Ek is onlangs na die opening van die Wes-Kaapse parlement genooi en die tema vir hierdie week se blog is net daar en gebore! Nee, dit gaan nie oor “moet nie uit jou beurt praat nie” of “moet nie lag en gil as iemand besig is met ’n belangrike toespraak nie”! Nee, dit gaan oor die wanbegrip van drag. Askies?

Toe ek die vorige dag die oproep kry van “member so en so” om die details oor die dag deur te gee, maak ek ’n punt daarvan om te vra: “What is the dress code?

Oh, formal, yes, very formal,” beantwoord sy my vraag met baie selfvertroue. Goed, dis Donderdagmiddag en die geleentheid is Vrydagoggend wat opsigself reeds die ander definisie van formeel, naamlik “aanddrag”, omvergooi.

Ek is oorgegee aan wat reeds in my kas hang, want hierdie mamma van drie gaan nie geld, moeite en tyd uithaal vir iets waarvoor ek nie beplan óf begroot het nie. Gelukkig het ek ’n swart "go-to" lang romp wat áltyd werk (bygesê, nét as ek nie onlangs te veel weggelê het aan al die lekker kos nie . . .) Daarby saam kry ek ’n mooi lyfkous (“body suit”) en ek is dankbaar vir die “formele” dagdrag-items wat ek byderhand gehad het.

Toe ek egter daardie volgende vroeë oggend net verby die rooi tapyt kom, was dit vir my duidelik dat almal in Suid-Afrika nie ingesit het toe die klassie aangebied is oor "wanneer dra ons wat” nie! Daar was enigiets van denims en plakkies tot tradisionele klere, korporatiewe drag en aandklere. Ek bevind my in ’n see van fronse, gemengde gevoelens en nie-verbale kommunikasie wat eintlik uitskreeu: “Wat was ons veronderstel om aan te trek!!!?”

Dit was ook ongelukkig nié die eerste keer dat ek so iets beleef het nie. Ek het selfs al by vele Suid-Afrikaanse toekenningsaande beleef hoe sommige kreatiewes eerder met jeans en tekkies sal opdaag as die voorgestelde drag op die uitnodiging. Vir húlle is die drag eerder ’n voorstel as ’n verpligting.

Ek sien dit dus as my plig om vandag hier mooi te verduidelik wanneer jou ouma se pelsserp of jou oom se oliebevlekte Elvis Presley T-hemp gepas is om in die openbaar te dra . . . . (Laasgenoemde nét vir selfverdediging)

NS: Omdat die meeste uitnodigings na geleenthede in Engels is, sal ek die Engelse woord langsaan skryf:

AS DIE UITNODIGING SÊ: GEMAKLIK ("CASUAL") Vir my is gemaklik sinoniem met gemak. Snaaks hoe dit werk ;-) Maar gemaksdrag is nie altyd net kortbroeke, denims, T-hemde en tekkies nie. Kyk bietjie na hierdie uitrustings:

AS DIE UITNODIGING SÊ: DEFTIG-GEMAKLIK ("SMART CASUAL")

Vir hierdie geleentheid is gemak steeds belangrik, maar wel met ’n bietjie glans. My eerste instink is om ’n mooi donker denim, ’n sandaal met 'n hak, ’n mooi bloeserige toppie (glad nie T-hemde nie!), mooi bykomstighede en ’n getailleerde baadjie (nie denim nie) te dra.

Die denimbroek gee dit die gemaklike gevoel, terwyl al die ander elemente die “deftige” deel bylas. Die truuk hier is om eintlik uiters stylvol gemaklik te lyk. Let wel: Mans kan ook ’n mooi donker denim, knoophemp en sportbaadjie met 'n mooi stylvolle skoen dra. Hier is bietjie inspirasie:

AS DIE UITNODIGING SÊ: SEMI-FORMEEL ("SEMI FORMAL") Hierdie drag grens aan skemerkelkiedrag. Kies ’n deftige kort, knielengte of kuitlengte rok van goeie materiaal en ’n vleiende snit. ’n Mooi stylvolle broek of broekpak met 'n mooi bloes en 'n stylvolle hakskoen sal hier ook gepas wees. Daardie klein swart nommertjie gaan beslis ook hier werk. Vir die manne sou ek voorstel: ’n Mooi pak met ’n hemp oopgeknoop. AS DIE UITNODIGING SÊ: FORMEEL ("FORMAL") Hierdie staan gewoonlik op uitnodigings vir troues en jaareindfunksies. Vroue sal beslis in ’n lang aandrok moet belê terwyl mans ’n mooi pak met 'n netjiese hemp en das moet dra. Hier's pragtige voorbeelde: AS DIE UITNODIGING SÊ: DEFTIG-FORMEEL ("BLACK TIE") Hierdie is die mees formele drag wat jy gaan kry. ’n Balrok of rok wat op die grond sleep (langer en meer formeel as ’n gewone aandrok) is hier die antwoord. Die mans sal uit die aard van die saak ’n swart pak aantrek, 'n netjiese wit hemp met 'n swart strikdas moet aantrek.

Hopelik gaan jy die volgende uitnodiging met meer selfvertroue en sekerheid aanvaar sonder om Google of Tannie Emsie Schoeman se etiketboek nader te trek.