Het jy al gewonder hoekom jy in die een handelsmerk ’n grootte 32 is en in ’n ander een ’n grootte 36?

Om die bisarre verskynsel te bewys, het Dion Lee van Vox drie verskillende langbroeke in dieselfde grootte en drie verskillende winkels – Zara, Topshop en Forever 21 – aangepas.

“Almal was ’n 4 (32) gemerk, maar die resultate was uiteenlopend,” onthul sy.

“Die langbroek van Zara het baie los om my middel gepas, terwyl dié van Forever 21 so klein was dat ek dit nie eens kon toerits nie. Die jeans van Topshop was die enigste paar wat my behoorlik gepas het.”

Die video toon die skrille kontras van “vanity sizing” – die “gebruik om kleiner groottes aan artikels of vervaardigde klere toe te wys as wat regtig die geval is om verkope aan te moedig”.

Met ander woorde, die manipulering van groottes is ’n bemarkingshulpmiddel om “vroue maerder te laat lyk om meer klere te verkoop”. En dit kan wissel van die een winkel tot die volgende, want handelsmerke spits hulle gewoonlik op verskillende demografieë toe.

“Ek dink ons mik meer na ons eie teikenmarkte,” verduidelik Lynn Boorady, mede-professor en voorsitter van mode- en tekstieltegnologie by die staatsuniversiteit van New York in Buffalo, Amerika.

“Byvoorbeeld, wanneer Abercrombie & Fitch hul groottes bepaal, doen hulle dit vir hul teikenmark, nie vir my nie. Ons pas die inligting aan tot ons meer kledingstukke verkoop en die teruggeekoers verlaag.”

As ’n voorbeeld het June Ruth Clemens ’n ope brief aan H&M geplaas omdat sy nie in hul grootte 16 (44) jeans kon inpas nie, al dra sy ’n mediumgrootte hemp.

“Hoekom maak julle jeans wat onrealisties klein is?” het sy geskryf in die brief wat soos ’n veldbrand aanlyn versprei het.

“Is ek te vet vir jul alledaagse reeks? Moet ek net aanvaar dat toeganklike en bekostigbare kettingwinkel- en mode-items nie vir mense soos ek nie?”

Kyk die video vir nog inligting: