Daar is so ’n wye verskeidenheid produkte te kry dat dit ’n stryd kan wees om die regte onderlaag te kies.

Hier is ’n blitskursus.

POEIERONDERLAAG

Gebruik dit vir ligte bedekking, om jou veltoon egalig te laat lyk of oor vloeibare onderlaag vir ’n mat afronding. Tik oortollige poeier voor aanwending van jou kwas af om strepe te voorkom. Ideaal vir ’n olierige of\ kombinasievel.

VLOEIBARE ONDERLAAG

Toets die onderlaag aan jou kaaklyn. Dit moet by die kleur van jou gesig en nek pas.

Skakeer die onderlaag van die middel van jou gesig af uitwaarts tot in die nek. Sponsies smeer vloeibare onderlaag goed aan.Ideaal vir mense wat meer bedecking verlang.

SETPOEIER

Wend dit oor jou onderlaag aan om jou grimering te help set. Dit keer dat onderlaag in plooitjies aanpak. Ideaal vir onder jou oë, om jou grimering op te knap, om jou Tsone mat te laat lyk en vir ’n ouer vel. Wend dit met ’n groot poeierkwas of grimeerkussinkie aan.

GETINTE BEVOGTIGER

’n Dun lagie hiervan laat die vel egalig lyk. Ideaal vir mense met ’n mooi vel.

VERBLOEMER

Gebruik dit om donker merke, vlekke en kringe onder die oë te verbloem.

Pienk verbloemer versteek donker kringe, groen neutraliseer rooiheid en beige bedek onvolmaakthede. Kies ’n verbloemer wat ’n skakering ligter as jou vel is. Kry al jou verbloemers in een.

BASISLAAG

Vir ’n ouer vel. Smeer ’n bietjie hiervan aan ’n skoon vel voor jy jou grimering aanwend. Dit vul plooie en porieë goed.

KWASTE

Onderlaagkwaste is ferm en plat met ’n effens geronde punt. Verbloemerkwaste is klein en plat met ’n geronde punt. Poeierkwaste is groot met ’n ronde punt en baie sagte hare.

MINERAALGRIMERING

Die doel hiervan is om olie en talk en geur-, kleur- en preserveermiddels te vermy wat die vel kan irriteer. Ideaal vir ’n sensitiewe vel of ’n vel wat tot aknee geneig is.

SPONSIES

Wend onderlaag, verbloemer of poeier hiermee aan.

Spoel die sponsies uit elke keer nadat jy hulle gebruik en laat hulle goed droog word.