Jou haarkapper is ongetwyfeld onder die vyf belangrikste mense op jou lysie van name met wie jy ’n gesonde verstandhouding wil hê.

Hier volg woorde wat nooit oor jou lippe mag kom teenoor die haregod aan wie jy jou koninklike hoof toevertrou nie. 

1. Jou pryse is hemelhoog

As jy iets deur ’n kundige laat doen, moet jy nooit oor die prys kla nie. Dis soos om na ’n deftige restaurant toe te gaan en oor die prys te kla terwyl jy elke krieseltjie van die maaltyd geniet. Wat is die nut nou eintlik?

2. Ek is ’n uur laat – druk my asseblief in!

Haarkappers het ’n vol program en hulle kry dikwels nie eens tyd vir eet nie. As jy die tydgleuf misloop wat aan jou toegeken is, gooi dit hul hele rooster omver. Dus, meisie, kry jou lewe op koers en sorg dat jy betyds by daardie broodnodige hare-afspraak uitkom!

3. Nee, nee – nie so nie. Ek wil hê jy moet dit só sny

Jou hare is in die hande van ’n meester en daar is ’n rede waarom jy nie die skêr hanteer nie. As jy geen formele opleiding as haarkapper het nie, moet jy maar die snyery aan die kenner oorlaat.

4. Um, ja . . . ek hou daarvan (wanneer jy nie eintlik daarvan hou nie)

Ons almal het dit al ondervind: Jy loop bitter teleurgesteld met die resultaat uit die salon uit, maar jy aarsel om jou ontevredenheid uit te spreek. Wel, dit gaan nie soseer oor wat jy sê nie, maar oor die manier waarop jy dit sê. As jy dit waaroor jy ontevrede is, kalm aan jou stilis noem, kan julle saam ’n oplossing uitwerk.


5. Hoekom kan ek nie hierdie voorkoms tuis regkry nie?

Dit is eenvoudig: Jy doen dit alleen. Die hoek waarteen jy probeer werk, is anders en jou toerusting ook. Dus, eerder as om op ’n irriterende manier te vra hoekom jou haarstyl nie in ’n tuisgemaakte weergawe te kry is nie, moet jy eerder navraag doen oor alternatiewe maniere om die voorkoms te skep.
“Ek sê altyd jy is net so goed soos jou gereedskap. As jy dus nie die regte soort produk op jou hare gebruik nie, gaan jy nie dieselfde soort resultate kry as ek nie,” maan die welbekende Amerikaanse stilis Ted Gibson.

6. Ek het nie ’n prentjie van die voorkoms wat ek soek nie, maar ek sal dit beskryf

Jy dink dalk jou beskrywing is glashelder, maar jou haarkapper kan dit moontlik heeltemal anders interpreteer. Die heel beste wat jy kan doen, is om vir hom of haar vooraf ’n prentjie te stuur van die voorkoms wat jy wil hê. Op daardie manier kan hy vir jou sê as hy dink dit gaan dalk nie vir jou werk nie en iets anders voorstel.

7. Ek het ’n haarsny broodnodig – maar asseblief nie te veel nie!

Die enigste manier om van gesplete punte ontslae te raak, is om hulle af te sny – dit maak nie saak hoeveel serums en sjampoes die advertensies jou aanbied as alternatief vir daardie gevreesde skêr nie. Geen haarkapper wat sy sout werd is, gaan jou daar laat uitstap met swak geknipte hare nie. Vertrou hom dus om sy werk te doen. Hare groei in elk geval weer.

8. Hoekom doen jy dit so? My vorige haarkapper het . . .

Jy sal nie ’n nuwe kêrel met ’n vorige een vergelyk nie; dus is dit beter dat jy dit ook nie met jou haarstilis doen nie. “Ons verskil almal en ons werk ook baie verskillend,” sê Amber Maynard, wat bekendes soos Demi Lovato en Hilary Duff se hare onder hande gehad het. “Dit laat die kunstenaar ongemaklik voel en dus kan hy nie sy werk behoorlik doen nie.

Bronne: Metro, Essence, Bustle.com