EEN van die lekkerste dinge van skoonheidsblogger wees is dat maatskappye jou opwindende nuwe produkte stuur om mee te speel. Maar tog, as jy ’n peperduur nagroom gratis kry wat deurtrek is van eenhoringessens, is dit maklik genoeg om die wonder daarvan te besing. Die regte tongtippietoets is of jy die produk weer sal koop.

Daarom het ek gedink ek sal ’n keuse deel uit die bestes wat op my lessenaar beland het; produkte wat ek onlangs geresenseer het en wat ek met vreugde in my inkopiesak sal gooi. Ek dink jy sal ook daarvan hou en, nog beter, nie een van hulle gaan jou kredietkaart posttraumatiese stressindroom gee nie.

TRESemmé Keratin Smooth-sjampoe en opknapper (R78,99 elk)

TRESemme-Keratin-Smooth-sham-and-con-214x300

TRESemmé se nuwe sjampoe en opknapper is deurtrek van keratien en silikoon om jou hare glad te maak en te verseël, en beloof om jou hare tot 48 uur lank kroesvry te hou. Dit bevat ook min sulfate (wat die produkte laat skuim) en dit gaan dus nie hare wat gekleur is, laat verbleek of sensitiewe kopvelle irriteer nie.

Ek het regtig daarvan gehou dat ek my nat hare maklik kon borsel nadat ek dié produkte gebruik het, en my droë lokke het geblink en glad gelyk sonder dat dit gehang het. Die enigste probleem is dat dit nie in kleiner bottels beskikbaar is nie. Maar aan die ander kant: Ek kan my armspiere met ’n paar gewigte in die stort oefening gee!

Avon Speed Dry +-naellak (R97,95).

Avon-Speed-Dry-30-nail-polish-225x300

As jy soos ek altyd van die een plek na die volgende hol en nie tyd het om rond te hang nie, gaan jy MAL wees oor Avon se nuwe naellak. Twee lae word in ’n kits droog, in so ’n mate dat jy net twee minute nadat jy die naellak aangewend het, in jou handsak kan rondkrap sonder om bang te wees jy maak ’n gemors van die verfwerk.

 L’Oréal Paris Colour Riche Le Kajal-oogpotlood (R129,95)

 LOreal-Color-Riche-Le-Kajal-kohl-eye-liner-173x300

Die gawe mense by L’Oréal het vir my hul nuwe False Lash Wings-maskara gestuur en al het ek daarvan gehou, was ek dieper beïndruk deur die oogomlyner wat dit vergesel het. Snaaks genoeg maak die feit dat dit ’n groot vet stokkie is, dit baie makliker om te hanteer. Ek hou ook daarvan dat die kohl-deel lekker lank is sodat jy dit oor die helfte van jou ooglid kan trek om ’n netjiese, presiese strepie te vorm. As jy soos ek ’n bietjie onhandig is wanneer dit by oogomlyner kom is hierdie ’n wonderproduk, dit maak dinge regtig baie makliker.

 Clicks Tissue Oil-lyfroom (R59,95)

Clicks-Tissue-Oil-body-lotion-170x300

Clicks se eie weefselolie is heerlik. Om die waarheid te sê, as jy dikwels lyfroom gebruik kan jy dit gerus vir dié een verruil omdat jy baie meer waarde vir jou geld sal kry. Dink aan bevogtiging so glad soos sy, plus ’n rits voedende natuurlike olies, retiniel palmitaat wat jou vel glad maak en plantstowwe wat jou bloedsomloop ’n hupstoot gee.

Sê nou vir my, het jy enigiets hierbo raakgelees wat jy wil beproef? Of beproef het en wil deel? Gesels met my in die kommentaar-ruimte hieronder; ek wil baie graag hoor wat jy van dié produkte – of enigiets anders wat jy gebruik het – dink.

Leigh-135x90Leigh van den Berg is ’n vryskut- mode-en-skoonheidskrywer van Kaapstad. Sy is gek oor meisie- en glinstergoed en is veral trots daarop dat sy jou parfuum 10 tree ver kan uitken. Niks maak haar meer opgewonde as nuwe skoonheidsgoetertjies nie, behalwe miskien sjampanjedrankies, klapperlekkers en daai ou wat Dean in Supernatural speel. Lees haar blog by Lipgloss is my Life en volg haar op Twitter @lipglossgirl