Weet jy wat ’n skanskorf is? Boere sal jou vertel dis strukture wat met erosie klaarspeel, maar skanskorwe kan jou tuin ook fantasties laat lyk, soos ons Pinterest-blogger vandeesweek uitgevind het.

Klipskanse

EK WAS nog altyd mal oor skanskorwe – daardie draadhokke vol klippe wat erosie in rivierbeddings moet beveg of as keermure langs paaie ingespan word. My gesin spot my trouens graag wanneer ons iewers heen ry. “O kyk,” sal hulle in ’n koortjie sê asof ons in die wildtuin rondry en ’n leeu gewaar, “daar’s ’n kéérmuur!”

Wel, Pinterest het hierdie week gewys dat ander mense dieselfde onberispelike smaak as ek het, en dis heerlik om dit met jou te deel. En dit laat my ook net ’n klein bietjie selfvoldaan voel . . .

Hou my terug

[caption id="attachment_60199" align="alignnone" width="300"]Foto oorgespeld van Badec Bros Deco (in Pretoria), via Flickr Foto oorgespeld van Badec Bros Deco (in Pretoria), via Flickr[/caption]

’n Terras-tuin word met rye skanskorwe netjies op sy plek gehou. Dié slim strukture is gemaak van draadhokke (wat in die bedryf mandjies genoem word), wat dan gevul word met klippe van verskillende groottes en kleure om die gevoel te skep waarna jy op soek is.

Rotskuns

[caption id="attachment_60202" align="alignnone" width="400"]Foto’s oorgespeld van inspiredexteriors.com.au (links) en beachcomber26.blogspot.com Foto’s oorgespeld van inspiredexteriors.com.au (links) en beachcomber26.blogspot.com[/caption]

Hulle is deels klipkuns, deels industriële sjiek. Ek is gek oor die skanskorwe links met die klip-tafelblad en dwarslêer-sitplekke. Die verskillende kleure klip lyk fantasties saam met die baksteenplaveisel. Aan die ander kant vorm die wit rivierklippe wat vir die sitplek regs gebruik is, ’n mooi kontras met die sterk muurkleur.

Stadig oor die klippe

[caption id="attachment_60201" align="alignnone" width="400"]Foto’s oorgespeld van landscapingnetwork.com Foto’s oorgespeld van landscapingnetwork.com[/caption]

Hierdie lae skanskorf-muur is tweedoelig: Dit omsingel die bedding en skei dit van die patio, en dit kan ook as sitplek ingespan word wanneer julle buite kuier. Dit was slim om die fontein in die middel van die bedding met dieselfde klippe as die skanskorf te omring, en ek is mal oor die klipvoortjie tussen die patio en die paadjie.

[caption id="attachment_60200" align="alignnone" width="400"]Foto oorgespeld van houzz.com Foto oorgespeld van houzz.com[/caption]

Nog ’n lieflike gebruik van ’n skanskorfmuur. Die klip pas perfek by die potplante – dit lyk regtig of hulle saamhoort.

Rotsvaste pilare

[caption id="attachment_60197" align="alignnone" width="400"]Foto’s oorgespeld van floradoragardens.blogspot.com (links) en justimagine-ddoc.com Foto’s oorgespeld van floradoragardens.blogspot.com (links) en justimagine-ddoc.com[/caption]

Gebruik skanskorf-pilare op hul eie of in pare as staanders vir potplante. Of rangskik ’n groepie pilare van verskillende hoogtes om vetplantpotte op uit te stal – dit verskaf kitshoogte aan laaggroeiende plante. Die strukture is omgewingsvriendelik en maklik om te onderhou – jy verdien dus ook ’n paar groen punte.

Opgedam

[caption id="attachment_60198" align="alignnone" width="300"]Foto oorgespeld van manufactum.com  Foto oorgespeld van manufactum.com[/caption]

Die dammetjie het ’n mooi fontein en is met plastiek uitgevoer, en die dun skanskorf-muur rondom gee dit ’n lekker plaasgevoel.

Nog koel waterversierings

[caption id="attachment_60195" align="alignnone" width="450"]Foto’s oorgespeld van expli.ce (links) en Badec Bros Deco (in Pretoria) Foto’s oorgespeld van expli.ce (links) en Badec Bros Deco (in Pretoria)[/caption]

Twee style vir ’n fontein wat oor ’n skanskorf-pilaar spoel: een landelik, die ander meer gesofistikeerd. Die fonteine werk taamlik eenvoudig: ’n pyp word in die middel van elke pilaar geplaas voor dit vol klippe gestapel word. Die pyp is vas aan ’n pomp wat water uit die onderste dammetjie trek.

Wees uitspattig

[caption id="attachment_60203" align="alignnone" width="300"]Foto oorgespeld van Badec Bros Deco (Pretoria) Foto oorgespeld van Badec Bros Deco (Pretoria)[/caption]

Wat ’n stylvolle manier om privaatheid te verseker en dan nog bederf te word deur die strelende klank van lopende water! Die Pretoriase landskapsdeskundiges Badec Bros Deco is verantwoordelik vir hierdie muurfontein, wat sekerlik een van die weelderigste maniere is om skanskorwe in jou tuin te gebruik.

– Alfie Steyn

Alfie Alfie Steyn is Huisgenoot en YOU se produksieredakteur en ook ’n geesdriftige selfdoener. Sy is verantwoordelik vir Huisgenoot en YOU se dekor- en selfdoeninskrywings op die sosiale netwerktuiste Pinterest.

Volg Huisgenoot op Pinterest