Met dié produkte in jou handsak sal jy reg wees vir enige skoonheidsnoodgeval.

  • MONDSPOEL-MIDDEL

Hou altyd mondspoelmiddel in jou sak om jou asem vars te hou.

  • VLEKROOM

BB (Blemish Balm) is ’n moet vir elke handsak. Dit dien as grondlaag vir grimering, gee ’n egalige gelaat, bedek klein foutjies, hidreer jou vel en verhelder ’n dowwe gelaat.

  • BLOSSER

’n Goeie blosser kan jou geheime wapen wees. Tik liggies aan die bol van die wang of net bokant jou wangbeen vir ’n gesonde kleur.

  • DROE SJAMPOE

Ideaal vir dae dat jy nie tyd gehad het vir hare was nie. Dit gee olierige, lewelose hare nuwe woema.

  • KLAM LAPPIES

Vee die dag se stof en olie af voor jy nuwe grimering aanwend, of gebruik dit om grimeerfoutjies mee reg te maak.

  • LIPGLANS

Bly vroulik met ’n tikkie glans aan jou lippe. Tik ná werk ’n bietjie lipglans aan en jy is reg vir ’n aandjie uit.

  • HANDEROOM

Sorg dat jou hardwerkende hande higiënies bly, en keer droë hande met ’n sagte handeroom wat heerlik ruik.

  • SONSKERM

Beskerm jou vel teen skadelike strale, selfs op dae wanneer dit nie bloedig warm is nie.

Deur: Jani Coetzee