As jy omgee vir jou vel is jou badkamerkassie waarskynlik gelaai met rome wat ’n pragtige gelaat belowe. En party kosse is slegter vir jou vel as ander en kan puisies veroorsaak.

“Jou vurk is die beste wapen teen velveroudering,” sê die voedingkundige en velspesialis Karen Fischer aan MailOnline. “Die regte kosse voorsien jou vel van die nodige voedingstowwe om nuwe kollageen te vervaardig, beveg gevorderde glikasie-eindprodukte (AGE’s) en laat jou gesonder en jonger lyk.”

As jy jou gelaat mooi wil hou, kan dit help as jy die volgende kosse vermy: Waatlemoen en dadels Dit lyk dalk soos gesonde happies, maar jy moet versigtig wees vir hoë GI-kosse. Dit word vinnig in die bloedstroom opgeneem en kan lei tot hormonale skommelinge, wat aknee kan beïnvloed. Die hormoon insulien speel ’n rol in die vervaardiging van sebum, wat porieë blokkeer en puisies veroorsaak.

Jou vurk is die beste wapen teen velveroudering

Ontbytkosse

Baie van ons skop die dag af met ’n bakkie ontbytkos en gesonde handelsmerke is veral gewild onder diegene wat hul gewig dophou. Die probleem is dat baie hiervan groot hoeveelhede suiker bevat en 15 persent suiker word as te veel beskou. Suiker kan veroorsaak dat die vel sy soepelheid verloor, wat die verouderingsproses versnel.

Melk

En waarmee eet ons ontbytkos? Melk, natuurlik! Ongelukkig het dié suiwelproduk ook ’n negatiewe impak op jou gelaat. Die hormone beïnvloed aknee, en volgens studies is afgeroomde melk die ergste sondebok. Kenners beveel aan dat mense wat sukkel met aknee hul suiwel-inname verminder.

Alkohol

Het jy oor die feesseisoen met meer puisies gesukkel? Dis dalk al die drank wat oor Kersfees en Nuwejaar gevloei het. Die suiker en alkohol droog jou vel uit en kan rooiheid veroorsaak, en die kanse is ook groter dat jy sakkies onder die oë en plooie kan ontwikkel. Oorweeg dit om Januarie jou detoks-maand te maak – jy kan dalk selfs geld vir liefdadigheid insamel deur vir 31 dae alkohol te vermy.

Ryskoekies

Ma’s gee dit vir hul kleingoed en supermodelle en glansmense knibbel daaraan as hulle gewig wil afskud, maar ryskoekies bevat onverfynde koolhidrate, wat in suiker deur die liggaam afgebreek word. Dit kan veroorsaak dat gevorderde glikasie-eindprodukte vorm en die kleur en soepelheid van die vel aantas.

© Cover Media