Sodra mense hoor ’n kleinding is op pad, wil hulle baie gou uitvis of dit ’n seuntjie of ’n dogtertjie gaan wees. ’n Mens wil mos nie ’n pienk speelpakkie of geskenkie vir ’n seuntjie gee of blou in geval van ’n dogtertjie nie.

[caption id="attachment_123122" align="aligncenter" width="600"]Foto: Pixabay Foto: Pixabay[/caption]

Maar eintlik is dié etikettering van kleure wat gepas is vir die twee geslagte geheel en al agterstevoor om. Want sien, selfs tot kort voor die middel van die vorige eeu was dit juis seuns wat pienk gedra het en meisies blou.

Een van die redes wat aangevoer is vir die pienk keuse is dat dit ’n skakering van rooi is, en rooi is destyds as ’n sterk kleur beskou.

Die Franse skrywer Xavier de Maistre het in 1794 in A Journey around My Room selfs aanbeveel dat mans hul slaapkamer pienk en wit verf om hul gemoed te verbeter.

[caption id="attachment_123120" align="aligncenter" width="600"]Xavier de Maistre Xavier de Maistre[/caption]

In die Junie 1918-uitgawe van die handelstydskrif Earnshaw’s Infants’ Department is daar as volg oor gepaste kleur vir seuns en meisies geskryf: “Die algemeen aanvaarde reël is dat pienk vir seuns is, en blou vir meisies. Dis omdat pienk ’n sterker en meer besliste kleur is, meer geskik is vir die seun, terwyl blou, wat meer delikaat en verfynd is, mooier is vir die meisie.”

Die ikoniese nuustydskrif Time het in 1927 ’n kleurgids gepubliseer met “geslagsgeskikte” kleure vir seuns en meisies volgens toonaangewende Amerikaanse klerehandelaars. Hulle was dit eens: pienk vir seuns.

[caption id="attachment_123135" align="aligncenter" width="400"]'n TIME-uitgawe van 1927 'n TIME-uitgawe van 1927[/caption]

Verkwalik dan gerus ook die Amerikaners vir die verandering in kleurvoorskrifte: Klerevervaardigers en –handelaars het in die 1940’s begin om pienk vir meisies en blou vir seuns te bevorder.

Blykbaar het Amerika se pres. Dwight D. Eisenhower se vrou, Mamie, die groot skuif na pienk vir meisies begin. Sy het dit gewaag om ’n pienk rok te dra toe hy in 1953 as die VSA se 34ste president ingehuldig word. Die foto hieronder is by sy tweede inhuldiging as president geneem.

Jacqueline Kennedy, vrou van nog ’n Amerikaanse president, John F. Kennedy, het in die 1960’s veral pienk tot hoogmode help verhef.

Vandag, met die klem op geslagsgelykheid, het die pienk-blou-etiket in die meeste gevalle gesneuwel. Dit kring ook wyer uit as net watter klere ’n mens dra.

Daar is ’n beweging Let Toys Be Toys wat winkels wil oorreed om speelgoed te integreer volgens funksionaliteit en nie geslag nie. Dié groep het al sukses behaal in Amerika (Target) en Engeland (Booths UK, Marks and Spencer).

Hoe dit ook al sy, deesdae is daar so ’n reusagtige kleurpalet om van te kies en die kans is goed dat daar dalk glad nie pienk óf blou in sommige mense se lewe is nie.

Sestien kitsfeite

    1. Christus se moeder, Maria, word gereeld uitgebeeld in ’n blou uitrusting.

[caption id="attachment_123128" align="aligncenter" width="600"]Maria in Gebed deur Sassoferrato Maria in Gebed deur Sassoferrato[/caption]

2. In antieke Rome het staatsamptenare blou gedra, wat waarskynlik die rede vir blou polisie-uniforms is.

3. In die 19de eeu is pienk strikke of versiering gereeld deur seuns gedra.

4. Toe ’n foto in 1884 van Amerika se pres. Franklin D Roosevelt (toe 2 ½) geneem word, het hy ’n rokkie gedra.

5. Destyds was dit die gebruik dat seuns, tot op ses of sewe, ook rokkies gedra het. Dit was gewoonlik wit.

6. Maar wit vir die jongspan? Volgens Jo B. Paoletti, ’n historikus aan die Universiteit van Maryland en skrywer van die boek Pink and Blue: Telling the Boys from the Girls in America, was wit ideaal omdat dit geblyk kon word.

7. Dit was ook eers op daardie ouderdom dat kinders se hare vir die eerste keer gesny sou word.

8. Die Duitse komponis Richard Wagner was gek daaroor om onderklere gemaak van pienk sy te dra.

9. Die kleur ligblou is in 1915 vir die eerste keer as ’n kleurbeskrywing in Engeland erken.

10. Volgens die polisie van Huddersfield is in navorsing in 1989 bevind dat gewelddadige misdadigers kalmeer wanneer hulle in ’n pienk tronksel aangehou word.

11. Terwyl blou in Indië as ’n kleur wat slegte nuus bring of met ’n routydperk vereenselwig word, word dit tradisioneel in China met pyn in verband gebring.

12. In 2002 het Switserse navorsers probeer bepaal of kleur ’n rol speel wanneer mense versoek word om vraelyste te voltooi. Die resultate was indrukwekkend: voltooide pienk vraelyste het die ander gekleurde vraelyste met 12 persent in die stof laat byt.

13. Uile is die enigste voëls wat die kleur blou kan onderskei.

14. In 2013 het die Pink Star-diamant ’n rekordbedrag van £52 miljoen behaal.

15. Vandag simboliseer ’n pienk lintjie steun vir die wêreldwye bewusmakingsveldtog oor borskanker in Oktober, terwyl ’n blou lintjie ook die bewusmakingsimbool van testikulêre kanker is.

16. Navorsing het getoon dat gewigoptellers swaarder gewigte kan optel in ’n blou gim.

Bronne: todayifoundout.com, npr.org, smithsonianmag.com, livescience.com, bbc.com, color-wheel-pro.com, express.co.uk, thefactsite.com