01

Hier is ’n paar nuttige wenke om ’n fantastiese partytjie te hou sonder om jou spaarvarkie te slag!

Goedkoop kolwyntjiehouertjies is dalk nie ideaal wanneer jy kolwyntjies bak nie, maar dit werk uitstekend as ’n lekkergoedhouertjie. Maak dit met klein malvalekkers of ander lekkers vol en bied dit op ’n muffinpannetjie vir jou gaste aan. Goedkoop kolwyntjiehouertjies is by Mr Price en Wespack beskikbaar teen net R19 per pakkie.

02

Gebruik Cutie Pies pleks van kolwyntjies en versier hulle met ongewone kolwyntjieversierings. Dit is by die meeste bak- en kunsvlytwinkels te kry (Mr Price verkoop goedkoop vlaggies). Jy kan dit ook self maak deur versierinkies op ’n tandestokkie te plak.

Papierstrooitjies is nou groot nuus, maar maak seker jy betaal nie onnodig duur daarvoor nie. Flower Spot in Johannesburg verkoop hulle nou teen net R20 per pakkie! Gebruik hulle as “sosatiepenne” vir malvalekkers of verras jou gaste met papierstrooitjies in herwinde bottels.

03

Stempel self jou papierservette: Stempels is oral beskikbaar en is ideaal as jy goedkoop servette, partytjiesakkies, koevert of plekname wil opkikker. Die helderpienk ink is van Typo.

04

Klein details kan jou tafel in iets ongeloofliks omskep. Hierdie klein swartbordpennetjies is te kry by Flower Spot in Woodmead (R20 vir ses) en gee gewone breekgoed ’n partytjiegevoel. Boonop kan jy dit jaar ná jaar en vir partytjies vir mans en vroue gebruik. Gebruik verskillende vorme (hartjies, wolkies, blomme en meer) op jou glase of bakke en vul laasgenoemde dan met skyfies, lekkers of koekies.

05

Ja, gourmet-koekies is duur, so kry maar net een of twee pakkies van hierdie pragtig versierde koekies van Melissa’s.

As jy op soek is na die goedkoopste, pragtigste bederf, leer meringue en pawlowa maak. Moet egter nie die hele resep maak tensy jy ’n goeie menger het nie. Halveer eerder die resep; andersins sal ’n handklitser nie die volume kan baasraak nie.

Klein pawlowa’s(12-16 kleineres of een grote)

6 ekstra-groot eierwitte

400 g strooisuiker

vanilla na smaak (gebruik wat jy verkies: essens of ekstrak)

  1. Verhit die oond tot 150 °C.
  2. Klop die eierwitte styf tot punte vorm en voeg die suiker geleidelik by.
  3. Plaas skeppies meringue op ’n kleefvrye mat.
  4. Vir 18, bak 50-60 minute.
  5. Vir 12-16 (klein individuele pawlowa’s) bak ’n uur.
  6. Vir een groot pawlowa, bak 1 uur 40 minute.

Ander wenke vir begrotingsvriendelike partytjies: 

  • Gebruik waspapier om temaborde vir versnaperings te bedek sodat jy die borde weer kan gebruik.
  • Skyfies kan voorgesit word in ongewone houers, soos leë blikkies, kartonhouers of selfs ou geskenkboksies. Voer dit net met waspapier.
  • Pluk blomme. Ek kan jou nie eens begin vertel hoeveel keer ek al die partytjie opgekikker het met blomme uit die buurt se tuin nie. Gebruik sommer herwinde bottels as blompotte.
  • Koop by ’n winkel soos Chamdor materiaal vir ’n tafeldoek. Gebruik ’n uittandskêr om die materiaal te knip sodat dit nie rafel nie en gebruik die tafeldoek jaar ná jaar. My wit-en-pienk gingang-“tafeldoek” hou al ses jaar; 4 m materiaal het my net R200 gekos.
  • Koop foeliekoekpanne of gebruik dié van ou gebak as ’n goedkoop koekstaander wat jy weer en weer kan gebruik. Draai die vierkantige deel met geskenkpapier toe en sit dit op ’n vaas, waarin jy kleurryke lekkers, skulpies of selfs ’n blom sit. Eintlik kan jy enigiets plat toedraai, soos boeke.
  • Moenie sleg voel as jy nie ’n partytjiegeskenkpakkie gee nie – ek dink in elk geval dis ’n groot mors van geld. Ek gee eerder bruin papiersakke (vir diegene wat vra) en laat die kinders toe om enige orige lekkernye saam huis toe te neem.
  • Bespaar op die koek. Koeke met ’n 3D-tema is outyds en peperduur. ’n Eenvoudige vanillasponskoek (jy kan dit selfs maak van ’n pakkie winkeldeegmengsel) kan net so mooi by die huis versier word met tuisgemaakte vlaggies en dies meer. Vlaggies met bepaalde temas (soos seerowers of ballerinas) is beskikbaar by In Good Company (Johannesburg, Kaapstad of aanlyn) vanaf R80.
  • Leer jou eie uitnodigings maak met www.picmonkey.com. Dis GRATIS. Jy kan dit pos of druk.