Dis weer daardie tyd van die jaar . . . die Kerstyd, tyd vir pret en optof vir partytjies. Maar wat dra ’n mens sodat jy nie na ’n oorversierde Kersboom lyk nie? Hier is ’n paar idees waarmee jy glans en skitter by jou voorkoms kan voeg.

Klik hier vir ’n kykie na my Pinterest-bord vir idees.

  1. Naelkuns. Probeeriets subtiels. As jy nie die geld en tyd het vir ’n deftige manikuur nie, voeg net goudkleurige naellak by enige kleur wat jy het. Turkoois en koraal is vuurwarm somerkleure.
  2. Oorringe. Daar is baie prettige oorringe, van Kersballe tot gemmerbroodmannetjies, tot strepieslekkers en Kersbome. Dis die perfekte toebehore by ’n swart rok.
  3. Rooi of goue rok. Dis ’n wenner vir ’n Kerspartytjie en laat jou dadelik feestelik lyk.
  4. Rooi hakke. Hakke gee jou nie net ekstra lengte en laat jou sexy voel nie; saam met jeans of ’n rok laat dit jou uitrusting perfek lyk vir die feestyd.
  5. Kerstrui. Moenie dink aan die oorgroot oortrektrui wat jou ouma gebrei het nie. Dink aan ’n sneeupatroon in ’n modieuse grys kleur of eenvoudige, moderne beelde van takbokke.
  6. Lint of strik. Dradit in jou hare of as ’n gordel.
  7. Kopbedekking. Soos takbokhorings of ’n Kersvaderhoed by enige rok.
  8. Grimering. Goud, donker oogomlyner, rooi lipstiffie en baie blinkers. Probeer prentjies van mistel of dalk ’n ster met blinkergom teken.
  9. Haarknippies. Dis’n goedkoop manier om die Kersvoorkoms te skep. Met Kersvaderknippies, sterknippies of kersbome.
  10.  Borsspeld. Dit kan enige baadjie feestelik laat lyk.
  11. Engelhare. Skep hiermee ’n perfekte vereboa!

Deur Loren Pienaar (@Loren_Pienaar)