Hulle noem dit My Monster & Me en deel die foto’s op www.annaangenend.com.

Die fotograaf Anna Angenend is deur haar driejarige dogtertjie, Mia, geïnspireer om die reeks saam met haar illustreerder-vriendin, Amy Snyder (ook bekend as Amy Gets Artsy), te skep.

Een oggend, ’n paar maande gelede, het Mia vir Anna kom vertel: “My geel monster maak my ’n klein bietjie bang.” Later weer het die parmant kom vertel: “Hy is eintlik glad nie bangerig nie. Hy is ’n maatjie.” Daardie aand weer het sy opgewonde verder verduidelik hoe hy lyk: “My geel monster borsel nie sy tande nie. Hy hou van sy gaatjies [in sy tande].”

Lees ook: ‘Hulle gil, skree en baklei in hul slaap!’: Kenners gee raad as jou geliefdes aan vreesaanvalle snags ly

Dit het Anna se verbeelding saam met haar dogtertjie op loop gesit. Mia het nie veel verder gepraat oor haar verbeeldingsmaatjie nie. Anna het vir hom die naam Zasby gegee. En sy storie verder gevat: “Hy stink ’n bietjie en is aan die begin skaam, maar wil altyd nog vriende maak. Hy ondersoek jou asblikke en spring saam met jou in modderpoele. Hy bly ver weg van seep.”

Sy het Mia, twee van Amy se kinders, Irelyn (6) en Evandeline (18 maande), en ’n speelmaatjie afgeneem. Amy het dan die monstertjies geteken en dis met “Photoshop-feëtjiestof” bymekaargevoeg. Daar is: Irelyn se Wendolyn, wat nooit ’n selfie sal neem nie, maar wat sal stilsit sodat ander haar kan skilder. Max, wat sorg dat seep nie in Mia se oë kom as sy bad nie. Hy is vol energie en op die uitkyk vir pret. Hy maak gewoonlik ’n bommie in die bad en dan is alles onder water.

Melvin het dit met die hulp van die maan aarde toe gemaak en was meer as bereid om Mia te help om die maan vir ’n Nuwejaarspartytjie te nooi.

En Hot Mess Sheila is altyd naby as ’n kleuter ’n hare-noodgeval het, veral as Ma ’n poniestert te styf trek.

Waar kom hierdie maatjies vandaan?

Net ’n bietjie minder as 40 persent van kinders op sewe jaar oud skep verbeeldingsmaatjies, is deur navorsing aan die Universiteit van Oregon in Amerika bevind.

Lees ook: Ouers, só kan jy ’n liefde vir lees by jou kind help ontwikkel

In verskeie studies, soos een wat in die Journal of Experimental Child Psychology gepubliseer is, is gevind sulke kamma-maatjies kan goed wees vir die ontwikkeling van die kind. Dit is hierdie kinders se privaat gesprekke wat hulle help om later ook as volwassenes probleme op te los, verduidelik Mari Fraser, ’n opvoedkundige sielkundige van Middelburg in Mpumalanga.

Hier gee sy wenke:

Hoe hanteer ek die denkbeeldige maatjie?

  • Moenie die bestaan van die maatjie bevraagteken nie. Hanteer liewer die “gas” met die grootste agting.
  • Moenie onnodig inbreuk maak of inmeng wanneer jou kind met die maatjie speel nie.
  • Ontspan en geniet jou kind se denkbeeldige maatjie. Vra uit oor die “maatjie”. Op so ’n manier ontdek jy van jou kind se belangstellings, begeertes, vrese en onsekerhede. Hou saam ’n dagboek van al die onthullings.
  • Moenie toelaat dat die denkbeeldige maatjie oorneem en die huishouding ontwrig nie. Laat jou kind die huisreëls aan sy “maatjie” oordra.