertjie wat effens ligter is
  • 1 mini-tandeborsel
  • 1 verbloemer
  • 1 lipstiffie wat baie goed bevogtig en ook as blosser ingespan kan word

Voor jy gaan slaap (met of sonder daardie slaappil), moet jy al jou grimering verwyder en hope nagroom aanwend. Baie gesondheidshuise het gratis mini-mostertjies; ek is die gelukkige eienaar van ’n piepklein Decléor se Aroma Night Iris Rejuvenating Night Balm (R450).

Dit werk fantasties want dis ’n dik balsem wat vog in jou vel vasvang sodat dit nie na die droë kajuitlug ontsnap nie. Dit ruik ook heerlik omdat dit ’n bietjie ontspannende aromaterapie-olie bevat.

Wanneer dit amper tyd is om te land, haal jy net weer jou gesig-afveedoekies uit en verwyder die balsem. Jy kan dan die ligter dagroom aanwend, jou wenkbroue met die tandeborseltjie uitkam en enige ekstra bagasie onder ’n goeie verbloemer wegsteek. Ek het onlangs Catrice se Camouflage Cream (R49,95, net by Dis-Chem) ontdek.

Dis dik genoeg om selfs die donkerste kringe onder jou oë te verbloem maar wend steeds maklik aan en koek nie in enige plooitjies saam nie. Dis in ’n potjie pleks van ’n buisie en jy hoef dit dus nie as ’n “vloeistof” te verklaar wanneer jy deur die sekuriteitshek stap nie.

Die finale afronding? Smeer jou lipstiffie op sowel jou lippe as jou wange – dis minder om saam te dra en skakel nog ’n konfiskeerbare botteltjie uit.

Ek is op die oomblik mal oor Elizabeth Arden se Beautiful Colour Moisturizing-lipkleur in Pretty Pink, (R210). Dis met voedende galambotter verryk en bevat die antiokisdant-vitamiene A, C en E. Dit bevat ook ’n samestelling wat Arden Volulip noem wat vog in jou lippe vasvang en dit ’n bietjie oppof.1En daar lyk jy woeps-waps heeltemal skaflik sonder dat jy ’n hele sak skoonheidsmiddels aan boord hoef te gesleep het.

Lekker landings!

- Leigh van den Berg

Leigh-135x90 Leigh van den Berg is ’n vryskut- mode-en-skoonheidskrywer van Kaapstad. Sy is gek oor meisie- en glinstergoed en is veral trots daarop dat sy jou parfuum 10 tree ver kan uitken. Niks maak haar meer opgewonde as nuwe skoonheidsgoetertjies nie, behalwe miskien sjampanjedrankies, klapperlekkers en daai ou wat Dean in Supernatural speel. Lees haar blog by Lipgloss is my Life en volg haar op Twitter @lipglossgirl 

Lees Leigh se vorige blogs vir Huisgenoot by:

Op soek na ’n nuwe sjampoe?

Groter borste uit ’n buisie, ontrimpeling uit ’n pen

3 stappe na begeerlike bene

Lyk fantasties (al het jy ’n vieslike verkoue)

Tyd om te skitter

Die beste produkte wat ek onder oë gekry het