Hoe wend jy oogomlyner aan?

• Tensy jy klub toe gaan, is swaar, swart oogomlyner van hoek tot hoek gans te veel. Begin by die buitehoek, werk inwaarts en wend oogomlyner in wikkelbeweginkies aan. “Vroue is geneig om ’n soliede lyn op hul ooglede te trek. Beweeg liewer die potlood in kort hale en so na moontlik aan die oogwimpers,” sê Marchet Terreblanche, ’n beroepsgrimeerkunstenaar. “As die lyn te presies is, kan jou oë kleiner lyk.”

• Jy kan jou boonste lid omlyn en nie die onderste nie, maar nie andersom nie, want dit kan ongebalanseerd lyk.

Hoe wend jy jou maskara ordentlik aan?

Marchet sê die meeste van ons maak die fout om reguit na onsself in die spieël te kyk. “Dit veroorsaak dat jy net aan die punte van jou wimpers maskara sit. Gebruik liewer ’n handspieël en kyk met ’n hoek na jou oog. Dit sal jou ’n baie beter blik op jou wimpers gee.”

• Leer jou maskaraborsel met respek behandel. As jy dit herhaaldelik by die buisie inpomp, sal klonte ontstaan weens die ekstra lug. Dit sal dan vlokkerig en klonterig aan jou wimpers lyk. Draai dit liewer sagkens vorentoe en agtertoe of in sirkelbewegings. As jy te hard druk, sal jy maskara oral aan jou ooglede kry.

• Hou jou gewrig ontspanne terwyl jy maskara aanwend.

• “Begin by die wortel en wikkel die borseltjie,” sê Marchet. As daar geen maskara aan jou wortels is nie, sal jou wimpers korter lyk as wat hulle eintlik is.

TOP-WENKE

• Vervang jou maskara elke paar maande. Die kieme wat in ou maskara groei, kan rooiheid en ontsteking veroorsaak. “Moet nooit met maskara gaan slaap en dit dan die volgende oggend weer aanwend nie. Jy kan jou oë baie skade berokken,” waarsku Marchet.

• Doop watte in jou ooggrimeringsverwyderaar en hou dit 10 tot 15 sekondes teen jou oë. So sal die oogomlyner en maskara afbreek en dan kan jy, pleks van vryf, dit net sagkens afvee.

Deur Jani Coetzee