Die Oscars is nie net ’n aand waar die room van die filmwêreld byeenkom om akteurs, aktrises, regisseurs en enigeen wat saak maak in dié glansryke bedryf te vereer nie.

Dit is ook ’n hoogtepunt op enige modeghoeroe se kalendar want die sterre haal behoorlik uit en wys. Ongelukkig kry almal dit nie ewe mooi reg nie en kan ’n rooitapytuitrusting net so gou ’n mislukking wees soos ’n Hollywood-fliek.

Hier is wat Huisgenoot se mode-assistent, Grethe Swart, te sê het oor die Oscars se mooiste (en lelikste!) uitrustings.

Die mooistes:

Olivia Culpo in Marchesa

Sy lyk asemrowend in die rok met kraletjie-versiering en fraiing-detail – eenvoud op sy beste.

Emma Stone in Givency Haute Couture en juweliersware deur Tiffany & Co.

Die kralewerk aan die onderkant van hierdie kristal-geborduurde rok het haar beslis soos ’n wenner laat lyk.

Jessica Biel in KaufmanFranco met juweliersware deur Tiffancy & Co.

Jessica Biel was van kop tot tone in goud gegiet en haar bonkige halssnoer het die voorkoms daardie ietsie ekstra gegee. Ons hou van haar eenvoudige grimering en haarstyl – dit verseker dat haar rok al die aandag trek.

Hailee Steinfield in Ralph & Russo

Hailee het haar jeugdige vroulikheid gevier met ’n wasige skepping met blomversiering wat vir ’n tikkie elegansie gesorg het.

Karlie Kloss geklee in Stella McCartney, juweliersware deur Nirva Modi en hakskoene deur Stuart Weitzman

Karlie was beeldskoon in ’n spierwit asimmetriese skepping met skouermantel deur Stella McCartney.

Die swaksgekledes:

Janelle Monae in Ellie Saab Couture en diamant-juweliersware deur Forever Mark

Die mengelmoes van teksture het gelei tot ’n amper té dramatiese voorkoms.

Dakota Johnson in Gucci en juweliersware deur Cartier

Dié uitrusting doen niks vir haar ligte velkleur nie – sy lyk bleek en broos. ’n Tikkie kleur of blinkgoed kon die voorkoms daardie ietsie ekstra gegee het.

Scarlett Johansson in AlaÏa

Die rok vlei nie haar kurwes nie en die belt met blinkertjies was heeltemal te grof vir die sagte, romantiese skepping.

Salma Hayek in Alexander McQueen

Die materiaal ontbloot te veel vel. Die rok vlei haar geensins en is te deurskynend.

Felicity Jones in Dior

Die kleur van dié rok is te bleek en het Felicity in die agtergrond laat verdwyn.