Ontwerpers het hul verbeelding vrye teuels gegee met splete, loergate, oop skouers en krae wat tot op die arms afsak. Die modemense praat van die “gedekonstrueerde hemp”. Dié nuwe hemde lyk byna nie meer soos ’n hemp nie en elkeen is ’n kledingstuk wat ’n stelling maak.

Laat jou hemp die praatwerk doen

Dit word net so maklik gestileer soos die oorspronklike hemp, maar dit het ekstra trefkrag. Dra jou gedekonstrueerde hemp by snyersklere soos ’n romp of broek wat dit aanvul, maar nie daarmee bots nie.

Die tendens het geen grense nie, daarom is dit so interessant. Hier is ’n paar foto’s met voorbeelde van hoe jy dit kan dra.

As jy nog nie heeltemal gereed is om hierin te belê nie, neem ’n gewone blou of wit hemp en dra dit halfpad losgeknoop en effens van die skouer afgetrek. Solank jy net jou hemp die praatwerk laat doen!

Foto Gallo Images/Getty Images