Daar is ongelukkig geen formule om vinnig ryk te word nie en om te werk is natuurlik ook nie speletjies nie. “Een van die moeilikste lesse in die lewe is dat jy soms goed gaan moet doen waarvan jy nie hou nie. Jy gaan ook saam met mense moet werk wat nie noodwendig jou vriende is nie. Dis moeilik. Die lewe is nie maklik nie,” sê Alex aan die Dream School-leerders.

Maar daar is goeie nuus: Enigiemand kan suksesvol wees. Boonop is ’n universiteitsgraad nie ’n voorvereiste nie.

Maak ’n sukses van jou onderneming

  • Wat weet jy? Wees bewus van wat jy weet en wat nie. Jy moet werk maak daarvan om uit te vind wat nodig is om jou spesifieke doelwit te bereik. Praat met mense in die bedryf en doen deeglik navorsing.
  • Vra altyd hoekom. Wees nuuskierig en vra uit! Daar is nie so iets soos ’n dom vraag nie. Jy sal dalk verbaas wees oor hoeveel mense bereid is om jou te help – vir mahala!
  • Moet nooit ophou leer nie. Moet nooit dink jy weet alles nie – daar is altyd iets nuuts om te ontdek. Enigiemand kan vir jou ’n leermeester wees.
  • Leer uit ander se foute. Veral as jy nog jonk is, is dit ’n goeie idee om ’n mentor te hê – iemand wat jou touwys kan maak en uit jou uit hul ervaring lesse kan leer. Om self al die taai lesse in die sakewêreld te leer is duur; kry liewer pitkos uit ander se ervarings.
  • Jou houding bepaal alles. Moenie dat jou agtergrond of uitdagings ’n verskoning raak nie. Baie suksesvolle mense moes talle struikelblokke oorkom om sukses te behaal. “Ja, ek kan!” behoort altyd jou houding te wees.
  • Jy sal hard moet werk. Werk is nie kinderspeletjies nie – harde werk is al wat jou bo jou mededingers sal laat uitstyg. Daar is geen plaasvervanger daarvoor nie!
  • Wat is jou waardes? Maak seker jou dade wys jy is betroubaar, eerlik en pligsgetrou. En wees betyds! Die wêreld gaan nie wag tot jy jou sokkies opgetrek het nie.
  • Byt vas. Moenie tou opgooi nie, selfs al is dit moeilik. Die lewe is vol teleurstellings. As jy sukses wil behaal, soek ’n manier om iets uit daardie teleurstellings te leer en dit in ’n sukses verander.
  • Wees spaarsamig. Moenie onnodig spandabel wees nie, veral wanneer jy ’n onderneming begin. Wees ook versigtig om skuld aan te gaan. As jy bespaar, leer dit jou dissipline.
  • Kommunikeer. Praat met mense en loof hulle vir goeie werk. Mense geniet dit om saam te werk met mense wat hul behoeftes duidelik oordra en harde werk kan raaksien.
  • Beoefen diversiteit. Ons almal hou van mense wat nes ons dink, maar dis nodig om na meer as een mening te luister. Jy het nooit al die antwoorde nie, maar dalk kan iemand met ’n ander blik op die lewe met ’n interessante oplossing of idee vorendag kom.
  • Ondernemings gaan oor mense. Om ’n suksesvolle onderneming te bestuur moet jy mense hê wat jy kan vertrou om die werk gedoen te kry. Ondernemings gaan nie bloot oor geld of ontledingstate nie, dit gaan oor verhoudings.

Shané Barnard

Vir nog wenke oor watter eienskappe jy nodig het om ’n suksesvolle entrepreneur te wees, laai ons PDF af.

KLIK HIER om bl.1 af te laai.

KLIK HIER om bl. 2 af te laai.