Of jy nou jou grys hare wil bedek, jou natuurlike kleur wil verbeter of ’n nuwe voorkoms wil skep, ons wys jou hoe om jou hare perfek by die huis te kleur

Jy benodig

  • ’n Haarkleurstel
  • Plastiek- of latekshandskoene (gewoonlik saam met die stel voorsien)
  • Wyetandkam
  • Klam lappies
  • Ou handdoek

Voor jy begin

Kies die kleur wat jy wil gebruik. As dit die eerste keer is dat jy jou hare kleur, moet jy eerder konserwatief wees wanneer jy ’n kleur kies. Kies een wat nie meer as twee skakerings donkerder of ligter as jou natuurlike kleur is nie en bly binne dieselfde basiese skakering.

STAP 1Lees die aanwysings in die haarkleurstel noukeurig en doen die veltoets deur ’n titsel van die kleurmengsel aan die binnekant van jou arm te smeer. Wag ’n paar uur om te kyk of jy het ’n allergiese reaksie het. Indien wel, moenie voortgaan nie.

STAP 2 Kry die mengsel gereed. Dit sal ook stap vir stap in die aanwysings verduidelik word.

STAP 3 Kam jou hare behoorlik voor jy die kleurmiddel aanwend. As jou hare gekoek is, sal die kleurmiddel nie eweredig versprei nie.

STAP 4 Begin die kleurmiddel by jou wortels aanwend deur die hare in klein seksies te verdeel. Sorg dat jy die kleurmiddel in die hare invryf. As dit jou eerste keer is, gaan voort om die kleurmiddel aan die res van jou hare te sit. As jy jou hare al voorheen gekleur het, kleur net jou wortels – jou hare sal bros word as jy dit gereeld tot by die punte kleur – en wend kleurmiddel aan die res van jou hare 10 minute voor die kleurtyd om is. Die kleurtyd sal altyd op die haarkleurmiddel se aanwysings aangedui word.

STAP 5 Gebruik klam lappies om enige kleurmiddel af te vee wat op jou vel beland het. ’n Goeie vryf sal voldoende wees.

STAP 6 Wanneer die tyd verstreke is, was die kleurmiddel uit met koel tot louwarm water tot die afloopwater skoon is.

STAP 7 Knap jou hare op met die opknapper wat saam met die stel verskaf word.

STAP 8 Laat jou hare natuurlik droog word, want enige hittestilering direk nadat jy jou hare gekleur het, kan jou hare beskadig.

WENKE

  • Moenie jou hare was op die dag wanneer jy jou hare wil kleur nie. Kleur jou hare ’n dag of twee nadat jy dit laas gewas het; die kleurmiddel is dan doeltreffender.
  • Wend ’n opknappende behandeling aan ’n week voor jy jou hare kleur. Die voeding sal goeie voorsorg wees vir die chemikalieë in die haarkleur wat jou hare kan uitdroog.
  • Moenie jou hare binne minstens twee weke kleur ná die vorige kleursessie nie, al is jy nie tevrede met die resultaat nie. Dit kan baie skadelik wees vir jou hare en dit bros maak.
  • Belê in ’n kleurbeskermende sjampoe en opknapper wat jou hare sagkens behandel; jy het dit nodig om jou kleur langer te laat hou.

Deur Anja Joubert