DIÉ MEISIES BREI

Dis amptelik: Jou ouma se gunsteling-stokperdjie is groot nuus. Dakota Fanning sê sy is mal daaroor om vir medesterre serpe te brei terwyl sy tyd op rolprentstelle verwyl. Maar as teemussies en mussies nie jou ding is nie, wat van ’n gebreide weergawe van jou gunsteling-ster? Knitted Icons: 25 Celebrity Doll Patterns (R139,95, Kalahari.net) wys vir jou hoe om van Hollywood se beroemdste ikone soos Marilyn Monroe, Madonna en King Kong te brei. En sodra jy genoeg selfvertroue het, kan jy kyk of jy ’n gebreide R-Pattz of Justin Bieber kan optower. Om te begin, gaan koop breinaalde en wol by jou naaste handwerkwinkel en vra jou ma of ouma om jou touwys te maak. As dit nie ’n opsie is nie, gaan na YouTube en tik “knitting tutorial” in die soekveld – daar is hope video’s wat jou wys hoe om amper enigiets onder die son te brei!

BAK EN BROU

Soet eetgoedjies smaak nog lekkerder as dit met liefde gebak is. En almal sal jou aanbid as jy by die skool met die lekkernye vir pouse opdaag! Sjokoladebruintjies is altyd ’n wenner – probeer die resep uit The Australian Women’s Weekly Macaroons & Biscuits kookboek (R79,95, Kalahari.net).

SJOKOLADEBRUINTJIES

Bestanddele:

125g fyngemaakte botter chopped

½ koppie superfyn strooisuiker

2 eiers

1¼ koppies gewone (veeldoelige) meel, gesif

185g donker sjokolade, opgekap

155g wit sjokolade,opgekap

50g melksjokolade, opgekap

Maak so

  1. Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer olie in ’n diep, 20cm² koekpan en voer dit uit met bakpapier en laat die papier 5cm oor die kante hang.
  2. Meng botter en donker sjokolade in ’n medium kastrol. Roer oor loae hitte tot dit glad is. Laat vir 10 minute afkoel.
  3. Meng strooisuiker en eiers en dan gesifde meel, wit sjokolade en melksjoklade by.
  4. Gooi mengsel in pan.
  5. Sit in die oond en bak vir sowat 35 minute. Sny dit in die pan as dit afgekoel het.

Tip: Sny in vierkante, draai toe in sellofaan en maak oulike geskenkkaartjies daaraan vas!

KOOP TWEEDEHANDS

Baie van vandag se modes is geïnspireer deur modes uit vorige eras. Helder kleure? So tagtigs! Maksirompe? Gewild in die sestigs! Waarvoor wag jy? Gaan maak dadelik ’n draai by jou naaste tweedehandsewinkel en koop ’n paar spotgoedkoop items!

As jy wenke nodig het, gaan kyk na Nicole Warner se blog. Sy is die meesterbrein agter die Australiese aanlynwinkel Gary Pepper Vintage. Sy deel haar topwenke.

  1. “Gaan na Google en soek na tweedehandse winkels of markies in jou gebied. Onthou om by jou plaaslike kerke te gaan kyk, want hulle het dikwels klein tweedehandse winkels wat op die agtergrond versteek is.”
  2. “Maak seker jy het ’n idee van wat jy soek as jy antieke inkopies gaan doen. Dit sal dit makliker maak om deur alles te gaan.”
  3. “Vat jou tyd en kyk vir enige merke, skeure of skewe nate is voor jy koop. Die groottes van antiek-sjiek klere is nie dieselfde as moderne groottes nie, so ignoreer die etiket en pas alles aan.”
  4.  “Raak kreatief! As jy ’n pragtige rok sien maar dit is te groot, sny dit af, sit rek in en omskep dit in ’n modieuse maksiromp. Jy kan altyd goed aanpas en dit 10 keer beter maak!”

NEEM KIEKIES

Die opwinding terwyl jy wag dat dit ontwikkel, die oulike wit randjie, die vleiende manier wat dit jou vel laat lyk asof dit gloei – daar is hope redes hoekom jy ’n Polaroid-kamera moet kies. Hulle is maklik om te gebruik – mik en druk net! Spog met jou mooi kiekies deur hulle op ’n inspirasiebord op jou kamermuur vas te plak. Oulik verby!

BINGO

Jip, jou ouma en oupa se Dinsdagaand ritueel is die in-ding onder die koel klomp in New York en Londen! Ignoreer jou vriende se gemor as jy by jou volgende partytjie oor oorslaapsessie ’n bingo-stel uitpluk – dis terug met mening. Het jy nie een nie? Jy kan dit vir R129.90 by Reggies of Toys R Us koop.

SO SPEEL MENS:

  1. Kies een persoon om die nommers uit te roep (neem beurte om regverdig wees). Die persoon sal nommers uit die vat barrel trek en dit aan die ander voorlees.
  2. Elke speler het ’n papierrooster met 24 nommers daarop, plus ’n handvol merkers om oor die nommers te plaas soos dit uitgeroep word.
  3. Die eerste persoon wat vyf nommers in ’n vertikale, horisontale of diagonal ry afmerk, is die wenner!

HOU PIEKNIEK

Of dit nou vir ’n romantiese afspraak met jou ou is of ’n pretdag saam met die meisies, ’n piekniek is ’n lekker manier om ’n middag te spandeer. Sit af na ’n mooi plekkie met ’n kombers en ’n mandjie vol van jou gunsteling-kosse. Lê op die grond en kyk na die wolke se vorms, soos toe jy klein was. Is daar ’n beter manier om ná ’n woeste week te ontspan? PIEKNIEK-LYSIE: Eetgoed en drankies, mini MP3-luidsprekers vir musiek, tydskrifte en lekker geselskap!