Kry inspirasie vir ’n vetplant-tuin – binne of buite – met dié idees wat ons blogger vandeesweek op die sosiale webtuiste Pinterest opgespoor het.

TOE ek onlangs na ’n woonstel verhuis, het ek gedink my tuinmaakdae is verby. Toe gee ’n vriendin my ’n vetplant vir Kersfees present, en nog een vir my verjaardag in Januarie. En voor ek my kom kry, het ek ’n vetplant-“tuintjie” aan die groei. So lyk dit – dit staan op ’n kanttafeltjie en word uitgestal op ’n verouderde portretraam.

Mine

Al is dit ’n piepklein lappie groenigheid, kry ek baie plesier daaruit. Die plante is so gul met hul skoonheid en vra so min in ruil – net ’n geringe hoeveelheid water een keer per week.

Daar is baie wonderlike idees op Pinterest wat jy kan gebruik om met hierdie geharde skoonhede te pronk. Hier is ’n paar van my gunstelinge. Daar is selfs ’n keuse van maniere om vetplante vir troues in te span!

Groot en fors

succulent garden

Dié tuin maak skouspelagtige gebruik van vetplante, in sowel die beddings as tussen die geplaveide trappe. (Foto oorgespeld deur Melissa)

Stoeprand

patio

Die skepper van dié mooi vetplantstrook het gruisklippies gebruik om die grond te bedek en om ’n kontrasterende tekstuur met die gladde stoepoppervlak te vorm. (Foto gespeld van blog.desingpublic.com)

Vetplant-waterval

succulent waterfall

Die potte is op mekaar gestapel en word uit mekaar gehou met ’n onderstebo gedraaide potjie. Almal is gevul met ’n heerlike deurmekaarspul vetplante. So mooi vir ’n stoep of binnehof. ( Foto gespeld van ilvegardens.tumblr.com)

Vul die krake

between sleepers

Jy kan lae vetplante in die kleinste ruimtes indruk. Dié tuintjie tussen twee stroke sement laat ’n mens amper aan bonsai dink, en die mini-rots sorg vir ’n interessante kinkel. Dis ’n goeie idee vir ou treinspoor-dwarsleêers ook. (Foto gespeld van goldclover.hamazo.tv)

Voëlhok-terrariums

Birdcages

Ek is gek oor dié ingehokte minituintjies. En ’n mens kan hulle selfs as tafelversierings gebruik as jy buite onthaal. (Foto’s gespeld van  dishfunctionaldesigns.blogspot.com en coco stitch op flickr.com)

Aweregse houers

canned succulents

Omdat hulle so min water nodig het, kan jy omtrent enige houer gebruik vir die vetplante wat jy binnenshuis uitstal. Helder blikke lyk mooi, maar jy kan ook teekoppies, bakke, kratte, strandemmertjies, ou kombuispotte of selfs soplepels gebruik – die moontlikhede is eindeloos. Maak seker jy gee nie te veel water nie. (Foto oorgespeld deur Anne-Laure Bouton)

Sê dit met ’n vetplant Wedding Troublomme met ’n verskil. Dié bruidsruiker, knoopsgatruiker, geskenkies en tafelversierings is net ’n paar van die idees wat jy op Pinterest sal kry vir die gebruik van vetplante by ’n troue. Die gaste kan die tafeldekor saamneem huis toe en gaan plant as ’n voortdurende herinnering aan jou groot dag. (Foto’s regsom van links bo gespeld van: weddingswithzsazsa.tumblr.com, thelittlefrenchbullblog.tumblr.com, fionaleahy.com, marthastewartweddings.com, chicmeetshealthy.blogspot.com) WENK Hierdie skakel was vir my interessant. Dit het inligting oor hoe om jou vetplante te versorg en ’n lys van 10 gewilde variëteite. http://gardening.about.com/od/choosingperennialplants/tp/Succulents.htm HET JY MOOI VETPLANTE?

Het jy foto's van jou eie vetplanttuin of -tentoonstelling wat jy met ons Pinterest-volgelinge wil deel? E-pos dit gerus aan my by  asteyn@media24.com.

– Alfie Steyn

Volg Huisgenoot op Pinterest

Kyk na Alfie se ander Pinterest-gunstelinge by:

8 idees vir jou eie prentegalery

6 pragtig gedekte tafels

10 planne met ou kaarte

5 planne met ou koffers

5 idees vir werkhoekies

Hoe lyk dit met cilantro? Of arugula?

Vyf blink planne op Pinterest: trosligte

Inspirasie van Pinterest vir ’n gesonder jy