My bevogtiger van R500 is opsygeskuif en vir een van R49,99 verruil. Ek probeer dit nog verwerk. Dis harde werk om die volmaakte bevogtiger te koop. En ná wat voel soos jare van deur dik moerasse seil, myself oor warm kole sleep en deur ’n woestyn kruip, op my gesig, het ek gedink ek het dit eindelik, al moet ek ’n klein fortuin uitgee. Of so het ek gedink.

Ek het die kans gekry om Woolworths se nuwe Earth Friendly-skoonheidsreeks op die proef te stel en besluit ek gaan die lyfwasmiddel en naelroom probeer. Eerste het ek die gesigsbevogtiger “vir normale vel” beproef. Dis iets wat my oorgevoelige vel, wat geneig is om olierig te raak, beslis nie is nie, maar dit het vog belowe en ek het gedink: Hoekom dan nou nie, want die bokant van my wange het om die een of ander rede die eerste keer in my lewe droog geword. En ek was nuuskierig oor die “inca inchi-olie met papaja-ekstrak” wat dit bevat.

Ek het dit die eerste aand aangesmeer. Dis dikker as die rome wat ek gewoonlik gebruik. Ek het steeds getwyfel, maar dis glad nie vetterig nie, vryf goed in en voel lekker. Dit het ook ’n heerlik ligte geur, daardie “papaja-ekstrak” en ek hou van die pompbotteltjie.

Die volgende oggend het ek besef die droë kolle is weg en my vel het nie met ’n puisie-uitslag en olierigheid in opstand gekom nie. Ek gebruik dit nou al amper ’n week. Ek is dol daaroor en my vel voel lieflik. Al is dit nie vir my velsoort bedoel nie, werk dit duidelik; dis seker daardie geheimsinnige “inca inchi-olie”. Ek het dit opgesoek: Dis ’n groenteolie van ’n plant wat in die Amasone in Peru voorkom. Volgens ’n paar webtuistes (en die rugkant van die bottel) is dit ’n goeie bron van omega-3 en -6 en propvol vitamiene en ander gesonde goed. My beursie is ook tevrede. R49,99 vir 100 ml vir ’n gelukkige vel en ’n gelukkige beursie. Maar ek sal dit in die somer moet heroorweeg wanneer ek ’n ligter room nodig het.

Ek het ook die lyfwasmiddel met granaat en papaja (R32,99) beproef. Dit het lekker gevoel en die geur is vars en lig genoeg dat dit nie met my parfuum inmeng nie. Ek was nie gaande oor die hande-en-naelroom (R32,99) nie. Dit bevogtig met daardie magiese inca inchi-olie, maar absorbeer nie na my wense nie en my hande het effens vetterig gevoel.

Die reeks sluit ook lyfbotter (R44,99), verskeie soorte handwasmiddels (R32,99) en ’n skuimende gesigsreiniger R39,95 (150 ml) in wat ek wil beproef.

-  Natalie Cavernelis