Dis nie dat ons mekaar haat nie, ons wil net nie altyd dieselfde goed hê nie, soos in enige gewone vennootskap. Ek vermoed dis dieselfde vir baie vroue met vreeslike dik, droë, woeste krulhare.

Maar ná vele jare saam en ’n paar lelike onderonsies tussendeur verstaan ons mekaar ten minste. Dit wat ons albei wil hê, is produkte wat ons beheer oor die kroeserigheid gee, maar ons dit steeds krullerig laat dra.

Ek het ’n groot swakheid vir haarprodukte. As die woord “krul” daarop staan, is dit asof my krediektkaart vanself uit my beursie spring in my voortdurende soeke na die volmaakte, volmaakte stileerproduk.

Ek het al naby gekom. Paul Mitchell Super Sculpt Quick-drying Styling Glaze was jare lank ’n goeie vriend van my en my temperamentele hare. Daar was al baie ander, maar dié een is vriendelik en ons hou albei daarvan.

Stel jou my opgewondenheid voor toe ek oor die Paul Mitchell Curls-reeks lees. En stel jou my hare se opgewondenheid voor toe ek die kans kry om die Ultimate Wave Beachy Texture Cream-Gel (is dit nie beste naam nie?) op die proef te stel. R245 vir 150 ml.

Maar natuurlik is niks die eerste keer maklik met my hare nie. Die eerste dag het sleg afgeloop. Ek het dit aangesmeer soos ek ’n jel of ’n room sou aansmeer, maar dis ’n jelroom en moet versigtiger aangewend word. Toe dit eers behoorlik aangewend was, het dit die krul behou. Maar ek het nie eintlik van die taai gevoel van die jelroom gehou nieDie tweede en derde dag het ek sagte, beheerbare krulle geskep, maar daar was steeds ’n krakerigheid waaroor ek nie dol was is nie en ek het steeds nie van die taai gevoel gehou nie.

Die krulle het deur die dag gehou, dit het die kroeserigheid beheer en dit het heerlik geruik ook. Ek kan dit beslis aanbeveel, maar net vir mense met krullerige of golwende hare wat nie oor die krakerigheid omgee nie.

Daar is nog produkte in die reeks wat ek graag wil beproef, veral die Spring-Loaded Detangling Shampoo en Full Circle Leave-In Treatment (oukei, hierdie name is werklik wonderlik).

-      Deur Natalie Cavernelis