Die mededinging tussen ons vyf groot banke tel in ons guns, want hulle maak dit vir ons ál makliker om van bank te verwissel. Elke bank adverteer hoe hulle nuwe kliënte hul rekeninge sal help skuif.

Maar moet dit nie sommer net doen omdat een rekening goedkoper as ’n ander lyk nie; jy moet die koste goed opweeg teen die dienste wat jy kry en dit wat jy nodig het.

Maar as jy die regte keuse maak, kan dit jou baie bankkoste bespaar. Ek het ’n paar jaar gelede letterlik duisende rande per jaar se bankkoste begin bespaar deur te skuif na ’n bank wat kostedoeltreffender is vir mense wat elektroniese bankdienste gebruik.

Doen net eers jou huiswerk voor jy skuif sodat jy reg besluit.

Voor jy skuif

Kyk na die transaksies wat jy die meeste doen en vind uit of jou huidige bank ’n beter rekeningopsie daarvoor het.

Vergelyk dan jou bank se rekeninge met die koste, dienste, rentekoerse en lojaliteitsvoordele van ander banke s’n.

As jy in ’n nuwe bank belangstel, vind uit hoeveel kitsbanke en takke in jou omgewing is, want dit kan baie ongerieflik raak as jy ver moet ry vir basiese dienste.

As jy ’n internetgebruiker is, moet jy ook tevrede wees met die bank se elektroniese dienste, soos die webtuiste en apps vir slimfone.

Een, twee, drie na ’n nuwe rekening

Die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) beveel die volgende stappe aan as jy van bank wil verwissel:

1. Maak ’n nuwe rekening oop

Jy kan eers transaksies na ’n nuwe bank oordra wanneer jy amptelik ’n rekening daar het. Die bank moet jou die volgende inligting van jou nuwe rekening gee: die voorwaardes; standaardfooi, heffings en rentekoerse; en kontakinligting vir ondersteuning wanneer jy skuif. Kry solank ’n bewys van jou woonadres en jou groen IDboekie gereed.

Baie banke vra drie maande se state van jou huidige bank, asook ’n bewys van inkomste, soos jou jongste salarisstrokie. Jy kan by ’n banktak, op die internet of per telefoon vir ’n rekening aansoek doen.

2. Skuif jou transaksies

Vra die volgende inligting van jou ou bank (volgens Basa moet hulle dit binne 10 werkdae verskaf):

  • Jou laaste drie maande se bankstate.
  • ’n Lys van debietorders op jou rekening.
  • ’n Lys van al die begunstigdes wat gekoppel is aan jou rekening.
  • Inligting van enige karate of rekeninge wat aan jou ou rekening gekoppel is.

Hou afskrifte van al die inligting, maar vra ook of jou nuwe bank sal help om byvoorbeeld begunstigdes op jou rekeningprofiel te laai.

Die meeste banke is bereid om namens jou as nuwe kliënt die debietorders na jou nuwe rekening oor te dra. Nadat jy aan jou nuwe bank ’n getekende debietorder- en salarisinbetalingsvorm gegee het, kan die bank die nuwe rekeningbesonderhede aan jou bestaande debietorderbegunstigdes (byvoorbeeld jou selfoonmaatskappy) en werkgewer gee. Jy sal dit moontlik steeds met die debietorderbegunstigde en werkgewer moes bevestig het.

Vind uit hoe gou die bank die debietorderoordragte gaan doen, want jy kan dit dalk vinniger self doen. Maak ook net baie seker jou werkgewer kry jou nuwe inligting betyds voor enige debietorders dalk daar afgaan.

3. Vra jou ou bank om jou rekening te skuif

Onthou, dit neem tyd om van bank te verander en dit is raadsaam om jou ou rekening minstens nog ses weke oop te hou om seker te maak alles verloop vlot en is oorgedra voor jy dit sluit. Vra jou ou bank om alle geld wat dan nog in daardie rekening is, na jou nuwe bankrekening oor te dra.