Main

SIT ek toe mos verlede Saterdagmiddag tussen ’n jillende skare. En nie op ’n rugbypaviljoen in Nuweland nie, maar by die prysuitdeling van die spel-eindronde van Woorde Open Wêrelde (Wow) in Stellenbosch. En van heinde en ver het die kinders gekom om aan die spelkompetisie deel te neem. Hulle is met bussies uit die Noord-Kaap aangery, en die Gautengers en Noordwesters het Kaap toe gevlieg vir die dag. Leerders van Affies in Pretoria, Upington, Hermanus, Middelburg . . . almal blink gepoets in hul skooldrag en hul voorkop op ’n plooi getrek van spellyste leer. ’n Spelkompetisie is nie kinderspeletjies nie. . .

Ek wou aanvanklik net ’n toeskouer wees soos dit ’n lid van die ewig kritiese media betaam, maar die ywerige Fiona van Kerwel en Shireen Crotz, die organiseerders van die Wow-spelkompetisie, wou niks weet nie. Hulle het nog ’n “sinmaker” gekort in een van die hoërskoollokale en ek is sonder seremonie ingespan. Op hierdie punt moet ek dalk verduidelik hoe ’n spelkompetisie werk:

Die skole kry vooraf lyste van woorde wat die kinders moet leer. Die lyste is deur vakadviseurs na aanleiding van die nuwe leerplan  opgestel. Vir die heel klein outjies in die grondslagfase (graad 1-3) is daar so 250 woorde, en dan word dit geleidelik meer. Van die senior leerders in graad 10 word al ’n stewige 1 000 woorde verwag. Die kinders het reeds aan streeks- en provinsiale rondes deelgeneem teen die tyd dat hulle op 19 Oktober in Stellenbosch aangetree het vir die eindronde.

[caption id="attachment_57415" align="alignnone" width="600"]Regsom van links bo: die wenners van die kategorieë vir gr. 1, gr. 2, gr. 3 en gr. 4 Regsom van links bo: die wenners van die kategorieë vir gr. 1, gr. 2, gr. 3 en gr. 4[/caption]

Nadat hulle volgens hul grade in verskillende lokale ingedeel is, gaan die aankondiger op die ry af: ’n Woord word hardop uitgelees, waarop die kind die woord vir die gehoor moet spel. (“En geen gekug of gevroetel in die gehoor nie, dankie,” maan die hoofbeoordelaar.) As die kind onseker is van die spelling, mag hy of sy die woordsoort sowel as ’n verklarende sin van die “sinmaker” vra (ek!), aangesien “lyer” en “leier” byvoorbeeld verskillende spelwyses het. Maar dit alles moet binne 30 sekondes geskied, anders lui die tydhouer sy klokkie en is jy uitgeknikker.

As ’n kind vashaak terwyl hy spel, moet hy duidelik te kenne dat hy weer begin spel, anders spel hy ’n deel van die woord twee keer en is dit neusie verby tot volgende jaar.

[caption id="attachment_57414" align="alignnone" width="600"]Regsom, van bo links: Die wenners in die kategorieë vir gfr. 5, gr. 6, gr. 8 en gr. 7 Regsom, van bo links: Die wenners in die kategorieë vir gr. 5, gr. 6, gr. 8 en gr. 7. Agter hulle staan prof. Johan Hattingh (dekaan van die fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe van die Universiteit Stellenbosch, wat die spelkompetisie gehuisves het) en prof. Dorothea van Zyl (voorsitter van die Woordfees, waarvan die spelkompetisie deel uitmaak).
[/caption]

As die woord klaar gespel is, lig die beoordelaars ’n groen, geel of rooi kaart omhoog. Groen beteken jy is reg en steeds in die kompetisie, rooi beteken jy is verkeerd en uitgeskakel, en in enkele gevalle word die geel bord gelig. Dit beteken die beoordelaars stem nie saam of die deelnemer reg of verkeerd is nie.

Jy rol verniet die oë . . . Hoewel die beoordelaars saamstem oor die korrekte spelling van die woord, hóór die een beoordelaar byvoorbeeld dat die kind ’n “i” gesê het, terwyl die ander een voet by stuk hou die deelnemer het ’n “e” gesê. En dis nie die Olimpiese Spele nie, die kind kan bloot ’n nuwe woord kry om te spel, dan is almal gelukkig. Ek het in ’n stadium so begeesterd geraak dat ek ook entoesiasties begin meedoen het aan die debat oor of die kind ’n ekstra “e” uitgespreek het of nie, en die hoofbeoordelaar moes my betig: “Juffrou, jy moet nét sinne maak . . .”

[caption id="attachment_57413" align="alignnone" width="600"]Die wenners in die kategorieë vir gr. 9 (links) en 10. Die wenners in die kategorieë vir gr. 9 (links) en 10.[/caption]

Hoewel ek papnat gesweet was van sinne in my kop oefen, het deelnemers (graad 9 en 10) net twee keer op my nommer gedruk. Ek was genadiglik gereed om sinne te maak van “paralities” en “ekumenies”. Ek was byna “paralities” van angstigheid!

Die kinders word een-een uitgeskakel wanneer hulle ’n fout maak (daar is géén genade in die eindronde nie), maar dit duur ’n hele ruk om ’n wenner aan te wys omdat die kinders hul werk goed ken en ure lank spel sonder om ’n glips te maak. Op die ou end is die verskil tussen die topdeelnemers baie, baie klein.

Die prysuitdeling later die dag was ’n belewenis soos min, met die Noord-Kapenaars wat die “geesbeker” verdien het met hul entoesiastiese toejuiging van hul wenners. Jy kan nie help om trots te wees op die kinders nie, soos Luthando Pita van die primêre skool Dr. Izak Van Niekerk in die Noord-Kaap wat tweede was onder die graad 7’s – terwyl Afrikaans sy derde taal is! Die wenners is beloon met ’n boekprys, medalje, ’n balkie wat op die skooluniform vasgespeld kan word, en ’n bietjie kontant.

My uitnodiging aan almal wat skepties is oor die onderwys en glo alle kinders vang deesdae sothede op die skoolterrein aan sodat hul maats dit met selfone kan afneem, is om volgende jaar die eindronde van die spelkompetisie by te woon. En jou spelvermoë teen dié belese buksies te toets. Jy kry dalk skaam . . .

So lyk die volledige lys wenners:

Wennersgeraam

  •  Die Wow-spelkompetisie word tans in sewe provinsies aangebied. As jou skool graag wil deelneem, stuur ’n e-pos na Fiona van Kerwel by wow@sun.ac.za.

- Gerda Engelbrecht

178378_4951877514018_224353050_o Gerda Engelbrecht is Huisgenoot, YOU en Drum se redakteur: onderwys en ’n subredakteur by Huisgenoot-handelsmerkuitbreidings. Sy verdien haar brood en botter met haar spelvermoë . . .