Hooffoto TANT MIEMS van die Weskus het by vele geleenthede vertel van die Groot Depressie en die swaarkry wat daarmee gepaard gegaan het. Maar een storie wat Stadsjaap bybly, is dié van haar niggie se susterskind, Willempie, wat so gesukkel het om ’n nooi te kry. Nou kyk, soos tant Miems die knaap beskryf het was hy glo ’n baie aantreklike jong man, maar daar was ’n klein probleempie: Die outjie het bedags as bouer gewerk en glo vreeslik gesweet. Toenterjare was daar nie duur ontwerpersparfuum of deftige olies beskikbaar nie. Seep en water moes deug. Maar met dié dat alles bykans onbekombaar was weens die Depressie, het die jong man vreeslik gesukkel met sy sweetblaaie – in so ’n mate dat g’n nooi na hom wou kyk nie. Stadsjaap is natuurlik van mening dat tant Miems die storie vreeslik aangedik het vir effek, maar dit illustreer tog ’n belangrike punt: Moet nooit die waarde van lekker ruik onderskat nie. Nou ja, soos Stadsjaap al telkemale by vorige geleenthede genoem het: Ingewikkelde dinge is onnodig. En min dinge is juis so ingewikkeld soos parfuum. Ondertone, botone, oliekonsentrasies, eau de dit, eau de dat – alles terme wat vir die meeste mans Grieks is, en Stadsjaap stem saam. Daar is regtig net ’n paar goed wat belangrik is om seker te maak jy ruik altyd lekker. Seep en water soap bars Daar is niks wat seep en water nie kan skoon was nie, het die wyse tant Miems vanmelewe gesê. Hoe eenvoudig dit ook al klink: Seep en water is jou vriende. (Stadsjaap vermoed hierdie pêrel van wysheid is veral belangrik vir tieners). Hou dit eenvoudig: gewone witseep of stortseep is die doeltreffendste. Daar is letterlik honderde soorte en handelsmerke op die rakke. Stadsjaap het omtrent al elke liewe een beproef: Ongegeurde seep is jou beste opsie. Hoe gemaak vir daardie dag van 24 uur? [caption id="attachment_58125" align="alignnone" width="300"]Foto: Hynkle op Flickr Foto: Hynkle op Flickr[/caption] Natuurlik kan jy skrop tot jy blou is, maar hoe bly jy ’n dag lank vars? Die eenvoudigste oplossing: aanrol. Weer eens vind Stadsjaap die ongegeurde een die beste. Daar is nie regtig ’n groot verskil tussen die jel en die balletjie-tipe nie. Dit is ’n geval van persoonlike voorkeur en prys. Ken jou reukwaters

Wanneer dit by reukwater kom, is daar ’n paar dinge om te onthou. Die heel eerste daarvan is wat parfuum regtig is. Die woord self beteken "deur rook". Verskillende geure is verkry deur kruie aan die brand te steek. Later is gegeurde olies vermeng om unieke geure te skep.

Een belangrike term hier is “intensiteit”. Die intensiteit van reukwater word bepaal deur die konsentrasie van die olies wat gebruik word om ’n fyngeur te maak. Dít bepaal ook natuurlik die beskrywing, prys en hoe lank die geur sal hou. Hier is ’n vinnige opsomming:

  • Parfuum 18 tot 30 persent essensiële olie, hou omtrent 15 uur! Dis besonder duur en daarom taamlik seldsaam.
  • Eau de parfum 8 tot 18 persent essensiële olie, hou 8-10 uur. Dis makliker bekombaar, maar is steeds baie duur.
  • Eau de toilette 4 tot 8 persent essensiële olie, hou 4-8 uur. Dis die tipiese konsentrasie fyngeur wat in die meeste winkels te koop is en is meer bekostigbaar.
  • Cologne (Keulse water, as jy mooi Afrikaans wil praat, of oliekolonie, soos tant Miems sou sê): 2 tot 5 persent essensiële olie, hou nie baie langer as 2 uur nie, is oral beskikbaar en is goedkoop.
Stadsjaap is van mening dat die beste waarde vir geld die eau de parfum is – dis nou as jy bereid is om in ’n goeie bottel reukwater te belê wat jou baie lank gaan hou as jy dit korrek gebruik. Waar spuit jy?

Stadsjaap deel graag die volgende 4 reëls.

  •  Moet nooit parfuum regstreeks op jou klere spuit nie. Die olies gaan jou klere vlek. Stadsjaap sien gereeld hoe ’n netjiese wit hemp vol geel botterkolle in gange afgestap kom. Hierdie is na die uwe se mening die belangrikste ding om van kennis te neem.
  •  Spuit een spuit elk op die volgende plekke: agter die nek, aan die nek net onder die ore, op die middel van die borskas, op albei polse en een spuit agter elke knie (ja, Stadsjaap hoor jy vra “rêrig?”, maar dit werk sowaar en gee daardie ekstra bietjie woema; probeer dit self!) [caption id="attachment_58133" align="alignnone" width="600"]Foto: WikiPhotos Foto: WikiPhotos[/caption]
  • Let op dat Stadsjaap hierbo van een spuit praat. As jy jou so toe gaan spuit dat dit lyk asof ’n wolk om jou hang, gaan jou fyngeur nooit langer as ’n maand hou nie, en mense gaan koes omdat die reuk te oordonderend is. Daar is min dinge so erg as ’n verstikkende geur wat die kantoorgange, badkamers en raadsaal vol hang.
  • Die korrekte hoeveelheid is wanneer iemand anders eers kennis van jou fyngeur sal neem as hulle binne ’n armlengte van jou af is. As Sarie van krediteure aan die ander kant van die gebou dit raakruik, dra jy te veel!
Hoe kies jy die regte soort?

[caption id="attachment_58128" align="alignnone" width="600"]Foto: MonkHie op Flickr Foto: MonkHie op Flickr[/caption]

Stadsjaap het al van soveel maniere en metodes verneem om die regte geur te kies dat dit hom duiselig maak. Hy het dus ’n veel eenvoudiger stelsel bedink en hou al jare lank daarby. Dit sal volgens die kenners seker nie korrek wees nie, maar dit werk goed! Stadsjaap kan ’n gekompliseerde saak nie verdra nie.

  • Parfuums wat jy in die dag dra: Dink aan ligte, blomagtige geure.
  • Vir die aand kies jy swaar, donker, speserygeure.
  • Hoe verspot dit ook al klink, werk die volgende vir die uwe: Maak jou oë toe as jy ’n fyngeur ruik. Herinner die fyngeur jou aan vuur of water? Dit is nie altyd so opvallend nie, maar as jy weer daaraan ruik, sal jy definitief “warm” en “koel” geure kan onderskei. Warm geure (vuur) is vir die aand. Ligte, koel, waterige geure is vir die dag. So eenvoudig is dit.
Toets die fyngeur eers op jou vel deur dit op jou pols te spuit. Stadsjaap is nie ’n groot voorstander van die papiertjies in winkels nie: Papier is nie jou vel nie, en parfuum op papier sal altyd lekker ruik. Sodra dit op jou vel kom (weens chemiese reaksies waarvan die uwe niks verstaan nie) kan die baie duur bottel eau de parfum soos katpiepie op ’n Persiese tapyt ruik. Toets liewer vandag een geur, en môre of oormôre ’n tweede. Dit is belangrik om te onthou dat fyngeure deel van jou persoonlikheid is en mense jou daaraan sal herken! Moet dus nie sommer enigiets koop nie. Nota bene

Stadsjaap is nie baie lief vir lysies van die 10 beste geure vir die somer nie. Wat by oom Piet werk terwyl hy ploeg en skaar, gaan definitief nie by fyngesnaarde Marnus van Loevenstein werk nie. Die perfekte fyngeur is ’n kombinasie van persoonlike voorkeur en chemiese reaksies. Stadsjaap neem altyd iemand saam as hy gaan reukwater koop. Natuurlik het Stadsjaap sy gunsteling-reukwater, maar ’n jonge heer kan nooit te veel reukwaters hê nie! Skaf aan waarvan jy hou en wat jy kan bekostig. Belangrik is dit natuurlik om nóóit fyngeure aan te skaf sonder dat jy dit eers op jou vel getoets het nie. Dit sal ’n duur kopie wees!

Dus: Ruik goed en lyk goed! Jy sal soos ’n miljoen dollar voel!

Groetnis,

Stadsjaap en Metroman

StadsjaapStadsjaap en sy mater Metroman blog vir Huisgenoot oor mode-idees vir mans wat skaflik en modern wil lyk sonder om ’n plaas se geld te betaal of soos ’n pronkende pou te lyk. Soek jy moderaad? Vra dit gerus op hul webtuiste, hul Twitter-rekening (@stadsjaapinfo) of op Facebook.