Main

“MENEER, daardie broekie sit hopeloos te styf vir iemand wat ’n gesin beplan”, hoor Stadsjaap die anderdag terloops. “Jou lende moet kan asemhaal.”

Nou kyk, weinig plekke aan ’n man se liggaam is so sentimenteel soos die plek wat bedreig word deur ’n broek wat só knap sit dat dit lyk of dit aangeverf is. Probleem is, deesdae word dit ál moeiliker om ’n broek te kry wat nie as skinny bemark word nie. Uit Stadsjaap se navorsing blyk dit dat selfs die lang onderbroeke van ouds deesdae as nousluitend bemark en verkoop word. Dit gaan Stadsjaap se verstand te bowe dat alles in die gemaklikheid van jou eie bed opgekrop en saamgehok moet word in ’n netjiese bondeltjie wat jou snags van ongemak laat rondrol. Dit gesê, moet Stadsjaap noem dat hy wel dankbaar is dat iemand ’n slag gaan sit en fyn bereken het dat die gemiddelde man nie twee meter lap in die vorm van weermagtente om sy bene hoef te rol om ’n man genoem te word nie. Naas ’n oorgroot, sonverbleikte windjekker en sokkies met gate in, is daar weinig dinge wat ’n man slegter laat lyk as ’n oorgroot broek wat herinner aan die pof-onderbroeke van die Voortrekkertantes. Die probleem is natuurlik dat ’n broek met pype breër as die N1 van die aantrekslag af onnetjies lyk, selfs al is dit van die duurste katoen gemaak of word dit saam met ’n elegante ontwerpershemp gedra. As jy in Kaapstad woon en die Suidooster doen sy werk, kan jy dalk vir ’n windkous aangesien word. SO TREK DIE MANNE AAN

Stadsjaap het die strate ingevaar opsoek na manne wat dit regkry om ’n broek te dra sonder om die kroonjuwele in gedrang te bring.

Een

Die jong man op die foto bo het op die oog af baie gemaklik beweeg. Die broekspype is nouer na onder gesny, maar hang nie soos ’n oorvol swart sak oor ’n vullisdrom nie. Die goue reël is dat die broek gemaklik om die middel moet pas sodat dit nie met ’n gordel aan die heupe geanker moet word nie. Stadsjaap is van mening dat ’n broek gemaklik pas as dit sonder ’n gordel nie op jou enkels hang nie, en ook nie so styf om jou middel knel dat dit met jou asemhaling inmeng nie. Hierdie voorkoms word perfek afgerond deur ’n netjiese informele baadjie en ’n T-hemp. (Stadsjaap skryf binnekort oor die perfekte baadjie.)

Twee

Dié is Stadsjaap se gunsteling-voorkoms van die week. Die kleure vul mekaar perfek aan. Ligte perse, groene en bloue werk altyd goed saam met mosterd en ligbruin kledingstukke. Die broek is ietwat gemakliker om die bene gesny, maar pas steeds perfek en val nie soos ’n gesmelte roomys op ’n hopie na onder nie. Die wyer pyp is perfek vir die nuutste amper militêre modegier: broekspype binne-in stewels. Stadsjaap maan: As jy nie dié neiging wil volg nie, maak seker jou broekspyp val ietwat breër na onder sodat die borande van jou stewels nie deur die materiaal probeer breek nie. Kombineer gerus verskillende teksture (bonkige trui, katoenbroek en hemp) vir ’n vars voorkoms.

Drie

So lyk ’n ware skinny. Die broekspype is baie nou gesny en dit lyk asof dié jonge heer in hierdie broek gegiet is. Stadsjaap besit self ’n soortgelyke nommer, en kan noem dat die aan- en uittrekslag nie baie maklik is nie. Dit pas nie te ongemaklik nie, maar Stadsjaap is deurentyd bewus van ’n tydelike bloedsomlooptekort na die bene. Dus is hierdie broek meestal bedoel vir mans wat ’n stelling wil maak. Moet ook nie probeer om iets so styfs te dra as jou dag of aand lank gaan word nie. Teen laataand gaan jou binnegoed begin kerm en jou bene na die buitelug smag.

Vier Dis wel ’n nouer gesnyde broek, maar dié foto illustreer ’n baie belangrike punt: As jou hande gemaklik in jou sakke kan pas (nie dat Stadsjaap ’n groot voorstander van hande in die sakke is nie), pas die middellyf van die broek perfek. Jou binnebene gaan sonder wrywing vrylik kan beweeg. Maak soos die jonge heer en rol jou broekspype op; een of twee rolle is genoeg. As jy voel jy wil jou broekspype tot onder jou knieë oprol, dra liewer ’n kortbroek.   LET WEL Formele broeke en die broeke van pakke is ’n heel ander saak! Kyk uit vir Stadsjaap se geselsie oor formele uitrustings.

Meneer, dra jou broek met trots. Dit is immers ook wat jou ’n man maak!

Groetnis

Stadsjaap

StadsjaapStadsjaap en sy mater Metroman blog vir Huisgenoot oor mode-idees vir mans wat skaflik en modern wil lyk sonder om ’n plaas se geld te betaal of soos ’n pronkende pou te lyk. Gaan gerus na hul webtuiste  en neem deel aan hul gesprekke op Twitter (@stadsjaapinfo) en Facebook .

Lees hul vorige blog vir Huisgenoot by:

Meneer, so dra jy ’n wit hemp