Almal wil asemrowend lyk op hul spesiale dag en so het ek besef vandat ons die program My droom-trourok op VIA begin het, dat ons ’n verskil kan maak in toekomstige bruide se lewens.

Dit is ’n voorreg, maar ook ’n verantwoordelikheid teenoor die kykers en toekomstige bruide dat ek my kennis deel nie net op die program nie, maar op ander platforms ook.

Op hierdie blog gaan ek elke week ’n vraag beantwoord of raad gee wat jy as My droom-trourok-kyker brand om te weet. Stuur gerus vir ons jou vrae en ek antwoord graag.

Almal stem nie noodwendig saam met die bruid of ontwerper se keuse nie. (Tannies, ek sien julle posts op Facebook. Haha!)

Dit is hoekom ons alles hier kan bespreek – van die ring en troukoek tot die rok.

Hier is een van die rokke wat opslae gemaak het uit een van die vorige seisoene.

Hier is een van die rokke wat opslae gemaak het uit een van die vorige seisoene.[/caption]

Mens moet ’n bruid en ontwerper se keuses respekteer selfs al is dit nie jou smaak nie. Ek hoor hoe skree julle deur die tv: “Vat die ander een, vat die ander een!” Elke bruid het egter haar eie idee en ek as kenner en aanbieder kan net my professionele opinie gee.

Kom ons spring weg met die groot vraag wat op elkeen se lippe hang: Kry die bruid regtig die rok op die program of is dit net vir die kameras?

Ja, ja, ja en nogmaals ja! Die bruid kry regtig die rok wat hul kies op die program en trou meeste van die tyd in daardie rok. Die ontwerper leen ons toekomstige bruid die trourok wat sy kies en na die troue gee hul dit terug. Partykeer as die bruid weer na die episode kyk verander sy haar keuse en ons ontwerpers is baie gewillig om vir haar ’n alternatief te verskaf vir haar dag.

Ons besef die rokke wat op ons program is pas nie altyd die bruid 100% nie, maar onthou dit is ‘n werklikheidsreeks en na die episode wanneer die bruid haar rok gekies het verstel die ontwerper die rok na die bruid se mates vir die perfekte pas vir haar groot dag. Ons ontwerper en bruid ontmoet eers mekaar op die dag van die verfilming.

Ons maak seker dat ons die bruid en ontwerper se styl in ag neem sodat die bruid haar droomrok kan kry. Ek weet daar was ’n episode in die een van die vier seisoene waar baie kykers op sosiale media gegons het oor die ontwerper en bruid se rokke en keuse, maar daardie bruid was baie gelukkig met haar keuse, want dit het mooi by haar tema gepas.

So tannies kalmeer en onthou elkeen het hul eie styl, maar ons hou van al jul terugvoering. Dit beteken ons doen iets reg of jy nou saam met ons stem of nie. Partykeer as aanbieder en ontwerper wil ek ook sê: “Nee, bruid. Kies die ander rok.” Maar as jy langs haar staan en daardie glinster in haar oog sien smelt jou hart.

Almal wat die program kyk, weet teen dié tyd dat ek nie van OMO-wit rokke hou nie! Volgende keer vertel ek jou hoekom en as jy enige vrae het oor die onderwerp laat ons weet.

Van frille tot blink, ons maak mooi tot volgende week!

– Diaan Daniels