Dis salig: son, seesand en draairoomys. Ná ’n jaar se harde werk begin jy al weke voor die tyd na jul seevakansie uitsien.

A post shared by Australia (@australia) on

Daar is net een probleem: Die seelug en jou hare is nie maats nie. Dit krul, kroes of draai in al die rigtings waarin dit nie moet nie.

Die stilis David Gillson, mede-eienaars Carlton Hair in Melrose Arch, gee dié wenke:

  • “Verskerp jou opknappingsroetine en voeg ’n ekstra behandeling by jou was- en opknapperroetine. Die Davines-reeks het ’n produk wat jou hare bou.”
  • Stadig met die stilering. “Moenie jou hare soveel soos gewoonlik stileer nie en werk met seesoutsproei om daardie sexy Kate Moss-voorkoms te kry,” is David se raad.
  • Gebruik sonskerm wat spesiaal vir hare ontwerp word. “’n Mens kry ’n vloeibare haarserum wat sonblok bevat.” Veral blondines moet seker maak hul hare word beskerm teen die elemente. David stel voor hulle gebruik ’n silwersjampoe.
  • ’n Sagte permanente golwing is weer in die mode. Dit is veral goeie nuus wanneer jy by die see is en jou nie hoef te bekommer oor jou andersins reguit hare wat kroes nie. David sê die golwing word met agt groot krullers gedoen en hou drie maande lank. “Die permanente golwing was jare laas in die mode; dis nou ’n meer stranderige soort golwing.”
  • David raai mense ook aan om ná die vakansie by die haarsalon ’n draai te maak vir ’n haarbehandeling.
  • Vir mense wie se hare geneig is om te kroes, het hy nog goeie nuus: ’n Splinternuwe soort Brasiliaanse gladstrykmetode word nou gebruik. Met die Sweet Hair Brazilian bly jou hare ’n paar maande lank glad. “Dit word anders as voorheen gedoen en is volkome veilig,” sê David. Geen formaldehied word in die proses gebruik nie. “Die nuwe produk is vir toetse gestuur na Amerika, waar hulle bevind het dit is heeltemal veilig vir gebruik,” sê David.